Sunday, October 27, 2013

Preek 27 Oktober 2013


Dankbaarheidsfees
Lukas 17: 11-19

Ek wil begin met ‘n storie. Lank, lank gelede het God sy 2 hoofengele ingeroep om vir hulle ‘n baie spesiale taak te gee. God het vir hulle baie mooi verduidelik wat hulle moes gaan doen. Hulle moes aarde toe gaan en Gabriël moes al die dankie-sê gebede bymekaar maak en terugbring. Migael moes al die asseblief-Here gebede bymekaarmaak en terug bring.
Hulle is toe daar weg, elkeen met ‘n mandjie om die gebede te gaan haal. Gabriël wat die dankie-sê gebede bymekaar moes maak het ‘n baie groot mandjie saamgevat.
Hy het vir Migael gesê: “ek vat die grootste mandjie saam, want God is mos baie goed vir die mense, so ek dink my mandjie gaan oorloop van al die dankie-sê gebede”.
Migael antwoord toe: “ek stem saam, daarom neem ek ‘n kleiner mandjie saam. God is so goed vir die mense, hulle sal sekerlik nie baie vir Hom vra nie.”
Hulle is toe af aarde toe. Migael het geloop en gehoor hoe die mense die een na die ander ding vir God vra. Later het sy mandjie begin oorloop van al die vra-gebede. Daar was later nie meer plek nie en hy het begin om die gebede in sy sake te steek en selfs aan sy vlerke vas te maak.
Intussen het Gabriel al meer bekommerd geraak, want sy mandjie het maar leeg gebly. Hier en daar het mense onthou om dankie te sê.  
Toe hulle terugkom in die hemel met hulle mandjies het altwee hartseer gevoel dat mense so maklik kan vergeet om vir God dankie te sê.

In die Bybel is daar ‘n storie oor mense wat vergeet het om dankie te sê vir iets wat Jesus vir hulle gedoen het. Lees Lukas 17:11-19.

Jesus genees die 10 mans van melaatsheid, maar net een van die tien kom terug om vir Jesus dankie te sê. En dis nogal die Samaritaan ook. Die Jode het neergesien op die Samaritane, maar Jesus maak die Samaritaan die held in die verhaal.
Geen wonder Jesus vra half verontwaardig: “was daar nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege dan?

Ek kan net dink wat hulle verskonings was:
·         Ek wil eers sien of die genesing gaan hou
·         Ek het waarskynlik nooit eers melaatsheid gehad nie
·         Om mense te genees is mos Jesus se werk – hoekom moet ek dankie sê
·         Jesus het nie veel gedoen nie
·         Enige rabbi kon dit gedoen het
·         Ek was in elk geval besig om beter te raak
·         Ek sal later tyd maak om vir Jesus dankie te sê

Een van die eerste goed wat my ma my geleer het was om asseblief en dankie te sê. Dis vandag nog net so belangrik om dankie te sê, maar dis asof ons so maklik vergeet en so vol verskonings is. Ek dink ons is meer dikwels soos die nege wat nie omgedraai het om dankie te sê nie. In plaas daarvan dat ons soos die een is wat wel omgedraai het. Dit terwyl dankbare mense gelukkiger mense is. 

Miskien sal hierdie volgende clip ons weer herinner daaraan om dankie te sê. Eers so bietjie agtergrond. Dis deel van ‘n filmprojek genoem Everyone Matters. Dis word gedoen deur Louie Schwartzberg. Hy is baie bekend vir Time-lapse fotografie. Dis nou die fotografie waar jy byvoorbeeld blomme stadig sien oopgaan of skoenlappers sien vlieg. Dis ‘n lang proses om dit te doen. Jy moet baie geduld hê daarvoor.  

Kom ons kyk daarna: https://www.youtube.com/watch?v=4115qFsdWKQ

Neem gou ‘n oomblik en dink waarvoor is jy vanoggend dankbaar.
As jy jou gedagtes agtermekaar het - Sê dit gou vir iemand wat naby aan jou sit. Ouers en kinders, vriende, vriendelike vreemdeling of dink net op jou eie.

Gebed

Gee kans om koeverte met dankbaarheidsoffers in mandjies te gooi.

Nagmaal as teken van dankbaarheid








No comments:

Post a Comment