Sunday, October 26, 2014

12 Oktober - Jy is genooi! RSVP asseblief!

Matteus 22: 1-14
Jy is genooi! RSVP asseblief!

Hierdie is ‘n moeilik teksgedeelte. Dit vertel van ‘n koning (God) wat ‘n bruilofsfees vir sy seun hou. ‘n Lekker partytjie. Baie gaste word uitgenooi. Die gaste verwys na die Jode wat nie vir Jesus ernstig geneem het nie. Maar hulle kies om nie die fees by te woon nie. Hulle het ander goed wat vir hulle belangriker is.
Dan word die fees oopgegooi vir alle mense – goeies en slegte. En hulle almal kom.
Tog is daar dan ‘n persoon wat uitgegooi word omdat hy nie die regte klere aan het nie. So hy word uitgenooi, maar hy moet ook die regte klere aanhê, anders kan hy nie partytjie hou nie.
Voorwaar ‘n moeilike teks om te verstaan. Daarom het ek gedink ek gaan ‘n storie vertel om dit te verduidelik.

’n Bedelaar het net buitekant die paleis gebedel. Eendag sien hy ’n plakkaat op die hek van die paleis: “Koning gee groot banket. Al voorwaarde is dat almal in koninklike klere moet kom”.
Die bedelaar kyk na die ou, stukkende klere aan sy lyf, sug swaar en gaan toe maar weer sy gang. “Verseker is dit tog net koninklikes en hul families wat koninklike klere dra,” dink hy.
Maar die gedagte wil hom nie los nie. Moet hy nie maar tog die kans vat en met sy ou klere gaan nie.
Hy gaan terug na die paleis se hek en vra die wag of hy die koning kan sien. Die wag is daar weg en na ‘n paar minute is hy terug: “Kom saam, die koning sal jou sien.”
“Waarmee kan ek jou help?” vra die koning beleef aan die bedelaar.
“U Majesteit, ek wil graag na u banket toe kom, maar ek het geen koninklike klere om te dra nie. As ek so voorbarig mag wees, mag ek een van u ou kledingstukke kry, sodat ek ook na die banket kan kom?”

Die bedelaar bewe so kwaai dat hy glad nie die koning se breë glimlag raaksien nie. “Jy was verstandig om my te kom sien. My seun, die prins, sal vir jou die regte klere gee.”
Die koning draai na sy seun toe en sê: “Neem hom na jou kamer en gee vir hom klere.”
Kort voor lank staan die bedelaar voor die spieël en pronk met sy koninklike klere. “Jy kwalifiseer nou om môreaand se banket by te woon,” sê die prins. “En nooit, ooit weer sal jy ander klere nodig hê nie, want dié wat ek nou vir jou gegee het, sal vir altyd hou. Daarom sal jy altyd soos een van ons wees.”
Die bedelaar val op sy knieë neer. “Dankie, dankie!”
Terwyl hy by die kamer uitstap, kyk hy terug na sy hopie vodde klere op die vloer. Sê nou die prins is verkeerd? Sê nou hy kry sy ou klere miskien tog weer nodig?  Vinnig-vinnig tel hy dit op.

Die banket is groter en beter as wat hy ooit kon dink of droom, maar die bedelaar kry dit net nie reg om dit te geniet nie. Sy bondel vodde wat hy maar oral saam met hom dra, val gedurig van sy skoot af. Die kos word vinnig aangegee van die een gas na die ander. En elke keer wanneer hy buk om sy vodde op te tel, mis hy die een of ander lekkerny ...

Uiteindelik bewys die tyd dat die prins reg was. Die koninklike klere wat hy vir die bedelaar gegee het, hou en hou en hou. Maar die probleem is dat die bedelaar al hoe meer geheg raak aan sy ou klere. Hy sleep dit oral saam. En dit maak dat hy niks kan doen nie, want hy het heeltyd die klere in sy hande. Later sien die mense nie eens meer sy koninklike klere raak nie, net die ou klere in sy hand.

Die bedelaar word oud. Toe hy op sterwe lê, kom besoek die koning hom. Die bedelaar sien onmiddellik die hartseer op die koning se gesig toe hy na die bondeltjie vodde op die vloer staar. Skielik onthou die bedelaar die prins se woorde en besef: Sy gehegtheid aan sy ou, vodde klere het hom ’n leeftyd van koninklikheid gekos. Hy begin onbedaarlik huil oor sy onnoselheid en kortsigtigheid.
En die koning huil saam met hom.

Met dit in gedagte wil ek net so paar goed in die teks uitlig.
Die uitnodiging is ‘n uitnodiging na ‘n vreugdefees. Thomas Aquinas het gesê: “God is pure vreugde en pure vreugde vereis geselskap.”
Christenskap is ‘n saak van blydskap. Tog lyk dit nie altyd so by sommige christene nie. Dis nie ‘n oppervlakkige blydskap nie. Dis blydskap selfs al is my omstandighede nie lekker nie, want jy weet God is by jou. Dis ‘n uitnodiging na blydskap saam met God.

Hoe lyk ons prioriteite? Die eerste uitgenooides daag nie by die fees op nie, want hulle het ‘n stuk grond om na te kyk en ‘n werkplek om na toe te gaan. Hulle het dus ander goed gehad wat belangriker was as God se uitnodiging. Iemand het eenkeer gesê jy kan so besig wees om ‘n lewe te maak, dat jy vergeet om ‘n lewe te hê. Ek wil dit nog verder uitbrei – mens kan so besig wees om ‘n lewe te maak en dit te geniet dat jy vergeet dat God jou geroep het en wil hê jy moet ‘n verskil maak.
So, hoe lyk my prioriteite? Is daar goed wat alewig belangriker is as God en sy uitnodiging en sy kerk?

Alle mense word genooi na God se partytjie. Die goeies en die slegtes word uitgenooi.
Die verhaal leer ook vir ons dat God se genade vir almal is. Selfs die eerste uitgenooides wat nie opgedaag het nie – word nog ‘n keer uitgenooi.  Daar is nie vereistes of voorwaardes vir die partytjie nie. Al wat belangrik is – is of jy dit aanvaar of nie.

Tog is dit interessant om raak te sien – dis nie net ‘n uitnodiging aan die goeies en slegtes nie. Die slawe word uitgestuur om hulle te gaan soek. Dis intensioneel. Dis doelbewus. Hulle gaan haal die mense. Dit laat my dink aan die kerk, ons gemeente. Dis baie maklik om te sê – almal is welkom. Maar die teks challenge ons om nie net te sê almal is welkom nie, maar om hulle te gaan haal en na die kerk toe te bring. Dis iets wat ons moet gaan doen en dis moeiliker.

En dan is daar natuurlik ook die vraag – is ons regtig oop vir die goeies en die slegtes? Ek dink ons is baie oop vir die goeies, maar ek is nie altyd so seker of ons so oop is vir die slegtes nie. Dis mos maklik om oop te wees vir mense wat soos ons is, maar dis moeiliker om oop te wees vir die mense wat nie soos ons is nie – die homeless mense, die verslaafdes.
So, die teks challenge ons…dit vra:
Wat doen ons om mense uit te nooi?
Wie nooi ons uit – net die goeies? Of is ons ook bereid om die slegtes uit te nooi?

Daar is tog ook ‘n dress code. Ons lees van die ou wat in die moeilikheid was omdat hy nie reg aangetrek was vir die partytjie nie. Hieruit leer ons dat genade gratis en verniet is, maar nie goedkoop nie. Om op te daag by die partytjie is nie genoeg nie, jy moet ook bereid wees om te dien. Jy moet bereid wees om vir God en jou naaste lief te wees.
Die klere wat ons aantrek, die dress code van ‘n gelowige - is liefde, barmhartigheid en diens aan jou naaste. Ons doen dit nie omdat ons in die hemel wil kom of genade wil verdien nie, maar omdat ons dankbaar is vir genade en klaar weet dat ons in die hemel gaan kom. Om ja te sê vir God se uitnodiging is belangrik, maar dan sê jy ook ja vir diens aan jou naaste. Dis die klere wat ons aantrek.
So dit gaan ook hier oor die vraag: is ek reg om te dien? Is ek reg om oop te wees vir ander mense?

Vir die Jode was dit ondenkbaar dat die goeies en die slegtes by God se fees kon wees. Volgens hulle is daar net plek vir die goeies. En hulle het gedink hulle weet wie God is en wie by God welkom sal wees. Dit sou net mense wees wat reg lewe.

In die koninkryk van God kies mense nie wie in en wie uit is nie. Ons mede partytjie gangers word aan ons geskenk. En ek het ‘n vermoede ons gaan verbaas wees wie daar is. Daar gaan mense wees wat in ons oë goeies en slegtes is. Daarom moet ons alle mense dien en eerder mense insluit as uitsluit. Dis deel van ons roeping. Dis die klere wat ons moet aantrek.

No comments:

Post a Comment