Sunday, October 26, 2014

19 Oktober - "Vir God en vadeland"

Matteus 22: 15-22
“Vir God en vaderland”

My twee broers het op skool een vakansie vir sakgeld by die Yzerfontein karavaanpark gewerk. Hulle het die hek beman om te sorg dat daar nie ongewenste mense by die park inkom nie. Die oom wat op daai stadium die opsigter was het hulle gewaarsku om wakker te wees by die hek, want die mens is ‘n skelm ding. As ek so kyk na wat alles in ons land aangaan dan voel dit vir my die oom was reg. Die mens is ‘n skelm ding.

Ek lees in die week ‘n interressante onderhoud met die ekonoom Dawie Roodt waarin hy sê dat ons regering besig is om kapitaal te verwoes deur die manier hoe geld spandeer en gemors word. Hy sê die regering kry inkomste deur belasting, maar spandeer meer as wat hulle inkry. Hy gebruik ‘n interessante beeld om dit te verduidelik.
Iemand leen geld om ‘n kamer aan te bou vir ‘n nuwe baba. Dis ‘n positiewe uitgawe, want dit verhoog die waarde van jou huis. So dis goed, gaan maak die baba. As jy egter daai geld leen om die kamer aan te bou en dan gebruik jy die helfte om Mauritius toe gaan om die baba te maak, dan is dit nie ‘n goeie uitgawe nie. 
Hy sê, dis wat in RSA gebeur. Die regering leen R200bn en spandeer die helfte daarvan aan die nuwe kamer en die ander helfte om Mauritius toe te gaan. En dan moet hy weer geld leen om die helfte wat vir Mauritius gebruik is aan te vul. So hou die skuld net aan groei. Niks word gespaar nie. So, die regering is besig om more se geld vandag te spandeer.

Dink aan al die dienslewering betogings wat ons in ons land beleef. Baie daarvan is omdat dienste nie gelewer word nie, as gevolg van korrupsie deur staatsamptenare. Dit maak dat mense al hoe meet gefrustreerd raak en dan op ‘n stadium bars die bom en hulle kom in opstand.

Maar dis nie net die staat wat korrupsie pleeg of geld wanbestee nie. Dis ook gewone landsburgers soos ons wat dit doen. Soos mense wat met hulle belasting kul. 
Dis soos die aand van 15 April 1987 in Amerika toe 7 miljoen kinders oornag verdwyn het. Die belastinggaarder in Amerika het ‘n belastingreël verander wat daai dag ingeskop het. Voor daai datum kon mense net die naam van hulle afhanklike kinders op hulle belastingvorms invul. Na 15 April moes hulle die name en ID nommers van hulle kinders invul. En toe die son die volgende oggend opkom was daar skielik 7 miljoen minder kinders in Amerika.

Soos die oom vir my broers gesê het – die mens is ‘n skelm ding. Vanoggend se teks help ons hiermee.

Lees die teks.

As julle gedink het al ons belastings is erg -  in die Romeinse samelewing was daar baie belastings. Belastings op hulle besittings, handelsbelasting, pad- en hawebelastings en ook sensusbelasting, waaroor die mense baie ongelukkig was. Elke persoon in Judea moes jaarliks individuele of persoonlike belasting aan die Romeinse regering betaal. Die Jode het hierdie belastings gehaat – hulle het gevoel dat hulle geld wat na God toe moes gaan nou aan die keiser moes betaal. So belasting was ‘n groot issue.

So dit was eintlik baie slim van die Jode om hierdie vraag oor die belasting aan Jesus te vra, want hulle het geweet hoe sterk die Jode oor die belastings gevoel het. Dit was ‘n strikvraag om Jesus uit te vang. As Jesus geantwoord het dat hulle wel belasting moet betaal, kon hulle die Jode teen Hom laat draai het. As Hy sê hulle moenie belasting betaal nie, sou die Herodiane Hom aangee by die Romeinse owerheid. Dit het gelyk soos ‘n catch 22 situasie vir Jesus. Na albei kante toe was Hy in die moeilikheid.

Maar Jesus se antwoord is briljant. Gee vir die keiser wat hy moet kry – daarmee stel hy die Herodiane tervrede. Gee vir God wat God moet kry – daarmee stel Hy die Jode tevrede. Op hierdie manier sorteer Jesus die Fariseërs en die Herodiane uit. Kom ons unpack gou Jesus se antwoord.

Jesus sê – gee aan die keiser wat aan hom behoort. So ja, ons moet belasting betaal. Ons het ‘n verantwoordelikheid om belasting aan die regering te betaal. Dis nie altyd lekker nie en die regering maak foute en wanbestee dit, maar dit was maar in Jesus se tyd ook so. Dit bly ons verantwoordelikheid om belasting te betaal.

Maar dan sê Jesus ook – Gee aan God wat aan God behoort. As ons onsself gelowiges noem behoort alles wat ons is en het aan God. Dit sluit in ons prioriteite, tyd, geld en optrede teenoor ander mense. Ook die manier hoe ons ons verantwoordelikheid teenoor die regering nakom. Alles behoort aan God. Dit beteken ook dat ek in alles die wil van God sal soek.

Op hierdie manier bring Jesus die alledaagse lewe en geloof bymekaar. Hy bring politiek en geloof bymekaar. Hy bring besigheid en geloof bymekaar. Hy bring belasting en geloof bymekaar. Ons dink mos dikwels dat ons nie geloof en die alledaagse goed bymekaar moet bring nie.  Daar is politiek en daar is geloof. Daar is besigheid en daar is geloof. Dis hoekom mense byvoorbeeld iemand sal kry wat elke Sondag in kerk is en gereeld Bybel lees en bid, maar behandel sy werkers by sy besigheid baie sleg of hy is skelm met geld en belasting.

Die mense van die Bybel en Jesus ken nie so ‘n verskil nie. Politiek is deel van geloof en geloof is deel van politiek. Besigheid is deel van geloof en geloof is deel van besigheid. Die een kan nie sonder die ander nie. As jy die twee van mekaar skei, dan leef jy jou lewe in kompartemente en dan maak dit die moontlikheid van korrupsie en skelmwees baie groter. Geloof moet juis help om die alledaagse goed beter te maak. Alles behoort aan God. Elke deeltjie van my lewe behoort aan God en gebeur in God se teenwoordigheid.

Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op ons as gelowiges. Ons moet altyd vra of dit wat gebeur die wil van God is. En as dit nie is nie, moet ons iets daaraan doen. So as die regering ons belastinggeld mors, dan het ons ‘n verantwoordelikheid om iets daaraan te doen. Ons moet toesien dat die regering die belastinggeld reg aanwend. Net soos wat die staat ons aanpraat om ons belasting te betaal, so moet ons die staat verantwoordelik hou om ons belasting reg aan te wend.

Kom ek noem ‘n voorbeeld: in Molteno in die Ooskaap het die wit inwoners onlangs saam met die swart mense van die informele nedersetting vreedsaam betoog oor die slegte omstandighede waarin die mense leef. Wit en swart het saamgestaan om die munisiplaiteit verantwoordelik te hou. Dis ‘n radikale ding om te doen.
Dis hoekom ons moet stem en betrokke moet raak by aksies. Dis waar die kerk ook ‘n belangrike rol het om te speel. Ons kan nie net op facebook boodskappe plaas en om braaivleisvure kla nie.  
Die punt is: Alles behoort aan God – elke deel van my lewe – ook my belasting. En omdat alles aan God behoort het ek ‘n verantwoordelikheid as gelowige om God ook daar te verteenwoordig.


Net soos wat die afbeelding van die keiser op die muntstuk wys aan wie die muntstuk behoort. So dra ons God se afbeelding in ons. Dit wys dat ons aan God behoort. En ons moet onsself aan God gee – soos Paulus skryf in Romeine: Gee julleself as lewende en heilige offers. En ons moet elke deeltjie van ons lewe aan God gee – ons werk, ons prioriteite, geld en goed. Dit verander ons lewe. Dit bring meer liefde, meer vreugde en meer krag in ons lewens. Dit maak ons lewens betekenisvol 

No comments:

Post a Comment