Sunday, October 5, 2014

21 Sep 2014 - Verdien het niks daarmee te doen nie

Matteus 20: 1-16
“Verdien het niks daarmee te doen nie”

Vanoggend se teks is bietjie soos slegte medisyne wat jou ma vir jou gee – byvoorbeeld lewertraanolie. Jy weet die medisyne is goed vir jou. Jy vertrou die persoon wat dit vir jou gee. Maar dit maak dit nog steeds nie maklik om dit te sluk nie.

Vanoggend se teks is so, want dit gaan heeltemal in teen alles wat ons samelewing vir ons leer.

Terwyl ek lees dink jouself in die verhaal in. Met watter karakter in die verhaal identifiseer jy die meeste?

Kom ek stel dit net gou eers in perspektief.
‘n Werker werk 10 ure vir ‘n R100. So dit is R10 per uur.
Die eerste werkers begin  8:00 en werk tot 18:00 vir R100.
Die tweede groep begin 9:00 en werk tot 18:00 vir R90.
Die derde groep begin 12:00 en werk tot 18:00 vir R60.
Die vierde groep begin 15:00 en werk tot 18:00 vir R30.
Jy spaar dus R210 as jy die werkers presies per uur betaal. Maar dis nie hoe die gelykenis werk nie. Die baas betaal almal R100 – of hulle nou 1 uur gewerk het of 10 ure. Dis onregverdig.  Die wat korter gewerk het kan mos nie dieselfde kry as die wat heel dag gewerk het nie. Hulle verdien dit nie.

Kyk na die volgende DVD-clip
Dis van die komediant, Louis CK wat op een van die Amerikaanse talkshows (Conan O’Brian show) ‘n gas was en dan praat hy oor hoe mense deesdae na die lewe kyk. Die titel daarvan is: “Everythings amazing, but nobody’s happy”.
Gaan kyk dit by: https://www.youtube.com/watch?v=uEY58fiSK8E

Die beste vir my is die ou op die vliegtuig wat vies is oor die Wi-fi wat breek, maar 10 sekondes gelede het hy nie eers geweet daar is Wi-fi.

Hierdie gevoel van “entitlement” is iets wat mens baie by mense teekom. Die idee dat ek verdien sekere goed. Dat ek geregtig is op seker goed.
Ek wil nie hier voor julle staan en maak asof ek nou high en mighty is hieroor nie. Ek doen dit ook.
Donderdag toe ek inligting soek vir vanoggend se preek - toe is ons internet hier by die kerk so stadig dat ek niks kan aflaai nie – toe is ek vies daaroor. Ons betaal vir die internet. Ons verdien dat dit reg is.
As ek by ‘n plek kom waar ek in ‘n lang ry moet staan, dan raak ek vies daaroor. My tyd is kosbaar.
As ‘n taxi voor my inry dan is ek vies, want ek kom dan al die verkeersreëls na en hulle doen net wat hulle wil.
Hier in die gemeente sal iemand byvoorbeeld deur ‘n moeilike tyd gaan en ons ondersteun en help hulle. En as dit dan weer beter gaan met hulle dan is hulle ewe skielik krities of ek sien hulle nie meer by die kerk nie. Dan is ek vies, want ons was dan so nice met hulle. Ons verdien nie om so behandel te word nie.
Ek is ook maar soos die arbieders in die storie wat gekla het oor die ouens wat minder gewerk het, maar dieselfde geld kry. Hulle verdien dit mos nie.

Gelukkig is ons in goeie geselskap. Die dissipels doen dit ook. In die vorige hoofstuk (Matt 19: 27 vra Petrus vir Jesus: “kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”  En net ‘n bietjie verder aan in hoofstuk 20 baklei die dissipels oor die wie dit nou eintlik verdien om aan Jesus se linker en regterhand te sit. Ek dink ons almal voel soms ons verdien iets en ons raak vies as ons dit nie het nie.

Maar weet julle, verdien het niks daarmee te doen nie. Dis wat Jesus met hierdie gelykenis wil tuisbring. Verdien het niks daarmee te doen nie. Dit het wel alles te doen met genade. In Jesus se wêreld werk dinge anders. In Sy wêreld is ons almal gelyk. Almal kry dieselfde. Dis genade – en genade is onregverdig.
Ons het ‘n vriendin wat nie gelowig is nie, omdat sy voel genade is onregverdig. Want hoe kan God genade hê vir ‘n moordenaar en verkragter en vir haar wat haar hele lewe lank ‘n goeie lewe gelei het?
Dis juis die punt: Genade is onregverdig – dis wat Jesus ons wil leer.

Soos iemand gesê het: “daar is niks wat jy kan doen om te maak dat God jou meer liefhet nie. Daar is niks wat jy kan doen wat sal maak dat God jou minder liefhet nie. God het jou onvoorwaardelik lief. PUNT. Dít is hoe Sy genade werk”.

Met hierdie gelykenis gee Jesus vir ons ‘n prentjie van God se karakter en hoe dit in die koninkryk van God werk. God se liefde is nie iets wat uitgedeel word op grond van dit wat regverdig en onregverdig is nie. Of dit wat jy verdien of nie verdien nie. God se liefde is dieselfde vir almal. Of jy nou iemand is wat jou hele lewe lank ‘n goeie lewe gelei het en of jy ‘n moordenaar of verkragter is – God se liefde is dieselfde vir ons almal. Of jy jou hele lewe die Here dien en of jy na ‘n slegte lewe op jou sterfbed tot bekering kom – God se liefde is dieselfde.

So, ek moenie vies wees wanneer my internet stadig is nie. Ek verdien nie vinnige internet nie. Ek moet eerder dankbaar wees dat ek internet het.
Ek moenie vies wees as ek in ‘n lang ry moet staan nie, want ek verdien nie om vinniger bedien te word nie.
Ek moenie kwaad raak vir die taxi bestuurder nie, want ek doen ook maar nie alles reg nie.
Ek moenie kwaad wees as ek iemand ondersteun het deur ‘n moeilike tyd en hulle tree ondankbaar op wanneer dit beter gaan nie – ek moet eerder vir hulle gun dat dit nou met hulle beter gaan.

Dis ‘n baie moeilike ding om ons koppe om te kry, want dit gaan teen alles in wat ons samelewing vir ons leer. In ons wêreld gaan dit oor wat jy verdien. Survival of the fittest. Dit wat regverdig en onregverdig is. Maar in God se wêreld het verdien niks daarmee te doen nie.


We cannot earn what God gives us; we cannot deserve it, what God gives us is given out of goodness of His heart; what God gives is not pay, but  a gift; not a reward, but grace. (William Barclay)

No comments:

Post a Comment