Sunday, August 22, 2010

Preek 22 Augustus 2010

Jesaja 58:9 -14


Julle het darem seker agtergekom dat ons die afgelope paar Sondae so ‘n kort reeksie oor tekste uit Jesaja gedoen het. Eers uit Jesaja 1: 10-20 wat gegaan het daaroor dat God moeg was vir volk se godsdienstige rituele. Hulle doen al die godsdienstige goed maar terselfdertyd laat hulle onreg, ongeregtigheid en onregverdigheid in hulle midde toe. Verlede week het gegaan oor Jes 5: 1-7 wat ook bekend staan as die wingerdlied. Dis ‘n liefdeslied van God oor sy volk. Dit het gaan oor God wat alles moontlik doen om te verseker dat die volk goeie vrugte sal dra, maar Hy kry net suur vrugte van hulle af terug. Dit het ons weer herinner daaraan dat ons ontvang genade van God af, daarom het ons ook ‘n verantwoordelikheid om genadig te gaan leef en ‘n verskil te maak in ons wêreld.

Vandag sluit ons hierdie reeksie af met Jes 58:9-14. Lees teks

Ek weet nie van julle nie maar hierdie teks maak my ongemaklik – ek hou nie daarvan nie. Want ons lees hier van die oorsaak en gevolg ding. Ons lees hier dat God sê, ons moet dit en dat doen, dan sal Hy vir ons iets doen. As ons Hom please, dan sal hy nice wees met ons.

Dit maak my ongemaklik, want dit klink darem baie middeleeus. Dit klink soos die tyd toe die Katolieke kerk, vir die mense gesê het dat hulle iets moet betaal om vergifnis en ‘n plek in die hemel te kry. Dit het Marten Luther gevat om vir ons te sê dat God se genade vir ons genoeg en verniet is. Ons hoef nie, en ons mag dit nie probeer verdien nie. Ons hoef nie vir God te probeer please nie.

Maar wat maak ons dan nou met teksgedeeltes sooos hierdie een in Jesaja? Want dit noem dan nou ‘n lysie goed wat ons kan doen om God te please? En om goeie goed van God se kant af te kry.

Wel, ek dink dit hang alles af van hoe ons dit lees. Trouens, ek dink dit hang alles af van hoe ons die hele Bybel lees.

As ons die Bybel lees as ‘n boek vol voorskrifte en wette, dan gaan ons tekste soos Jes 58 verstaan as iets waaraan ek moet voldoen om vir God gelukkig te hou en te sorg dat Hy nice goed vir my doen.

Maar daar is ‘n beter manier om die Bybel te lees. Ek moet eerder die Bybel lees as ‘n boek wat vir my gesonde waardes wil leer en vir my riglyne vir my lewe wil gee. As dit die manier is hoe ek die Bybel lees, dan doen ek die goed in die Bybel omdat ek weet dit gaan my lewe meer sinvol maak. Dan doen ek dit omdat ek weet dat God die beste vir my wil hê.

Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld. Die meeste van ons het mos een of ander tyd in ons lewens sport beoefen. Ons neem hokkie as ‘n voorbeeld. Daar is mos sekere reels waarvolgens mense hokkie speel. Die reels is nie om jou in te perk of om die skeidsregter gelukkig te hou nie, is daar om te verseker dat die spel regverdig gespeel word. Dis daar om te sorg ons mekaar nie seermaak nie. Ons kan mos nie almal maar net doen wat ons wil nie, dit sal chaos wees. Binne die reels van die spel kan jy doen wat jy wil. Net so werk dit ook met die Bybel, die riglyne wat ons in die Bybel kry, is nie bedoel om ons in te perk en die lewe vir ons moeilik te maak nie of om vir God te probeer please nie. Dit wil juis die lewe vir ons beter maak. Dit help ons juis om beter mense te wees en om beter teenoor mekaar op te tree en mekaar nie seer te maak nie. Dis waardes en riglyne om ons lewens meer sinvol te maak. Dis nie voorskrifte en wette waaraan ons moet voldoen nie, om God se guns te prober hou nie.

As ons Jesaja 58 op hierdie manier lees, dan word dit ‘n stuk wysheid wat vir ons waardes gee om die lewe beter te maak. Waardes wat ons en die mense rondom ons gesond en sterk kan maak.

So, kom ons kyk bietjie na die waardes wat Jesaja vir ons voorhou. En dis duisende jare sedert Jesaja hierdie waardes voorgehou het, maar hy kon dit net sowel vandag geskryf het :

Jy moet sorg dat die mense by jou nie verdruk word nie. Dit kan dalk by die werk wees waar iemand uitgebuit of verdruk word. Dit kan dalk wees dat jy weet van iemand wat sy vrou of kinders emosioneel of fisies verdruk. Jesaja sê ons moet sorg dat dit nie gebeur nie.

Jesaja sê mense moet nie gedreig word nie. M.a.w. mens moenie jou mag oor mense misbruik nie. Nie oor jou vrou nie, nie oor jou man nie, nie oor jou kinders nie, nie oor jou vriende of kollegas nie.

Jesaja se ook dis wys om mense nie vals te beskuldig nie. Om nie vinger te wys na mense nie, om nie rumours te versprei en mense te beskinder nie.

En sê hy ook, daar is altyd die mense tussen ons wat een of ander nood het. Mense wat ons hulp nodig het. God se mense sien mekaar se nood raak en wil iets daaraan doen.

Dis nogal opvallend dat die waardes wat Jesaja vir ons voorhou alles te doen het met die verhoudings tussen mense. So wat hy vir ons wil beklemtoon is dat ons ons verhoudings met mekaar met die skoonste en beste waardes moet aanpak.

En dan sê Jesaja, wanneer ons leef met hierdie waardes, dan word ons ook sterker mense wees.

Dan sal ons lewens soos lig wees, wat nie afgetrek word deur die donkerte van hierdie wêreld nie.

Dit sal van ons sterk mense maak, wat die slegte dinge kan weerstaan en sal opstaan vir die goeie.

Ons sal soos ‘n tuin wees wat ‘n lushof is. Soos ‘n fontein wat net die beste water voortbring en nooit droog raak nie. In die Ou Testament is ‘n tuin en ‘n fontein simbole van dit wat goed is en waar daar goeie verhoudings is en waar mense bymekaar kom en mekaar vind.

Om te leef met goeie waardes en goeie verhoudings vat jou na goeie plekke toe en maak van jou ‘n sterker mens.

Maar vers 12 het my veral aangespreek. Kom ek lees dit gou weer.

Hier sê Jesaja dat goeie waardes van ons bouers en herstellers sal maak.

As ons vir mekaar omgee, as ons mekaar nie verdruk nie, as ons mekaar se nood raaksien en iets daaraan doen, as ons mekaar nie dreig nie en mekaar nie vals beskuldig en beskinder nie – dan is ons bouers en herstellers. Mense wat positief is en nie net altyd kla en negatief en pessimisties is nie. Mense wat opbou en nie afbreek nie. Mense wat brûe en paaie bou sodat mense bymekaar kan uitkom. Mense wat veilige plekke bou waar mense kan tuiskom en veilig voel en hulleself kan wees en weer kan heel word. Goeie, positiewe waardes maak dat ons bouers en herstellers is.

Hoe ons bou is nogal belangrik. Kom ek wys gou vir julle wat Paulus daaroor skryf 1 Korintiers 3. Paulus sê dat ons fondament is Jesus Christus en die redding wat Hy deur sy genade allen vir ons gegee het. Dan sê Paulus ons het ‘n verantwoordelikheid om te bou op hierdie redding. Kom ons lees gou wat hy dan skryf oor hierdie bou en die belangrikheid daarvan. Lees vers12-15.

So, hy sê ons redding is vas niemand kan dit van ons wegvat nie, maar dis tog belangrik hoe ons bou op ons redding. Gaan ons mense wees wat positief en opbouend bou of gaan ons mense wees wat sleg bou en afbreek? Want alhoewel ons redding vas is, gaan God tog kyk hoe ons gebou op ons redding.

Ek wil afsluit met iets wat die aktrise Audrey Hepburn gesê het. Sy was iemand wat was vir goeie bouwerk. Hulle het eendag vir haar gevra vir ‘n paar skoonheidswenke. En toe sê sy die volgende:

“For attractive lips, speak words of kindness.

For lovely eyes, seek out the good in people.

For a slim figure, share your food with the hungry.

For beautiful hair, let a child run his or her fingers through it once a day.

For poise, walk with the knowledge that you never walk alone.

People, even more than things, have to be restored, renewed, revived, reclaimed and redeemed; never throw out anyone.

Remember, if you ever need a helping hand, you'll find one at the end of each of your arms. As you grow older, you will discover that you have two hands, one for helping yourself, the other for helping others.

The beauty of a woman is not in the clothes she wears, the figure that she carries, or the way she combs her hair. The beauty of a woman must be seen from, in her eyes, because that is the doorway to her heart, the place where love resides.

The beauty of a woman is not in a facial mode, but the true beauty in a woman is reflected in her soul.

It is the caring that she lovingly gives the passion that she shows.

The beauty of a woman grows with the passing years.

If you share this with another woman, something good will happen -- you will boost another woman's self esteem, and she will know that you care about her.”

No comments:

Post a Comment