Wednesday, October 13, 2010

Preek 10 Oktober 2010

Ek was hierdie week vlugtig in die moeilikheid by my goeie vrou en my skoonpa. Want ek
het vergeet om ‘n boodskap oor te dra. Of laat ek liewer sê, ek het net ‘n gedeelte van die boodskap oor gedra. Ek voel natuurlik dit was die belangrike gedeelte. Jalize was in Pretoria waar sy die heel besig was met opleiding. My skoonpa kon haar nie in die hande kry nie, so hy bel toe vir my. Hy vertel toe vir my ‘n klomp goed, onder andere dat hulle vir ‘n paar dae weggaan en dat Jalize hom nie in die hande sal kan kry nie, want daar is nie selfoonopvangs
waar hulle gaan nie. So ek moet vir Jalize net sê dat hulle Donderdag terug is en dat sy dan kan bel om reelings te tref dat hulle mekaar die aand kan sien.
Dis wat ek toe doen. Behalwe dat ek al die ander goed wat hy ook vir my gesê het, ook moes oordra, wat ek nie gedoen het nie. So toe Jalize die aand by hulle kuier, toe is sy in die verleentheid omdat daar goed is waaroor hulle praat, wat ek nie vir haar gese het nie.

Daar is ‘n uitdrukking wat lui: “The world has got a two week memory.” Ons vergeet mos
so maklik. Veral as mens so begin besig raak met alles wat elke dag moet gebeur.

CS Lewis het daarom gesê: “People need more to be reminded than instructed”


Gabriel García Márquez – skrywer wat die Nobelprys vir Letterkunde gewen het met sy boek –100 Years of Solitude. Hy skryf van die mense in ’n dorpie wat aan ’n aansteeklike siekte gely het wat vergeetagtigheid veroorsaak.  Die siekte wat soos ’n plaag onder die mense
versprei het, laat mense die mees voor die hand liggende goed se name vergeet!
Een jong man wat nog nie die siekte het nie, probeer die skade verminder. Hy plak etikette op alles: bv. “hierdie is ’n tafel”, ens!  By die ingang van die dorp sit hy twee groot tekens:  “Ons dorp se naam is Maconda” en op die groter teken staan: “God bestaan!”

Dis waarmee Paulus besig is in vanoggend se teksgedeelte, hy is besig om sulke plakkate op te sit sodat Timoteus kan onthou wie Jesus is en wat sy roeping is. En ek dink nogal dis iets waaraan ons almal elke nou en dan herhinner moet word.


Lees die teks uit The Message - 2 Timoteus 2: 8-15

Hy begin deur vir Timoteus te herinner aan wie Jesus is.

Hy herinner hom dat Jesus kom uit die lyn van Dawid.

Hiermee wou hy beklemtoon dat Jesus nie sommer maar net ‘n karakter in ‘n mooi storie
was nie. Hy is hier op aarde gebore, hy het hier rondgeloop, hy het gehuil en gelag, hy het kwaad geword. Hy het ook hier dood gegaan en weer opgestaan uit die dood. Hy was ‘n mens soos ons, tussen ander mense.


Dit het my laat dink Billy Graham se bekende illustrasie van Jesus se mens wording:



Billy het teruggeloop huis toe, toe hy ’n platgetrapte miershoop sien. Hy kon sien dat hierdie fyn beplande huis geruïneer was, verskeie miere is dood of beseer. Hy het gekyk hoe hulle in pyn en verwarring rondskarrel en toe gewens dat hy vir ’n oomblik ’n mier kon wees. Hy wou een van hulle wees sodat hy vir hulle kon sê hoe jammer hy is oor hulle ramp en dat
hy graag vir hulle wou help. Maar hy het geen manier gehad om met hulle te kommunikeer nie, daarom het hy maar verder aangeloop.


God het ook gesien hoe stukkend ons mense hier op aarde is, maar hy het nie net jammer gevoel en weggeloop nie. Hy het ‘n plan gemaak. Hy het sy seun gestuur om een van ons te word en iets te doen aan ons stukkendheid, soos Johannes 3:16 mos vir ons leer.


Hy herinner Timoteus ook dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Jesus het nie net mens geword nie. Hy het ook gesterf en weer opgestaan uit die dood.
Maar die opstanding was nie net iets wat gebeur het en toe is dit verby nie. Die opstanding het gemaak dat Jesus nou op ‘n nuwe manier elke dag by ons teenwoordig is.

Die skrywer CK Chesterton het eendag op ‘n straathoek in London gestaan toe ‘n joernalis met hom begin gesels het. Die joernalis sê toe vir hom: “meneer, ek hoor dat jy onlangs ‘n christen geword het. Mag ek jou ‘n vraag vra?” Hy vra toe: “As die opgestane Jesus skielik op hierdie oomblik aan jou sou verskyn en agter jou kom staan, wat sou jy doen? Chesterton antwoord: “maar hy is hier agter my”  

Ons word weer herinner daaraan dat dieselfde Jesus wat in die strate van Judea en
Galilea rondgeloop het, is ook die een wat vandag, elke dag hier langs ons, en by ons en agter ons en in ons is. 

En dan herinner Paulus ook vir Timoteus daaraan dat omdat Jesus vir hom mens geword en opgestaan het, moet hy ook daarop konsentreer om sy beste vir God te doen.


Ek lees van ‘n predikant wat vertel van iets wat gebeur het toe hy graad 2 was. Hy het
‘n Juffrou gehad wie se stokperdjie pottebakkers werk was. So, vir vadersdag het sy vir die kinders klei gegee en gesê hulle moet iets spesiaal maak vir hulle pa en dan sal sy dit in haar oond gaan bak. En die predikant onthou toe dat sy pa lief was vir ‘n lekker sigaar, so hy besluit toe om vir sy pa ‘n asbak te maak. Hy vertal dat die asbak maar lekker skeef en krom was, maar toe hy dit vir sy pa gee, het sy pa dit hanteer en gebruik asof dit die beste en
duurste asbak in die wêreld was.

Die meeste van ons is nie die beste en heiligste gelowiges in hierdie wêreld nie. Ons is soos die asbak, maar lekker skeef en krom. Soms faal ons met die goed wat ons doen as gelowiges. Soms doen ons niks omdat ons bang is ons gaan misluk as gelowiges. Soms vergelyk ons onsself met ander gelowiges en ons voel nie goed genoeg nie.


Daarmee saam is daar mense wat by ons die idee probeer skep dat God soos ‘n kwaai pa is
wat moeilik is om tevrede te stel. Dis die idee wat predikante en die kerk by my geskep het toe ek ‘n kind was. Ek was bang vir die dominee en ek was bang vir God. Hulle het by my die idee geskep dat God kwaai is en dat ek in my spoor moet trap.

Die God wat ons by Paulus en Timoteus leer ken is nie ‘n demanding en kwaai God wat
moeilik is om tevrede te stel nie. Hy is meer soos die pa in die storie van die asbak. Paulus herinner vir Timoteus weer daaraan dat God wil nie hê dat hy perfek moet wees nie.  Hy hoef nie dieselfde hoeveelheid mense te  bereik wat Paulus bereik het nie, hy het nie nodig om op die water te kan loop soos wat Petrus gedoen het nie. Hy herinner hom daaraan dat God net wil hê dat hy sy beste moet doen met die gawes wat God vir hom gegee het. En as hy dit doen dan sal hy eer bring aan God. 


So, laat ek julle nou weer vanoggend hieraan herinner  – God stel nie belang daarin dat ons die beste gelowiges moet wees nie, of dat ons perfek moet wees nie,  Hy gee ook nie om as ons sukkel en misluk nie - al wat hy wil hê is dat ons die beste moet doen met die gawes wat hy vir elkeen vir ons gegee het.

Soos iemand gesê het: “In our life with Christ, it is better to aim for the stars and only hit the moon than to aim for nothing and score a direct hit!”

Om op te som: as julle dit dalk vergeet het, word vanoggend weer daaraan herinner:


     
  • Maak nie saak watter uitdagings daar oor ons pad kom nie; maak nie saak waardeur ons gaan nie en wat ons beleef nie - Jesus het vir elkeen van ons mens geword sodat hy self kon beleef en verstaan waardeur ons elke dag gaan.
  • Maar hy het ook gesterf en opgestaan, sodat hy elke oomblik van elke dag by ons, in ons en saam met ons kan wees.
  • En onthou dat God is nie ‘n kwaai God wat van ons verwag om perfek te wees en alles reg te doen nie. En Hy vergelyk ons ook nie met enigiemand anders nie. Al wat Hy wil hê is dat ons die beste sal doen met die gawes wat hy vir ons gegee het.  
Oordenking

Dink terug aan jou kinderdae. Wat was die prentjie wat jy van God gehad het?

Lees
die teks(verkieslik uit The Message vertaling)
     
  • Wat maak die teks by jou wakker? 
In die
teks herinner Paulus vir Timoteus dat Jesus werklik mens geword het, en ook uit
die dood opgestaan het.(sien die verduideliking in die preek)



·        Wat leer ons hieruit van God?

·        Wat beteken dit vir jou?

By Paulus en Timoteus leer ons dat God nie demanding en kwaai is nie. En dat ons
nie nodig het om Hom te prober tevrede stel nie.


  • Hoe verskil dit van die prentjie wat jy van God het?
  • Wat doen dit aan jou om dit te hoor?

Paulus sê vir Timoteus dat hy daarop moet “konsentreer om sy beste vir God te doen”.
Hy hoef dus nie perfek te wees nie – hy moet net sy beste doen, met die gawes wat God vir hom gegee het.


     
  • Wat leer ons hieruit vir die manier waarop ons
         diensbaar is?
  • Wat kan jy doen om jou beste te doen?




No comments:

Post a Comment