Sunday, October 24, 2010

Preek 24 Oktober 2010

2 Timoteus 3: 14-4:5
So ‘n paar Sondae gelede het ons tydens die diens gehoor van die werk van die Gideons doen en hoe hulle mense se lewens beinvloed deur die plaas van Bybels op verskillende plekke.
Verlede Sondag het ons geluister na Thys Visser van Geopende Deure wat werk in die lande waar Christene vervolg word vir hulle geloof. Groot deel van hulle werk is om Bybels te voorsien aan mense in hierdie lande. So ek het gedink dat ons vanoggend bietjie kan stilstaan by die rol van die Bybel in ons lewens. Ek gaan vanoggend oor die Bybel preek.
Ek wil nou nie vanoggend die Bybel verdedig nie. Ek dink mens het nodig om dit te doen nie. Soos Spurgeon lank teruggesê het: “There is no need to defend a lion when he is being attacked. All we have to do is open the gate and let the lion out. The lion will defend itself.”
Die Bybel is ‘n inspirerende boek. Ek dink ons almal kan getuig van kere wat die Bybel vir ons iets beteken het. Maar daar is verskillende kante aan die Bybel. Die Bybel is ‘n boek wat mens laat goed voel, jou troos en inspireer. Die Bybel is ook ‘n gevaarlike boek, want dit daag ons uit, dit laat ons dink, dit dwing ons partykeer om veranderinge in ons lewens aan te bring. Alhoewel my ervaring is dat ons nie eintlik hou van daai deel van die Bybel nie, want dit vra partykeer van ons goed wat ons nie graag wil hoor nie. Maar die Bybel is ook gevaarlik in die sin dat mens enige iets uit die Bybel kan regverdig, soos oorloë, poligamie, selfs goed soos moord en selfmoord en rassisme. 
Op ‘n ligter nood, mens kan selfs uit die Bybel regverdig hoekom ons nie moet draf nie: Spreuke 28:1
“Die goddelose hardloop weg al jaag niemand hom nie.” 
Die punt is: Hoe mens die Bybel lees en verstaan is belangrik. Dis byvoorbeeld belangrik  om die konteks, die agtergrond, die kultuur vir wie dit geskryf is in ag te neem wanneer mens die Bybel lees, sodat jy beter kan verstaan wat bedoel word. Dis ook belangrik om nie teksgedeeltes een-een uit te pluk nie, want tekste vorm deel van ‘n groter geheel wat saam die betekenis bepaal. Dis ook belangrik om te weet dat die Bybel is nie ‘n geskiedenis of wetenskap handboek nie - dis ‘n geloofsboek, dit gaan oor God se betrokkenheid in mense se lewens. Dis daarom veral belangrik om te onthou dat ons met baie nederigheid en in afhanklikheid van die Gees met die Bybel sal werk, want ons weet nie alles nie. 
So kom ons kyk wat skryf Paulus vir Timoteus oor die Bybel. Wanneer ons dit lees moet ons 2 goed in gedagte hou. Paulus is besig om vir Timoteus te help met sy roeping. So hy herinner hom aan die rol wat die Bybel in sy lewe speel. En ons moet onthou dat wanneer Paulus oor die Skrif praat, dan praat hy oor die Ou Testament, want hulle het nog nie die Nuwe Testament gehad nie. Maar vir ons, wat NT Christene is kan ons die goed wat Paulus skryf op die hele Bybel van toepassing maak.
Lees die teks
Ons gaan veral fokus op vers 15 &16, so kom ons kyk gou hoe dit in 2 ander vertalings weergegee word.
“... why, you took in the sacred Scriptures with your mother's milk!
There's nothing like the written Word of God for showing you the way to salvation through faith in Christ Jesus.   Every part of Scripture is God-breathed and useful one way or another--showing us truth, exposing our rebellion, correcting our mistakes, training us to live God's way.”(The Message)
But you! Keep on track with your training. You’re convinced, so carry on, focussed. You know where your coaching comes from-you’ve had the instruction manual since you were a toddler, it’s oozing with wisdom. It sorts you out when you take the Liberator, Jesus, at his word. It’s totally inspired. It’s the only manual you need for coaching, counseling, correcting. If you want to be up and ready for every possible variation on doing the right thing, the
instruction manual is the only book for you. (The Word on the Street). 
 
Kom ons unpack wat sê Paulus hieroor.
Dit kan jou die kennis bybring wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus Jesus
Ons het uit getuienisse van die Gideons en van Geopende deure gehoor hoe mense net die Bybel begin lees het en hoe hulle lewens daardeur verander is.  Ek weet van geen ander boek wat dit kan doen nie. ‘n bibliografie van ‘n bekende persoon gaan jou dalk perspektief
kan gee, of ‘n versameling kortverhale of gedigte kan jou inspireer. Maar dis net die Bybel wat lewe kan verander. Want God sit daaragter - dis deur God geinspireer en dit vertel vir jou van die verlossing deur Jesus Christus.  Soos die Massage vertaling sê:  ‘Every part of Scripture is God-breathed’. Dit het dus ‘n transformerende funksie.

Dit help om ons in die waarheid te onderrig en dwaling te bestry.
‘n Belangrike ding om te onthou wanneer ons oor die Bybel praat, is dat ons geloof is gebou op Jesus Christus, nie op die Bybel. God het nie vir ons ‘n boek gestuur nie, Hy het ‘n mens gestuur. Maar die Bybel bly nog steeds die beste vertelling wat ons het van Jesus se lewe. So, in daai sin kan ons ook vir God dankie sê vir die Bybel. En daarom kan Paulus dan ook sê dat die Bybel onderrig ons in die waarheid  en help ons om dwaling te bestry– want dit vertel vir ons van die waarheid – dit vertel vir ons van Jesus.
Maar daar is ook ‘n kwalifikasie, ‘n waarskuwing – iemand het gesê:  “Die Bybel is dus nie ’n stok om ander mee te slaan nie, maar ’n stok om saam op te leun, te steun...”
Wanneer Paulus praat van die Bybel wat ons in waarheid onderrig en dwaling bestry, dan bedoel hy nie dat ons mense moet bykom met die Bybel. Dit maak my so vies as mense sê: jy mag nie dit doen of jy mag nie so wees nie, want die Bybel sê so. Die Bybel is ‘n boek waarmee jy mense ondersteun, leer, help, troos en uitdaag. Dis nie iets waarmee jy mense moet bykom nie. Veral nie as jy tekste gebruik sonder dat jy eers uitgevind het wat regtig daar staan nie. So die Bybel het ook ‘n onderrigfunksie. 
Dit help om verkeerdhede reg te stel en die regte lewenswyse te kweek.
Die Bybel het ook ‘n invloed op die manier hoe ek my lewe leef. Dit het met ander woorde ook ‘n etiese funksie. Etiek in sy eenvoudigste vorm beteken: “mens moet die regte dinge vir die regte redes doen”. Ons leef in land waar dit juis nie sien nie.
Die Bybel help ons hiermee. 
Paar aanhalings wat dit duidelik maak:
 “What I want to say, is in order to read the Scriptures adequately and accurately, it is necessary at the same time to live them...  Reading the Scriptures is not an activity discrete from living the gospel but integral to it. It means letting Another have a say in everything we are saying and doing.
It is as easy as that. And as hard.” (Eugene Peterson)
“Ons lees nie die Bybel om uit te vind hoe ons God in ons lewens kan intrek of om Hom te kry om daaraan deel te neem nie. Nee, ons maak die Bybel oop en vind dat bladsy na bladsy dit ons onverhoeds betrap, dit ons verras en dit trek ons in die Bybel se werklikheid in en dwing ons tot deelname saam met God, op Sy voorwaardes!” ( Karl Barth) 
Ons kan nie net die Bybel lees nie, ons moet dit gaan doen ook, dis iets wat eties geleef moet word.       
Om op te som:
Marten Luther het van die Bybel as ‘n “lewende woord” gepraat. Maar dis lewend omdat God, daaragter sit, omdat dit ons vertel van ‘n person Jesus Christus en omdat die Heilige
Gees ons help om dit te verstaan.  
Volgens Paulus is die Bybel lewend want dit het…
‘n transformerende funksie – dit verander mense se lewens.
‘n onderrig, lerende funksie – dit leer ons van Jesus en geloof
‘n etiese funksie – dit help ons om reg te lewe. 
Miskien sal die volgende storie die effek van die Bybel die beste saamvat:
Martin Niemoller was ’n Duitse predikant wat tydens die 2de Wêreldoorlog deur Hitler na Dachau-konsentrasiekamp gestuur is. Hulle het alles van hom weggeneem, behalwe sy Bybel. Hier is sy getuienis oor die betekenis van die Bybel:  “Wat het die Boek vir my beteken gedurende lang, uitputtende jare van alleenwees in ’n sel? Die Woord van God was eenvoudig alles vir my, troos en krag, leiding en hoop, meester van my dae en metgesel van my nagte, die brood van die lewe wat my van hongersnood weerhou het en die water van lewe wat my siel verfris het.”  
Om oor te dink
     
  • Dink aan ‘n keer of kere toe ‘n gedeelte in die Bybel jou gehelp/getroos/versterk het? Wat was die gedeelte en hoekom?
  • Hoekom is die Bybel soms vir jou moeilik om te verstaan?
  • In die inleiding van die preek word ‘n paar goed genoem oor die Bybel en hoe ons dit moet verstaan. Hoe help dit jou in jou verstaan van die Bybel?
  • Lees 2 Timoteus 3: 15-16 uit die Afrikaanse Bybel en die 2 verskillende verstalings wat preek gebruik word.
    •  
    • Wat spreek jou aan in die gedeelte? 
  • Lees die verduideliking in die preek van die verskillende dele van die teks. 
    •  
    • Hoe help dit jou met jou idee/persepsie van die Bybel?
    •  
    • Gaan jy in die toekoms die Bybel anders benader/verstaan? Indien wel hoekom? Indien nie, hoekom nie?
  • Sluit af deur die getuienis van Martin Niemoller in die slot van die preek te lees.

No comments:

Post a Comment