Sunday, October 31, 2010

Preek 31 Oktober 2010

Dankbaarheidsfees 
Teks: Psalm 100
Iemand het iewers gesê: “die moeilikste rekenkunde om baas te raak – is dit wat jy nodig het om jou seëninge mee te tel.”
Vandag is dankbaarheidsfees. Vandag gaan oor dankbaarheid teenoor God vir al ons seeninge die afgelope jaar. Maar daar is seker baie van ons wat wonder wat ons nou eintlik het om oor dankbaar te wees. Elke dag hoor ons van al die korrupsie en geweld in ons land. Ons hoor van leiers wat onbetroubaar en sonder intergriteit is. Ons hoor van mense wat hulle werk verloor. Ons hoor van sosiale probleme en mense wat siek is. Dis makliker om bitter, kwaad en moedeloos te wees as om dankbaar te wees.
Maar daar is ook ‘n ander perspektief. Iemand het gesê: “ons kry nie altyd alles wat ons van God vra nie, maar ons het altyd ‘n rede om vir Hom dankie te sê.” 
Psalm 100 gee vir ons 3 redes om dankbaar te wees. 
Ons moet dankbaar wees omdat God goed is.
Ons almal het mos goed waarvoor ons kan dankie sê. Goed wat ons elke dag van God ontvang en goed wat in ons lewens gebeur. Maar wat die Psalm vir ons leer is dat ons nie net moet dankbaar wees vir dit wat God vir ons gee nie, ons moet dankbaar wees vir wie Hy is. En Hy is goed. Dis wie Hy is, dis sy karakter, Hy kan nie anders as om goed te wees nie. Wees dankbaar omdat God goed is. 
Ons moet dankbaar wees, want aan sy liefde is daar geen einde nie.
Ons leef in ‘n wêreld waar liefde ‘n baie goedkoop woord geword het. Liefde het begin gaan oor plesier, dit het voorwaardelik en selfsugtig geword, dit het begin gaan oor liefde die gevoel en nie meer liefde die commitment nie. Mense soek vining groener weivelde omdat hulle nie meer die harde werk van liefde wil doen nie.
Soos die storie van die engelse predikant wat besig was om iemand te trou. Hy kom toe by die belofte: "DO YOU TAKE THIS WOMAN TO BE YOUR WEDDED WIFE, FOR BETTER OR WORSE, FOR RICHER, FOR POORER, IN SICKNESS OR IN ... op daai punt toe stop die bruid die predikant en sê vir hom:
“asseblief ds. Sal jy ophou, jy is besig om hom af te skrik.” 

Teenoor dit sê die psalmdigter: “dank Hom, prys Hom, want aan sy liefde is daar gee einde nie.”
Richard Halverson som dit baie mooi op: “There is nothing you can do to make God love you more! There is nothing you can do to make God love you less! His love is unconditional, impartial, everlasting, infinite and perfect.”  
Ons moet dankbaar wees want sy trou duur vir ewig.
Ons moet dankbaar wees, want God bly getrou, selfs al is ons soms ontrou. Want dis wie Hy is. Hy kan nie anders nie. Wanneer die oppe-en-affe van die lewe ons tref, wanneer ons deur moeilike tye gaan, dan kan ons daar deurkom. Nie omdat ons geloof so sterk is nie, maar omdat God getrou is. 
Ps 100 leer ons om dankbaar te wees omdat God goed is, omdat sy liefde nooit ophou nie en omdat Hy vir altyd getrou sal wees.
Daar is ‘n legende van ‘n man wat eendag by ‘n skuur gekom waar Satan die sade gestoor het wat hy in mense se harte saai. Hy stap so deur die skuur en hy sien dat hoop wat die grootste is, is die saad van moedeloosheid. Hy vra toe vir Satan daaroor. En satan antwoord: dis sade wat omtrent enige plek groei, behalwe een plek. “En waar is dit?” vra die man. En Satan antwoord: “in die hart van ‘n dankbare mens.” 
Gebed 
Nagmaal
Vandag se nagmaal is ‘n dankseggings maaltyd. Vandag is ons ook ‘n familie wat om die nagmaalstafel saam kom en dankbaar is vir dit wat Jesus vir ons kom doen het.  Dankbaar vir sy liefde, sy genade, sy getrouheid.  
Getuienisse 
Gee van dankbaarheidsoffers
Daar is ook ‘n ander kant aan dankbaarheid wat dalk die beste opgesom word deur die volgende aanhaling:
“Not what we say about our blessings, but how we use them, is the true measure of our thanksgiving.”  ~W.T. Purkiser
Daar is ‘n doenkant aan dankbaarheid. Ons wys ons dankbaarheid deur iets te gee. Ons gee nie omdat ons moet nie, ons gee ook nie omdat ons iets van God terug verwag nie of iets van hom wil hê nie. Ons gee omdat ons dankbaar is vir alles wat hy vir ons gee en doen. So, die enigste vraag wat ons onsself eintlik moet afvra is: “weerspieël hierdie gawe my dankbaarheid?”
Kom ons wys ons dankbaarheid met die gee van ons dankbaarheidsoffers 
Om oor te dink
As jy terugkyk oor die afgelope jaar – waarvoor is jy dankbaar?
Lees weer die aanhaling:
“Die moeilikste rekenkunde om baas te raak – is dit wat jy nodig het om jou seëninge mee te tel.” 

  • Hoekom is dit vir ons so moeilik om dankbaar te wees? 
Lees Ps 100 en die verduideliking daarvan in die preek.
  • Wat leer ons van God in hierdie Psalm?
  • Wat leer ek van myself in hierdie Psalm?
  • Wat reaksie vra die Psalm van ons? 
Lees weer die aanhaling: “Not what we say about our blessings, but how we use them, is the true measure of our thanksgiving.”  ~W.T. Purkiser
  • Dankbaarheid word ook weerspieel deur dit wat ek bereid is om te gee en te doen. Hoekom is dit so moeilik?  

No comments:

Post a Comment