Sunday, January 30, 2011

Preek 30 Jaunuarie 2011

Kyk na jouself, niemand anders gaan nie.
“Would you sell the colours of your sunset and the fragrance of your flowers and the passionate wonder of a forest for a creed that will not let you dance?” (Helen Johnson)
Dink vining oor die aanhaling? Wat hoor jy daarin?

Die vraag in hierdie aanhaling is. Sal jy dit wat jy regtig geniet, dit wat vir jou energie gee, dit wat jou goed laat voel, en jou laat ontspan prysgee vir iets wat jou moeg maak en gespanne maak?
My eerste reaksie op hierdie aanhaling was, “nee, ek sal nie dit doen nie.” Tot ek daaroor gaan dink het en besef ek dink die meeste van ons doen dit tog elke dag. Elke dag is ons besig om dinge te doen wat ons moeg en gestress maak in plaas van goed wat vir ons vreugde gee. Ons is elke dag besig te veel te doen en is ons tog so besig.

Ons programme is so vol met ons beroepe en ons kinders en mense wat dinge van ons vereis.
En het julle al opgelet, hoe baie van die goed wat ons elke dag doen is vir ander mense. Vir ons base, vir ons maatskappye en besighede, vir ons kollegas, vir ons kinders en ons families en in die proses skeep ons onsself ongelooflik af.
Daarmee saam is ons ook mos hard op onsself. Ons wil alles perfek doen. Alles moet reg wees, so ons plaas baie druk op onsself. En in die proses raak ons afgestomp en verloor ons onsself.
Daar is nie meer tyd om ‘n sonsopkoms te waardeer nie. Daar is nie meer tyd om die blomme te ruik nie. Daar is nie meer tyd vir myself nie. Daar is nie meer tyd om die dinge te doen wat vir my energie gee, my laat ontspan nie.

En die slag wanneer ons begin dink oor ons lewens en ons besef dinge raak te veel. Wat doen ons? Ons maak verskonings. :
“Ek kan nie anders nie; daar is nie geld vir ‘n huishulp nie.”
“Ek het geen keuse nie; dis ‘n klein besigheid en ons kan nie nog personeel aanstel nie.”
“Daar is nie ‘n ander manier nie; werk is skaars.” “
“Ek kan nie anders nie; wie anders gaan dit doen?”

Ons is goed met die uitdink van verskonings.

Kom ek lees weer die aanhaling: “Would you sell the colours of your sunset and the fragrance of your flowers and the passionate wonder of a forest for a creed that will not let you dance?” (Helen Johnson)
Ek dink ‘n beter antwoord op hierdie vraag is: Ek wil dit nie graag doen nie, maar ek is besig om dit wat my laat dans, dit wat vir my vreugde gee te verkoop.

In die Bybel is daar ‘n verhaal van mense aan wie baie eise gestel is. Mense wat moeg was om aan ander mense se eise te moes voldoen. Mense wat heeltyd gevoel het, hulle is nie goed genoeg nie en daarom het hulle net harder en harder probeer.  
Die fariseers en die skrifgeleerdes het daarop aangedring dat die mense elke letter van die wette van die OT moes nakom. Hulle het druk geplaas op die mense en op hulle gevoel gespeel. Hulle moes die wette nakom om goeie gelowiges te wees.
In Matteus 23:4 lees ons: “hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers, maar self wil hulle nie ‘n vinger verroer om dit te dra nie.”

En dan kom Jesus en Hy sê vir hulle die volgende: Matteus 11:28-30

Jesus sê, Sy las is lig, Hy gaan nie eise aan hulle stel nie. Hy het nie gekom om die las op hulle skouers swaarder te maak nie. Hy het gekom om dit ligter te maak. En Hy sê ons kan by Hom kom leer.  Kom ons kyk gou wat ons by Hom kan leer.
“Teen dagbreek het Hy uitgegaan en na ‘n eensame plek toe vertrek” (Luk. 4:42).
“Hy het Hom altyd weer in eensame plekke afgesonder om daar te bid” (Luk. 5: 16).
“Jesus het uitgegaan na die berg toe om te bid en die hele nag deurgebring in gebed…” (Luk. 6: 12).
Jesus het in Sy program gereeld tyd gemaak om homself af te sonder en stil en rustig te raak.

In die week kom my oudste seun na my toe. Sê vir my – weet jy dat dit goed is vir ‘n mens om elke dag vir 10 minute net stil te wees. Heeltemal stil, sonder die TV of koerant of mense wat gesels. Net stil op jou eie.   

Ons moet leer om ons Here se voorbeeld ook hierin te volg… Ons moet leer om “nee” te sê en ons moet minder dinge aanpak! Ons moet leer om die lewe teen ‘n stadiger pas aan te pak en meer geleenthede te skep om tot rus te kom ná besige tye. Ons moet leer om tyd te maak om die sonsopkoms te sien en die blomme te ruik. Ons moet leer om tyd te maak wat ons saam met ons mense kan spandeer.

En weet jy niemand anders gaan dit vir jou doen nie! Jou baas gaan nie vir jou sê – neem ‘n uur af en gaan stap bietjie langs die see nie. Jou baas gaan nie vir jou sê, neem die oggend af en gaan speel bietjie met jou kinders nie. Jou kinders gaan nie vir jou sê, ma, pa gaan eet uit ‘n bietjie op julle eie, of gaan bietjie die naweek op julle eie weg nie.
Niemand anders gaan dit vir jou doen nie. Jy gaan dit self moet besluit. Jy is verantwoordelik vir jouself. Jesus het ons kom vry maak. Ek moet daardie Vryheid vir myself toeëien. Ek moet verantwoordelikheid neem vir my lewe. Jesus het duur betaal om hierdie gawe vir my te gee. En Hy wil hê ek moet lig en vry gaan lewe.

Mag ons weer besef dat Jesus ons vry gemaak het en dat Hy wil hê dat ons hierdie Vryheid verantwoordelik moet gebruik.
Mag ons besef dat ons dit nodig het om tot rus te kom.
Mag ons verantwoordelikheid neem vir ons eie lewe, want niemand anders gaan dit vir ons doen nie.
Mag vry en lig lewe. 

Oordenking
Waaroor het die aanhaling aan die begin van die preek jou laat dink?
Wat is die goed wat jou elke dag die meeste besig hou?
Wat is dit wat jy regtig geniet? Wat gee vir jou vreugde en energie?
Watter veranderinge moet daar dalk in jou lewe gebeur sodat jy tot rus kan kom?

No comments:

Post a Comment