Sunday, February 20, 2011

Preek 20 Februarie 2011

Kyk na jouself…dan na ander

Jesus sê in Joh. 10:10 “Ek het gekom sodat julle die lewe kan hê, en dít in oorvloed.”
Dit vorm die basis van ons preekreeks. Ons kyk na verskillende aspekte van ons lewe waaraan ons moet aandag gee sodat ons ons lewe in oorvloed kan leef. Maar hierdie teks en die preekreeks het ‘n na-binne en ‘n na-buite fokus. Tot dusver het ons stilgestaan by die na-binne fokus.
Ons het gesê dat ek moet verantwoordelikheid neem vir myself en vir die lewe wat Jesus vir my gegee het. Hy het immers duur betaal daarvoor. My tyd en hoe ek dit spandeer is my verantwoordelikheid. Net so het ek ook ‘n verantwoordelikheid om om te sien na die toestand van my gesondheid, my verhoudings, my siel en my drome. Ek moet sorg dat daar balans in my lewe is en dat daar te midde van my besige program ook tyd is vir stilword, en batterye herlaai en ontspan.
Om die lewe in oorvloed te leef moet ek ook heel word van my seer en die teleurstelling en trauma wat ek met my saamdra en ek moet die Gees se werking in my vertrou. Ek moet vertrou dat hy my wil verander en heelmaak.
En ek moet leer om na myself te kyk deur God se oë – en besef dat Hy kyk verby my swakhede, en foute en gebrokenheid en Hy wil my gebruik.

Mattheus 5:5 som dit mooi op. Matthew 5: 5 (The Message) "You're blessed when you're content with just who you are—no more, no less. That's the moment you find yourselves proud owners of everything that can't be bought.”

Ek onthou toe Jalize predikant in Houtbaai was, was daar ‘n gesin wat by die gemeente ingeskakel het. Die vrou se pa was predikant by ‘n gemeente in Johannesburg. Hy het elke nou en dan in Houtbaai kom kuier en selfs daar gepreek. En so het ons hom toe ook leer ken. Wat ek van hom onthou – as mens ‘n ruk in sy geselskap was, dan het jy sommer rustig gevoel. Hy het net so ‘n rustigheid, vrede en wysheid uitgestraal en jy kon nie anders as daardeur geraak te word nie. Mens het sommer net goed gevoel en vrede gehad nadat jy in sy geselskap was.
Die rede - omdat hy sy verhoudings, sy menswees, sy siel, sy drome , sy lewe was uitgesorteer en vol vrede. Soos die teks sê: hy was geseënd omdat hy rustig en tevrede was met wie hy is. En daarom kon hy die lewe in oorvloed leef. 

Ek het aan die begin gesê dat die lewe in oorvloed ‘n na-binne en na-buite fokus het. Die oom het die vrede wat hy na-binne gehad het, ook na-buite uitgestraal. So van vandag af gaan ons bietjie na die na-buite fokus begin kyk. Hierdie lewe in oorvloed gaan nie net oor myself en my binnekant nie. Dis waar dit alles begin, maar dis nie waar dit eindig nie.

Lees gou Matteus 5: 8 (The Message) “You're blessed when you get your inside world—your mind and heart—put right. Then you can see God in the outside world.”

As my binnekant rustig en tevrede raak, kan ek na buite begin kyk en sien wat God sien. En God sien die ellende en die noodkrete raak – dit gryp hom aan die hart. En Hy wil ons gebruik om iets daaraan te doen. Hy wil ons gebruik om die wêreld ‘n beter plek te maak. 

Ons fokus teks vanoggend is daarom Matteus 5: 13-16(Afrikaanse vertaling)
Matthew 5: 13 - 16 (The Message) "You're here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You're here to be light, bringing out the God-colors in the world. God is not a secret to be kept.”

Die teks sê vir ons, soos sout kos beter laat smaak, soos ‘n lig wat die donker verdryf, so moet ons goeie werke vir almal sigbaar wees. En deur ons goeie werke word God sigbaar vir mense en word hy verheerlik.  
  
Wat beteken dit? Hoe doen ek dit? Ek wil nie ‘n klomp goed daaroor sê nie, ek gaan ‘n paar teksgedeeltes lees en ek wil hê julle moet bietjie daaroor dink en luister of God jou nie tot aksie roep om sout en lig vir die wêreld te gaan wees nie.
Kom ek doen net eers ‘n gebed en vra ons dat die Here met ons nou moet praat deur die tekste.

Matteus 5:4Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”
·         Om te treur oor alles wat in die wêreld verkeerd is of dalk te treur saam met die vertroosting nodig het.
Matteus 5:6 “Geseënd is dié wat honger en dors na wat reg is, want hulle sal versadig word.”
·         Om te doen wat reg is en nie onreg te duld nie.

Matteus 5: 7 “Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”
·         Om barmhartigheid te bewys aan die wat dit nodig het.

Matteus 5:9 “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.”
·         Nie vredebewaarders nie, vredemakers.

Matteus 22: 39 “‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
·         Wees net lief vir mense sonder om hulle te oordeel, beoordeel of veroordeel.

Rom.15: 2: “Elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou.”
·         Hoe baie dink ons net negatiewe en kritiese goed oor ons naaste.

2 Kor 1:3In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,”
·         Om daar te wees vir mense bemoediging nodig het.

1 Johannes 3:18 “Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.”
·         Liefde is ‘n werkwoord. Dis iets wat ons moet wys en moet doen deur ons optrede en ons dade.

John Wesley het dit alles goed saamgevat: “Doen soveel goed jy kan. Op soveel maniere as wat jy kan. Op soveel plekke as wat jy kan. Aan soveel mense as wat jy kan. So dikwels as wat jy kan. En solank as wat jy moontlik kan. 

Miskien sal hierdie DVD – clip dit vir ons nog duidelik wys. (Red).

Die vraag is nie of God iets deur ons wil doen nie. Vraag is ook nie of ek iets moet doen nie.
Die vraag is: Wat wil God deur jou doen? Wie wil God deur jou aanraak? Vir wie wil God deur jou goed wees?

GEBED: Ag Here, ek weet dat U liefde my kan stil maak, heel maak, tevrede maak en vry maak! Ek weet dit kan my laat ophou om myself met ander te vergelyk. Ek weet dit kan my lief maak vir myself… En Here, ek weet dat ek net vir ánder kan lief wees as ek vir mysélf lief is! Alles begin en eindig by U en by liefde, want U ís liefde! Daarom Here, herinner my gedurig aan liefde, sodat U liefde deur my in die wêreld kan sigbaar word. Help my om die lewe in oorvloed te leef en om die mens te wees wat ek kán wees; die mens wat U drome waar maak! AMEN

Oordenking
·         Sommige mense straal net ‘n rustigheid en vrede uit, wat aan jou afsmeer as jy in hulle geselskap is. Dink aan so iemand wat jy ken en hoe dit jou laat voel om in sy/haar geselskap te wees?
·         Lees Matteus 5:13-16 (lees dit ook uit The Message)
·         Wat staan vir jou uit/gryp jou aan in die teks?
·         Lees deur al die tekste in die preek en dink oor dit wat God vir jou wys in die gedeeltes.
·         Lees die gebed.

No comments:

Post a Comment