Sunday, February 27, 2011

Preek 27 Februarie 2011

Getuienissondag: Lukas 19: 1-10

Om te sorg dat predikante aanhou leer en groei het die sinode so paar jaar gelede besluit dat ons elke jaar sekere kursusse moet bywoon. En ons kry punte daarvoor. So het ek verlede jaar so ‘n 3-dag kursus op Stellenbosch gaan bywoon. Op die 2de dag moes ons die veiligheid van die konferensiesaal verlaat en ons moes 2-2 daar in Stellenbosch se strate invaar om met enige vreemdeling ‘n gesprek te gaan voer oor wat vir hom/haar in die lewe belangrik is. Dit maak mens nogal bang, want jy moet uit jou comfortzone uitklim en jy weet nie wat om te verwag nie, maar ons het dit gaan doen. Party van die predikante het met karwagte gepraat, party met die vrou wat agter die ‘till’ werk in die Spar, ons het in ‘n restaurant sommer met ‘n paar studente gepraat. Daar was so ongeveer 30 verskillende gesprekke. Die meeste mense was vriendelik en die gesprekke het goed gegaan. Na die tyd moes ons toe terugkeer na die lugverkoelde konferensielokaal en terugvoer gee oor die gesprekke.  
Die antwoorde het nogal ‘n patroon gevorm. Meeste mense het gesê die belangrikste goed in hulle lewe is familie, huwelik, my kinders, werk, vooruitgang in die lewe, sommige het gesê God is die belangrikste. Ons het nie eintlik geweet wat die antwoorde was wat ons moes gekry het nie, maar ons was ook nie verras deur die antwoorde nie. Dit was antwoorde waarmee ons kon identifiseer.
Die gesprek oor die antwoorde het toe so aangegaan totdat iemand op ‘n stadium opmerk: “Niemand het gesê dat die kerk vir hulle belangrik is nie.”
God en ‘n hele klomp ander sake is wel vir hulle belangrik, maar nie die kerk nie. Ons almal het grootgeword in ‘n tyd toe die kerk die middelpunt van die gemeenskap was, maar tye het so verander dat die kerk net nie meer so belangrik is vir mense so belangrik is nie – veral nie hier waar ons woon in ‘n stedelike voorstad nie. En toe ons verder daaroor gesels, toe besef ons dat alhoewel kerk nie meer vir die mense so belangrik is nie, is ons nog steeds besig om die kerk so in te rig asof mense in die kerk belangstel. Ons het sekere goed wat ons doen in die kerk – sekere maniere hoe ons die kerk organiseer en bestuur en dis goed en reg so, maar dis nie die goed wat die mense hiernatoe gaan bring nie. Kerk is net nie meer so belangrik nie.

Die vraag is dus: hoe gaan ons die mense wat nie in kerk belangstel nie bereik? Hoe gaan ons die mense in die strate van Stellenbosch en Table View bereik?
Kom ons gaan kyk na ‘n Bybelse verhaal om ons hiermee te help.
Lukas 19:1- 10. Die verhaal van Saggeus.

Saggeus was die hooftollenaar in Jerigo waar die Romeine baas was. Sy taak was om die tolgeld in te samel van almal wat by die stad ingekom het. Jy kon nie inkom as jy nie betaal het nie. Dit was al klaar baie erg vir die mense van Jerigo dat hulle moes betaal om by hulle eie stad in te kom. Wat dit nog erger gemaak het, was dat Saggeus soms bietjie meer gevra het as wat hy moes en dan het hy die verskil in sy sak gesteek. Daarom was hy dan ook nie die mees gewilde man in Jerigo nie.
Op ‘n dag hoor Saggeus dat Jesus die stad kom besoek. Hy het al gehoor van Jesus en wil daarom ook graag vir Jesus sien. Hy was nuuskierig. Maar hy het ‘n probleem – hy is ‘n klein, kort mannetjie en kan nie verby die mense sien nie. En hulle het hom weggedruk, want hy was tog die ongewilde tollenaar. Hy klim toe in die boom om vir Jesus te kan sien. En toe Jesus by die boom kom – toe roep hy hom af, want hy wil na sy huis toe gaan en by hom tuis gaan. En daar in sy huis, saam met Jesus word Saggeus se lewe verander.

Al die ander mense – die gelowige mense van Jerigo - het vir Saggeus sleg gesê, niemand het van hom gehou nie, hulle het probeer om hom weg te hou van Jesus af en hulle het probeer om vir Jesus weg te hou van hom af – maar Jesus het na hom uitgereik, na sy huis toe gegaan en vir hom ‘n nuwe lewe gegee.

Nadat hy Jesus se onvoorwaardelike liefde beleef het, het sy hele lewe verander. Skielik was hy nie meer die oneerlike tollenaar wat die mense se geld gesteel het nie – deur Jesus se liefde is hy nou iemand.

Die opvallende ding van hierdie verhaal is: Jesus reik uit na Saggeus toe, hy gaan kuier by hom, hy gaan eet by hom. Hy vertel nie vir hom wat hy alles moet doen om ‘n Christen te wees nie. Hy vertel nie vir hom wat die reels en regulasies is nie. Hy probeer hom nie manipuleer nie. Hy gesels met hom en hy kuier by hom.
Dis nie die eerste keer wat Jesus dit doen nie – hy spandeer tyd met kinders en melaatses, met die owerspelige vrou by die put. Deur net tyd met mense te spandeer, in hulle belang te stel en na hulle te luister het Jesus ‘n beweging begin wat die wêreld verander het.

Ons kry in die evangelies heelwat voorbeelde van Jesus wat met mense in gemeenskap getree het. Ek het nogal gewonder wat sal gebeur as ons dieselfde hier in ons gemeenskap gaan begin doen. As ons begin om met mense te gesels, as ons in hulle belangstel en met hulle tyd spandeer. As ons ‘n gemeenskap van Jesus-volgelinge is wat in ons daaglikse ontmoetings soms net gaan stilstaan en luister en deel word van iemand se lewe. Soos wat Jesus gedoen het. En as ons hulle begin dien met die bronne en die gawes wat ons van die Here ontvang het.  Miskien sal ons dan daarin slaag om weer die kerk vir mense belangrik te maak. Ek vermoed dat liefde, omgee en diens die goed is wat mense weer in Christenskap en die kerk gaan laat belangstel. 

Dit het my laat dink wat David Bosch, een van ons land se beste teoloë, gesê het: “Ons glo dat die geloof wat ons bely, waar en reg is en dat dit verkondig behoort te word. Ons doen dit egter nie as regters wat ander veroordeel nie, maar as getuies; nie as soldate nie, maar as vredesgesante; nie as verkoopsagente wat ander onder hoogspanning en druk wil manipuleer nie, maar as ambassadeurs van ons Dienskneg-Here.” (David Bosch)

Elkeen van ons is Jesus se ambassadeurs in hierdie wêreld. Ons is die liggaam van Christus wat na die Saggeuse van ons tyd moet uitreik en met hulle moet vriende maak. Dit is ons roeping as gelowiges, as dissipels van Jesus. Ons wat hier bymekaar is, word geroep om dit te gaan doen oral waar ons elke dag ons lewe leef en waar ons met mense te doene kry. Wie weet, ek is dalk net die mens deur wie God ‘n verskil in iemand se lewe wil maak!

Bespreking

Watter aanduidings is daar in jou gemeenskap dat die Christendom en kerk nie meer vir mense die belangrikste ding is nie?

Watter gevoelens beleef jy hieroor?

Lees Lukas 19: 1-10
·         Daar is 3 karakters in hierdie verhaal – Saggeus wat ongewild is en verstoot  word; die skare wat vir Jesus ken, maar terselfdertyd vir Saggeus veroordeel en hom wil verhoed om by Jesus uit te kom; en Jesus wat teen die stroom ingaan en uitreik na Saggeus.
·         Wat leer ons by die skare?
·         Wat leer ons by Jesus?

Lees die aanhaling deur David Bosch
  • Wat vra die aanhaling van ons?

No comments:

Post a Comment