Sunday, May 8, 2011

Preek 08 Mei 2011

R12: Wat is egte spiritualiteit?

In die begin jare van my studentedae was ek in Majuba koshuis. Die koshuis was in seksies opgedeel elkeen met ‘n naam en ‘n leier. Ons leier was ‘n derde jaar student.  Hy was ‘n aangename, joviale ou – was lekker om saam met hom te kuier. Hy   kkkk  Hy was ook baie lief vir kuier en daar was ‘n hele paar aande wat ons hom na sy kamer toe moes vergesel. Ek weet nie altyd hoe nie, maar hy het deurgekom, trouens hy was nie ‘n slegte student nie. Hy was ook iemand wat elke Sondag in die kerk was. En dit was vir hom belangrik om elke Sondag in die kerk te wees. Want, het hy gesê, dit gee vir hom ‘n geleentheid om sy sondes van die week te bely, sodat hy weer reg en skoon kan wees vir die week wat kom en nie skuldig hoef te voel oor die week se kuier wat voorlê nie. Hy het selfs af en toe ‘n Bybelstudiegroep op Woensdagaande in die koshuis bygewoon  Hy het dus baie goed daarin geslaag om die verskillende dele van sy lewe te balanseer deur dit in kompartemente op te deel. Daar was sy studies, sy gekuiery en sy kerklike lewe. Op ‘n manier het die 3 nooit mekaar beïnvloed nie.
Ek weet nie hoe hy dit altyd reggekry het nie, maar na dese verstaan ek dit beter, want ek het ontdek hoe baie Christene so ‘n tipe lewe lei. Volgens navorsing in Amerika wil nege uit 10 Christene werklik volgelinge van Jesus wees, maar hulle lei ‘n skitsofreniese lewe wat hulle waardes, geldsake, integriteit, verhoudings, werkslewe betref. Hulle leef in kompartemente met hulle geloof en die kerk aan die een kant en hulle lewenstyl aan die ander kant en hulle sukkel om dit bymekaar uit te bring. Ons leef ons lewens dikwels in kompartemente – geen wonder mense sê dat Christene doen nie wat hulle sê nie.
Dis waarmee hierdie kursus ons oor die volgende 6 weke wil help. Hoe kry ek dit reg om ‘n geïntegreerde lewe te lei? Hoe maak ek om al die verskillende dele van my lewe bymekaar te bring, sodat ek ‘n vervullende, outentieke verhouding met God kan hê?
En daarmee saam wil dit ons ook help om te verstaan dat God vir ons lief is, dat geloof gaan oor genade en ‘n verhouding met God en nie oor performance en godsdienstige aktiwiteite en reëls nie.

Dit alles begin by die vraag: Wat is egte spiritualiteit?
Kom ek unpack dit gou eers. Spiritualiteit verwys na my verhouding met God en die impak en invloed wat hierdie verhouding in my lewe het. ‘n Spirituele mens is iemand wat leef met ‘n bewustheid van God en van God se invloed in elke deel van sy/haar lewe.
As ons praat van ‘n egte spiritualiteit dan verwys dit na eg soos in outentiek of “real” – is my verhouding met God iets wat “real” is in my lewe? Het dit ‘n invloed of ‘n impak in my lewe? Of is dit iets wat ek hou vir Sondagoggende hier by die kerk?    

Daar is 3 gedagtes wat belangrik is as ons praat oor ‘n egte spirtualiteit.
Egte spiritualiteit het baie te doen met die prentjie wat ons van God het. Dit bepaal uiteindelik hoe jy vir God gaan beleef, hoe jy geloof gaan beoefen.
As jy vir God gaan sien as ‘n kwaai God en jy is bang om gestraf te word, dan is daar gewoonlik ‘n lysie van goed wat jy gaan doen om Hom tevrede te hou en te sorg dat jy nie gestraf word nie. Jy bid soveel keer elke dag, jy gee soveel geld, jy mag nie dit nie of jy mag nie dat nie – alles sodat God tog net nie sal kwaad raak nie. Dis een prentjie van God.

‘n Ander prentjie van God is die van ‘n tellinghouer. God hou telling van jou goeie en slegte dade, van dit wat jy doen en nie doen nie. Jy hardloop rond en probeer ‘n goeie mens wees, maar jy is nooit heeltemal seker of jy genoeg doen nie.

Nog ‘n prentjie van God is dat Hy hierdie onpersoonlike krag is. Hy is daar ver, maar Hy is ook hier rond en jy moet die formule ontdek om by Hom uit te kom en een te raak met Hom. Maar Hy bly maar altyd so half buite bereik. Soos daai liedjie van Bette Midler: “from a distance, God is watching us”.

Kom ons gaan kyk gou na ‘n paar beelde of metafore van God in die Bybel wat in my opinie ‘n beter prentjie van God skets.
God as liefdevolle Vader; God as moeder; God as Vriend; God as mentor; dienskneg; herder; regverdige regter ens.
Die prentjie wat ons uit hierdie beelde kry is van ‘n God wat omgee, liefhet, genadig is, regverdig is, wat die meeste vir ons wil hê, wat in ‘n verhouding met ons wil wees.

Die tweede gedagte oor egte spiritualiteit is dat dit gaan oor die beginsel van verhoudings.
Egte spiritualiteit gaan nie daaroor om die reëls na te kom om in God se goeie boekies te bly nie. Dit gaan nie oor die doen van die regte godsdienstige aktiwiteite nie. Dit gaan oor 2 verhoudings waarvan ons lees in Matteus 22: 37. “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”
Egte spiritualiteit begin wanneer ek in ‘n verhouding met God en my naaste leef. En dis hierdie verhoudings wat bepaal hoe ek my lewe leef en my keuses maak.

En dan kry ons die derde gedagte oor egte spiritualiteit in Romeine 12.
Dis die basis teksgedeelte van hierdie kursus. Oor die volgende 6 weke gaan ons in detail hierby stilstaan, so ek wil vandag net ‘n vinnige oorsig gee, sodat julle weet om te verwag.

Kom ek gee net eers vir julle die hele aanloop tot by Romeine 12.
Die Romeine brief is soos ‘n hofsaak opgebou.
In Romeine 1-3 word die aanklag uiteengesit. Dit is dat mense as gevolg van sonde, skuldig is voor God. Sonde beteken letterlik, “om jou doel te mis”. Ons doel is om in ‘n verhouding met God en ons naaste te leef.   
Die tweede deel, hoofstukke 3-4, bevat die uitspraak. Gelowiges word vrygespreek van hulle sondes, omdat Jesus in hulle plek gesterf het. Dis nie iets wat ons kan verdien nie, of waarvoor ons kan werk nie. Hy gee dit vir ons gratis en verniet. Deur genade. Al wat ons moet doen - ons moet dit glo.
Die laaste deel, hoofstuk 5-15, gee vir ons die gevolge van die vryspraak, naamlik ‘n lewe van vrede, hoop en liefde.
Waar pas hoofstuk 12 in?

In Hoofstuk 12 raak Paulus lekker prakties.Hy verduidelik wat dit prakties beteken om as ‘n vrygemaakte gelowiges te gaan leef. Want elke deel van ons lewe moet getuig dat ons vrygemaakte gelowiges is. En dis by hierdie goed waarby ons gaan stilstaan in die volgende 5 weke.
  1. Gee vir God wat Hy verwag. (Rom 12:1). Dit gaan oor oorgawe. Om jouself vir God te gee, sodat Hy jou kan gebruik.
  2. God se beste vir jou lewe. (Rom 12:2). Ons word almal beïnvloed deur die wêreld waarin ons leef. Hierdie wêreld maak dit soms vir ons moeilik om as gelowiges te leef. Daarom wil God ons denke vernuwe, sodat ons volgens Sy wil kan leef, want dit is die beste vir ons. Let op, ons word nie vernuwe deur harder te probeer of meer kerk toe te kom of heiliger te wees nie. Dis iets was God doen uit genade en liefde.
  3. Ontdek en aanvaar die egte jy. (Rom 12: 3-4). Om jouself te sien soos wat God jou sien. Iemand met sterkpunte en swakpunte. Iemand met gawes en potensiaal. Iemand wat uniek is in God se oë en wie ‘n unieke bydrae kan lewer.
Die eerste 3 temas gaan dus oor myself en my verhouding met God. Oor oorgawe, my denke wat vernuwe word en om myself nuut te verstaan. Met die vierde tema begin ons na buite kyk. My verhouding met my naaste en die wêreld.
  1. Beleef egte fellowship.(Rom 12: 9-13) Hier gaan dit oor ons verhouding met medegelowiges. Om die maskers te laat sak en werklik bymekaar te leer, bymekaar betrokke te wees, vir mekaar lief te wees en mekaar te ondersteun.
  2. Die laaste tema gaan oor hoe ek die kwaad in die wêreld moet hanteer (Rom 12:14-21). Ons kan nie wegkom van die kwaad in hierdie wêreld nie. Slegte goed gebeur met goeie mense. Mense ontnugter jou en maak jou seer. Hoe moet ek as ‘n gelowige in so ‘n wêreld optree en hierdie goed oorkom en hanteer.

Ek wil afsluit met ‘n waarskuwing. Hierdie goed waarna ons gaan kyk in Romeine 12 kan maklik weer ‘n nuwe stel reëls word waaraan ‘n mens moet voldoen om ‘n goeie Christen te wees. Paulus is nie besig om vir ons weer ‘n nuwe klomp wette te gee waaraan ons moet voldoen nie en waaraan ons onsself moet meet nie. Paulus wys hier vir ons hoe ons leef omdat ons dankbaar is vir die redding, die vryspraak wat ons deur Jesus ontvang het. Ons doen dit dus nie omdat ons iets van God wil hê nie, ons doen dit omdat ons dankbaar is vir dit wat ons reeds van Hom ontvang het. Dit is ons dankbare reaksie op dit wat God vir ons gedoen het.

So, ek wil julle uitnooi en uitdaag om aan hierdie reis na egte en verdiepte spiritualiteit deel te neem. Om sodoende te groei in jou geloof, om die mens te wees wat God vir jou bedoel het om te wees.
Ek wil jou uitdaag om die volgende 6 weke te commit om hierdie kursus te voltooi. Dis soos antibiotika – dit werk die beste as jy die kursus voltooi.

Wat behels die commitment?
  • Dis ‘n verbintenis om al die eredienste by te woon. As jy om een of ander rede nie hier kan wees nie. Om dan die preek te gaan lees. Ons sal dit teen ‘n Dinsdag op die website gelaai hê, waar jy dit kan gaan aflaai.
  • As jy by ‘n kleingroep inskakel, is dit ‘n verbintenis om die groepsbyeenkomste by te woon of om seker te maak dat jy die inligting kry as jy nie daar kan wees nie.
  • Daar is ook ‘n paar goed wat jy op jou eie moet gaan doen. Dis ‘n verbintenis om dit te doen.
  • Laastens vir die ouers. Die kinders en die tieners gaan ook hierdie kursus doen. Ek wil dus vra dat julle as ouers julleself sal verbind om te sorg dat julle kinders elke sondag hier sal wees om die kursus te voltooi. 

No comments:

Post a Comment