Sunday, May 15, 2011

Preek 15 Mei 2011

Gee vir God wat hy verwag!

Ons is besig met die kursus oor egte spritualiteit aan die hand van Romeine 12. Net om weer te hersien. Verlede week het ons gepraat oor die vraag: wat is egte spiritualiteit? Ons het gesê dat egte spiritualteit begin by ‘n positiewe  prentjie van God; dit is gebaseer op 2 kern verhoudings, naamlik my verhouding met God en my verhouding met my naaste; en ons het vining gekyk na die leiding wat Romeine 12 vir ons gee.

Dink gou bietjie oor hierdie vraag: wat verwag God van jou? Wat sal jy daarop antwoord?

In Amerika is daar ‘n navorsingsgroep, die Barna Research group, wat spesifiek navorsing doen oor kerk en gemeente sake. Hulle het ‘n tyd gelede navorsing gedoen om uit te vind wat Christene dink oor die vraag: wat verwag God van my? En hulle het nogal interessante resultate gekry. Hulle het gevind dat 80% Christene in Amerika dink dat God verwag van ons die meeste om die reëls na te kom, spesifiek die 10 gebooie.  ‘n Groot persentasie het ook gesê: God verwag getroue kerkbywoning, Bybel lees en om geld te gee. Dis nogal insiggewend veral omdat ons laas week mos gesê het dat spiritualiteit gaan oor ‘n verhouding met God en nie daaroor om die regte dinge te doen of nie te doen nie. Of oor ‘n stel reels nie.
So om dit in perspektief te plaas - vanoggend gaan ons stilstaan by hierdie vraag: wat is dit wat God van ons verwag.

In Romeine 12:1 lees ons: “Gee jouself as lewende en heilige offer…”
Dis die opdrag wat ons ontvang. Dis wat God van ons verwag – dat ons onsself volledig vir Hom sal gee. Wat beteken dit? Ek wil die verhaal van Abraham gebruik om hieroor na te dink.

Ons lees Abraham se verhaal in Genesis 12-22. Ek wil net so ‘n paar momente in hierdie verhaal uitlig. In die proses sal julle sien dat Abraham se lewe is ook maar ‘n journey. Hy is nie hierdie perfekte mens wat altyd die regte goed gedoen het nie. Hy is saam met God op ‘n journey en ek hoop julle sal dalk iets van julle eie journey in sy storie raaksien.

Sy verhaal begin in Genesis 12 waar God hom roep om weg te trek uit sy bekende omgewing. Lees Gen 12:1-4.
So, God sê vir hom, Ek wil hê jy moet trek. Ek wil hê jy moet my vertrou en ‘n stap in die geloof neem. Hy woon in een van die bekendste stede van daardie tyd. Sy familie is daar, sy huis is daar, sy wortels is daar. En God sê vir hom – Ek wil hê jy moet hierdie bekende omgewing en jou comfortzone agter laat en trek na ‘n onbekende plek toe wat ek nog vir jou sal wys. En God maak die belofte dat Hy ‘n geseënde mens sal wees. God vra dus van hom om alles te gee. Volledige oorgawe. 

Van Gen 12: 10 af lees ons van ‘n baie swaar hongersnood en Abraham trek Egipte toe. Op pad soontoe sê Abraham vir Sara dat sy moet sê dat sy sy suster is, want sy is ‘n mooi vrou en hy is bang dat die Farao hom sou doodmaak om vir Sara te kry. So Abraham, die geloofsheld word ‘n twyfelaar. Hy sal liewer vir Sara opoffer as om self in die slag te bly. En daarom vertel hy ‘n leuen. Bevestig net weer dat vrees en spanning bring dikwels die swak plek in ‘n mens se mondering uit. Dit wys vir ons dat maak nie saak hoe vroom, hoe beroemd of hoe bekwaam jy is nie. Almal is kwesbaar en het swakhede. Dit hou jou nederig en laat jou op God vertrou. Maar ten spyte van Abraham se swakhede los God hom nie. God hou aan om by hom te wees en om sy beloftes aan hom te bevestig.

En dan in hoofstuk 15 sien ons dat Abraham ontnugter is. Toe God hom destyds geroep het, het hy vir hom 2 beloftes gemaak, naamlik die belofte van ‘n nageslag en van ‘n land. Maar hy sien nog niks van hierdie beloftes nie. Hy het immers sy kant nagekom. Hy was gehoorsaam en het gedoen wat God van hom gevra het, maar niks gebeur nie. Hy spreek die frustrasie dan uit teenoor God. Maar God veroordeel hom nie, Hy weet waardeur Abraham gaan. En daarom bevestig hy sy belofte van ‘n nageslag weereens in vers 5.
Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.”

En in vers 6 sien ons dan hoe Abraham se teleurstelling en ontnugtering oorgaan in vertroue.
Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.”
Ook die belofte van ‘n land word deur God bevestig deur ‘n offerritueel. God bly getrou en Abraham moes Hom net vertrou. Weereens moes Abraham leer wat volle oorgawe beteken beteken.

Maar om te bly glo teen alle menslike moontlikhede in, bly moeilik. Abraham het nou wel hierdie belofte van God ontvang, maar Sara is nie oortuig nie. Sy was nog steeds nie swanger nie, en sy het begin ouer word. En daarom maak sy die voorstel vir ‘n surrogaat moeder. Dit was die gebruik in daardie tyd. As ‘n vrou nie kon kinders kry nie, dan kon die man ‘n kind hê by ‘n slavin en hulle het dan die kind as hulle eie grootgemaak. Abraham stem toe in en Ismael word gebore, maar van die begin af het dit net konflik en probleme in hulle huishouding veroorsaak.
Abraham hulle is ook maar net mense. Hulle probeer self die oplossing vind. Soos ons almal maak hulle goeie en slegte keuses. Maar die nice ding is dat God nie vir Abraham los nie, hy gaan soek nie iemand anders om Abraham se plek oor te neem nie. Hy verstaan vir Abraham. Hy verstaan dat ons almal maar net mense is wat foute maak.
En in Hoofstuk 17 lees ons hoe Hy die verbond met Abraham sluit. Die verbond wat vandag nog steeds bevestig word elke keer as ons ‘n kind laat doop. En ons sien hoe God vir Abraham en Sara ‘n seun gee. Isak word gebore as Abraham se erfgenaam, heeltemal teen alle verwagtings in. 

Sien julle die patroon wat hier aan die ontwikkel is. Aan die een kant is daar God wat sekere beloftes aan Abraham maak. Maar Abraham sukkel om vir God te vertrou en daarom faal hy elke keer. Maar elke keer verseker God hom weer van sy beloftes en herinner hy vir Abraham dat hy Hom maar kan vertrou. Dat hy hom heeltemal moet oorgee aan God.

Maar dan kom die finale uitdaging in hoofstuk 22. God vra vir Abraham om sy seun, Isak te gaan offer. En Abraham het toe gegaan, hout gekap, altaar gebou en vir Isak vasgebind. Reg om hom te offer soos God gevra het. En net toe Abraham vir Isak wou offer, toe keer God hom en gee ‘n skaap om eerder te offer. Die punt hiervan is dat God vra vir Abraham om dit waarvoor hy die liefste is op te offer. Hy moes leer dat alles, ook jou kosbaarste besitting behoort aan die Here. Hy moes leer om alles vir God te oor te gee en God te vertrou.

Kom ons gaan terug na die vraag aan die begin: Wat is dit wat God van ons verwag? Hy verwag alles. Hy verwag totale oorgawe. Soos Abraham moet ons bereid wees om alles aan Hom oor te gee. Rom 12: 1 sê dat ons onsself volledig aan Hom moet oorgee. Dit is ons wil, ons gedagtes, ons emosies, ons besittings, alles gee ons vir God. God verwag van ons totale oorgawe.

Te dikwels word die woord “oorgawe” egter geassosieer met dit wat ‘n mens moet opgee, dit wat jy gaan verloor of dit waarop jy gaan uitmis,  terwyl dit eerder moet gaan oor dit wat jy in die proses ontvang. Met oorgawe ontvang mens nuwe lewe, vrede, hoop, liefde, vryheid, lewe in oorvloed. Jy kry perspektief oor die lewe en oor wat regtig belangrik en wat nie.

Wat is die motivering daarvoor? Hoekom doen ons dit? Rom 12:1 sê dis “op grond van die groot ontferming van God”. Ons motivering vir totale oorgawe is nie om enigiets van God te verdien nie. Dis nie om in God se goeie boekies te kom nie. Oorgawe is ‘n dankbare reaksie op Sy genade. Dis omdat mens verstaan dat jou sondes vergewe is en dat God jou liefhet. Dis om te sê: “Ek glo dat God vir my ongelooflik lief is en goed is en daarom gee ek vir Hom my hele lewe.”

En die rede hiervoor vind ons in die laaste deel van die vers. “Dis die wesenlike van die godsdiens” – m.a.w. dis waaroor dit alles gaan. Dis hoekom ons gelowiges is. Oorgawe is die logiese en beste ding om te doen in die lig van dit wat God vir ons elkeen gedoen het. Oorgawe is een van die sleutels tot egte spiritualiteit.

Nou is die vraag: is dit iets wat jy al gedoen het?

Ek het ‘n oulike storie raakgeloop. Dis van middeljarige man wie se vrou oorlede is en hy moes klere bymekaar sit wat hulle vir haar sou aantrek voordat sy in die kis geplaas sou word. En hy kyk so deur haar kaste en sit die klere op die bed neer. Hy trek toe die onderste laai van haar kas oop en vind daarin ‘n toegedraaide pakkie. Toe hy dit oopmaak toe is dit hierdie mooi, duur sagte sy onderklere wat sy so tien jaar tevore gekoop het. Maar die prys was nog daaraan. Sy het dit nooit gedra, want sy het dit gebêre vir ‘n spesiale geleentheid. Hy gaan sit dit toe by die ander klere op die bed, want hy het gereken dis mos nou ‘n spesiale geleentheid. En hy gaan sit toe so langs die klere en sê: ”moet nooit enigiets bêre vir ‘n spesiale geleentheid nie.”
My ervaring is, dat baie mense, ook gelowiges hulleself bêre vir ‘n spesiale geleentheid. Hulle dink, ek sal myself en alles in my lewe oorgee eendag wanneer ek eers dit of dat gedoen het. Wanneer ek eers my lewe geleef het, wanneer ek eers sekere goed gekry het. En dan is dit dalk te laat.
God wil hê dat ons ons lewens nou aan Hom moet oorgee.

Ons gaan vir julle so ‘n kaartjie uitdeel. As jy reg is om jou lewe oor te gee, teken jou naam op daardie kaartjie. En dan, skryf ook jou adres daarop, en dan sal ons oor so ‘n maand dit vir jou pos, as ‘n herinnering daaraan dat jy jou lewe op hierdie dag aan God oorgegee het.
Van ons sal dit vandag weer doen – om te bevestig dat jou lewe aan God oorgegee is. Dis eintlik iets wat ons elke dag moet doen. Ander van julle doen dit dalk vir die eerste keer, wat wonderlik is. Maar vat die kans en gee jouself as ‘n lewende en heilige offer vir God. Want dis wat Hy vir ons verwag.

No comments:

Post a Comment