Sunday, May 22, 2011

Preek 22 Mei 2010

God se beste vir jou lewe.

Ons is nog steeds besig met die R12 kursus oor egte spiritualiteit. In die eerste week het ons gesê dat egte spiritualiteit gaan nie oor godsdienstigheid nie, maar oor ‘n verhouding met God. Verlede week het ons oor oorgawe gepraat met die verhaal van Abraham as riglyn. Ons het gesien dat oorgawe soms moeilik is, maar dit is ook die kanaal waardeur God die beste met ons werk. Vandag gaan ons gesels oor die tema: God se beste vir jou lewe.
Wanneer ons praat van God se beste, dan moet ons dit nie verwar met “die maklikste” of dat dit altyd gaan goed gaan met ons en dat ons alles gaan hê wat ons graag wil hê nie. Nêrens staan daar dat dinge altyd maklik gaan wees vir gelowiges of dat ons altyd alles gaan kry wat ons wil hê nie. Wanneer ons praat van God se beste dan gaan dit daaroor dat God my wil verander om die mens te wees wat Hy bedoel om te wees. Om te lewe volgens Sy wil – dit is die beste vir ons.

Die teks waarmee ons vanoggend gaan werk is Romeine 12:2.

Ons kan die vers in 3 dele opdeel – 2 opdragte en die uitkoms of doel. Ons gaan by elkeen van die dele stilstaan.

Opdrag 1: “Moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie”
As ek dit in ander woorde kan sê: “hou op om jou te laat beïnvloed en te vorm deur die invloede en die druk van die wêreld waarin jy leef.

Of ons dit nou wil weet of nie, ons almal word beïnvloed deur die waardes van die wêreld waarin ons leef. Elke dag word ons daarmee gebombardeer – op advertensieborde, in flieks, liedjies, video games, TV programme en die internet. Al hierdie goed bevestig dat die lewe gaan eintlik maar oor myself. Oor dit wat ek kan kry, oor dit wat ek moet hê, oor wie ek moet beïndruk, wat ek moet besit, waar ek woon, wat ek bestuur, hoeveel geld ek maak, wie my ken en hoe suksesvol ek moet wees. Ons dink as ons al die goed het, dan is ons gelukkig en suksesvol. En ons maak keuses en neem besluite op grond van hierdie onwaarhede wat aan ons verkondig word en in die proses lei onsself, ons gesinne en ons verhoudings daaronder.

Ons het laas week by die sinode weer oor hierdie goed gepraat en ‘n predikantvriend vertel toe dat hulle gesin besluit het om nie meer net hulle geld aan stuff gaan spandeer nie, hulle gaan dit eerder aan memories spandeer. Want hulle het agtergekom dat hulle allerhande nice tegnologie en goeters in hulle huis het, maar hulle spandeer nooit meer tyd as familie saam nie, en gaan nie eintlik iewers heen nie.

Ek lees onlangs ‘n artikel wat ook hierby aansluit – ‘n Britse skrywer en haar gesin wat besluit het om vir ‘n week te leef soos die mense in 1953 geleef het. Dit beteken hulle moes oral heen stap, moes die huiswerk  alles self doen, geen junkfood nie, geen TV, rekenaar of telefone nie. Dit het onder andere ook beteken dat sy as vrou by die huis moes bly en alles moes doen, huisskoonmaak sonder ‘n stofsuier, wasgoed met die hand was, vloere met die hand politoer en dan moes sy nog mooi aangetrek en gegrimeer wees vir wanneer haar man by die huiskom, want ‘n vrou moet altyd mooi lyk vir haar man. Hulle het ‘n paar dinge geleer daai week – hulle almal het gewig verloor, want hulle het orals heen gestap, hulle kos was varser en gesonder en hulle het kleiner porsies geeet. Dis hoekom jy in daai tyd ook minder oorgewig mense gesien het. Maar die belangrikste ding wat hulle agtergekom het, was hoe min hulle deesdae met mekaar tyd spandeer en met mekaar praat. Want die TV is heeltyd aan of hulle is heeltyd op die rekenaar of op hulle selfone besig. In daardie week het hulle weer in die aande om die tafel of voor die vuur gesit en met mekaar gepraat en hulle het weer hulle vriende en vriendinne in die oë gekyk, want daar was nie facebook en selfone nie. Ons het ‘n na-binne gekeerde, selfsugtige samelewing geword.   

Daarmee saam het ons ook verleer om te kan wag en te spaar. Alles moet mos dadelik gebeur, so ons maak al hoe meer skuld en plaas onsself al hoe meer onder druk omdat alles nou moet gebeur en omdat ons alles nou moet hê. Ek lees onlangs toe die nuwe Apple I-pad ‘n paar weke terug uitgekom het – in Hong Kong het mense mekaar by ‘n winkel vertrap om ‘n I-pad te kan koop. Mense het in die hospitaal beland omdat hulle nie net kon wag nie, hulle moes dit dadelik kry. 

In 1 Johannes 2: 15-17 word dit mooi saamgevat.
Die wêreld waarin ons leef voed ons selfsugtige begeertes en ons gierigheid en dit laat ons al hoe meer op onsself fokus. Dit maak ons selfsugtig.
Paulus sê dat ons moenie in hierdie slaggat trap nie – ons moenie toelaat dat hierdie mindset ons verlei en mislei nie, want dit het ‘n manier om jou weg te trek van God en van mense af.

Opdrag 2: “laat God julle verander deur julle denke te vernuwe”
As ek dit in ander woorde kan sê: “laat God toe om jou denke vernuwe en in die proses ook jou optrede en jou manier van leef te verander.”

Paulus skryf - die manier hoe ons kan loskom van die baie selfsugtige waardes waaraan ons in hierdie wêreld blootgestel is, is om vir God toe te laat om ons denke te verander.
Soos ons ook lees in Fillipense 2:13 “…want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.”
Ons kan nie dit op ons eie regkry nie. Ons gaan dit nie regkry deur skuldig te voel en harder te probeer nie, of om reëls na te kom of meer en meer godsdienstig te raak nie – dis iets wat God doen.  
God wil ‘n metamorfose in ons lewe teweegbring. Soos met ‘n skoenlapper – voordat die mooi skoenlapper daar was, was daar eers ‘n lelike wurm. Dan vind daar ‘n transformasieproses in ‘n kokon plaas en die wurm verander in ‘n mooi skoenlapper.

Hierdie transformasie gebeur van binne af – dis iets wat God hier in ons binnekant doen en mettertyd dan spoel dit oor na ons uiterlike lewe. Dit beïnvloed dan hoe ons ons lewe leef, hoe ons na onsself kyk, hoe ons na ander mense kyk en hoe ons na die wêreld kyk.

So, hoe vernuwe God ons denke? Wat gebruik Hy daarvoor? 
Hy gebruik sy Gees wat in ons werk;
Hy gebruik die Bybel – dis hoekom dit belangrik is om tyd met die Bybel te spandeer;
Hy gebruik die natuur – daarom kan ons nie maar net voor die TV en die rekenaar in ons huise sit nie; oorweeg ‘n slag om vir ‘n dag of 2 te vas van die TV en die internet en eerder daai tyd in die natuur of met jou mense te spandeer.
Hy gebruik goeie boeke - dis hoekom ons ook ons kinders moet aanmoedig om te lees, maar ons moet dit natuurlik self ook doen;
Hy gebruik ander mense om in te bou in ons lewens – nie net medegelowiges nie, maar ook mense wat anders dink en praat en lyk as ek.

Vraag is: hoe lyk ons geestelike en intellektuele dieet – dit wat jy inneem is belangrik. As jou geestelike dieet net bestaan uit TV kyk, tydskrifte lees, self-help boeke en video-games dan gaan jou lewe later net om jouself draai en jou denke gaan nie vernuwe word nie.

Hierdie proses van denke vernuwe maak dat ons anders begin dink – ek begin besef dat die lewe nie net oor myself gaan nie, ek begin anders dink oor gebed, Bybellees en oor die erediens, ek begin anders dink oor my verhouding met ander mense en oor my roeping in hierdie wêreld. Stadig maar seker binne die kokon van God se liefde word ek verander soos die wurm wat ‘n skoenlapper word. Word ek die mens wat God my bedoel het om te wees. Dit is God se beste vir my lewe.

Uitkoms of doel van dit alles: “Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.”
Die doel van ons verandering en ons nuwe denke, sê Paulus, is dat dit nie meer vir ons gaan oor ons eie wil en die bevrediging van ons eie behoftes nie, maar dat ons God se wil sal beleef en dat ons lewens iets van God se wil sal demonstreer.
Vernuwing van my denke herinner my daaraan dat Hy die Here van my lewe is – nie ekself nie en nie die waardes van hierdie wêreld nie. Dit help my om te verstaan dat die lewe gaan oor dit wat ek gee, oor wie ek liefhet, oor hoe God my gebruik, oor die verskil wat ek maak, ten spyte van hoeveel ek verdien, waar ek woon, wat ek bestuur of wie my ken. Dit is God se beste vir my lewe. Mag ons elkeen dit verstaan en ons eie maak.


No comments:

Post a Comment