Sunday, June 5, 2011

Preek 05 Junie 2011

Beleef egte fellowship

Vanoggend gaan ons praat oor wat dit beteken om egte fellowship te beleef. Aan die begin van ons kursus het ons gesien dat een van die beginsels van egte spiritualiteit gaan oor my verhouding met God en met my naaste. Afgelope 3 temas het gegaan het meer gegaan oor myself en my verhouding met God. Vandag gaan dit meer gaan oor my verhouding met ander mense. 
Die fokusteks hieroor is Romeine 12: 4-8
In hierdie teks gaan dit oor fellowship of gemeenskap tussen gelowiges. Paulus noem ons die liggaam van Christus wat aan mekaar verbind is en mekaar nodig het. 

Hoekom praat ons hieroor? Navorsers sê dat eensaamheid een van die grootste problem is in die wêreld van vandag. Dis byvoorbeeld hoekom ‘n land soos Swede so ‘n hoë selfmoordsyfer het. Dis een van die mees ontwikkelde, modern en veiligste lande om in te woon, maar dit het terselfdertyd ook een van die hoogste selfmoordsyfers. Eensaamheid is nogal ironies in ons wêreld, want nog nooit in die geskiedenis van die wêreld was mense in staat om so vining en maklik te kommunikeer soos nou nie, maar is terselfdertyd ook so eensaam. Ons het email, voicemail, Blackberry, What’s app, iphone, fax, videokonferensies, facebook, twitter om met mekaar te kommunikeer. As jy wil kommunikeer kan jy, en tog is mense eensaamer as wat hulle nog ooit voorheen was.
Ons sien dit selfs in die kerk, wat mos nou die plek is waar mense bymekaarkom as ‘n geloofsgemeenskap, dat mense nie connect nie. Mense stap in die kerkgebou in, sing ‘n paar liedere, sit en luister, staan op en stap weer alleen uit. Sonder dat hulle eers een woord met iemand gepraat het. Eensaamheid is een van die groot probleme van ons tyd en daarom is dit nodig om daaroor te praat as ons praat oor egte spiritualiteit.

Verlede week het Jalize gepreek daaroor dat ons moet leer om vrede te kry met wie ons regtig is. Dat ons nie moet toelaat dat ander mense se opinies, bagasie uit die verlede of my omstandighede moet bepaal wie ek is nie. Maar dat ons met God se hulp moet wegstap van alles wat my minder maak en afbreek. By God kry ons rus en vrede met ons omstandighede en met wie ons is. Ons moet saam met God vorentoe stap.

Maar as ons kies om so saam met God vorentoe te stap, dan stap ons ook in ‘n community in. Dan raak ons deel van ‘n geloofsgemeenskap. Dis nie God se wil dat ons op ons eie gelowig moet wees nie. dis nie in Sy karakter nie. God is nie ‘n individualistiese God nie – Hy openbaar Homself tog immers as Vader, Seun en Heilige Gees. En daar is ‘n baie intieme en diep verhouding tussen hulle drie.
Dit word ook bevestig deur die werking van die Gees in mense se lewens. Donderdagaand by die hemelvaartdiens het Jalize ons weer gewys dat die Gees in die OT op individele gelowiges gekom het, veral wanneer hulle ‘n spesifieke taak gehad het om te verrig. In die NT is die Gees vir alle gelowiges gegee. So, elkeen van ons het nie ons eie heilige gees wat in ons woon nie – dis die een Heilige Gees wat in ons woon en ons aanmekaar bind.

Jesus bevestig dit ook in Matteus 12: 46-50.
Jesus sê dus dat sy familie bestaan nou nie net meer uit sy bloedfamilie nie, dit bestaan uit almal wat in Hom glo en sy wil doen.
In Paulus se woorde – omdat ons glo is ons almal deel van Christus se liggaam. Ja, ons is verskillend en ons bring elkeen ‘n ander talent en gawe na hierdie liggaam toe, maar ons is een. En binne die liggaam word ons deur die liefde opgebou en empower om onsself uit te leef.

‘n Liggaam het mos ‘n geraamte wat alles bymekaar hou. Sonder ‘n geraamte sal ons nie kan regop bly en funksioneer nie. Hierdie liggaam van Christus word ook deur ‘n geraamte bymekaar gehou – ons noem dit “die liefde”.
En Jesus is baie ernstig hieroor. Trouens dis vir hom so belangrik dat hy dit kort voor sy dood beklemtoon. Wanneer mense weet jy is besig om dood te gaan, dan is jy mos geneig om die belangrike goed met mense te deel. Dis wat Jesus ook doen. Nadat Hy sy dissipels se voete gewas het en vir Judas as sy verraaier aangewys het, gee hy vir hulle ‘n laaste opdrag:
Johannes 13: 34-35
Dis vir hom so belangrik dat hy dit net ‘n bietjie later in hoofstuk 15 nog 2 keer herhaal, elke keer bietjie ernstiger: Johannes 15: 12 en weer in vers 17.

Dis ‘n opdrag wat Jesus vir sy volgelinge gee en Hy gebruik homself as ‘n voorbeeld. Hy beveel hulle om mekaar lief te hê, soos wat Hy hulle liefhet. So Hy sê – as julle wil weet hoe om mekaar lief te hê, kyk na my, kyk hoe ek julle liefhet en gaan doen dan dieselfde. Hy het hulle onvoorwaardelik lief, hy is bereid om opofferings te maak en homself te gee vir hulle (sy lewe af te lê), hy is bereid om hulle te dien (Ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien), hy is lief vir hulle selfs al was dit nie gemaklik of maklik nie. Hy ontmoet hulle waar hulle is en is lief vir hulle net soos hulle is. Hy glo in hulle, selfs wanneer hulle nie in hulleself glo nie.
Dis so anders as die liefde wat ons in die wêreld beleef. Liefde wat voorwaardes stel, liefde wat sê jy moet eers goed genoeg wees en die regte dinge doen en sê. Liefde wat nie bereid is om opofferings te maak nie. Liefde wat tog net nie buite my gemaksone mag gebeur nie. Jesus sê ons moet liefhê, soos wat Hy liefhet.

En die rede daarvoor sê Jesus: sodat die wêreld kan sien julle is my dissipels.
Ek was in die week in ‘n gesprek waar iemand vertel het van ‘n studietoer wat hulle na Zimbabwe en Namibië onderneem het. Hulle het gemeentes en teologiese skole besoek. Hy vertel hoe hulle by dorpie in Zimbabwe beland het en ‘n familie daar ontmoet het wat betrokke was by voorvader aanbidding. Hoe dit werk, die pa is die een wat met die voorvaders kommunikeer namens die huisgesin. En as hy sterf, dan neem die oudste seun oor. Een van die dogters het toe in Harare gaan studeer en daar tot bekering gekom. Toe sy by die huis kom en dit vir haar familie vertel toe word sy deur die pa weggejaag. En sy het toe op ander plek gaan woon. Maar sy het gereeld teruggegaan en haar mense besoek en net liefde bewys. Elke keer het haar pa haar weggejaag. Sy het aangehou terugkom, Sy het hulle nie geoordeel of afgeskryf nie, sy het net liefde gewys. Na 3 jaar kon haar pa dit nie meer hou nie en hy het haar terug verwelkom in sy huis. Hy kon nie meer nee sê vir liefde nie. Liefde is die sterkste getuienis wat ons het, sterker as enige argument of boek. Daarom is Jesus so ernstig daaroor.

In Johannes 17 kry ons die geleentheid om in te luister op ‘n intieme gesprek tussen Jesus en Sy pa. Dit gebeur op die laaste nag van Jesus se lewe. Luister net wat bid Hy: Johannes 17: 20-23.
Op die laaste nag van sy lewe bid hy dat sy dissipels mekaar sal liefhê en een sal wees soos wat Hy en sy pa is. Sodat hulle egte eenheid en fellowship met mekaar sal beleef. Sodat die wêreld kan sien wie Jesus is en kan glo wie Hy is.

Egte fellowship is kragtig. Egte fellowship is iets waarna alle mense streef. Dit gaan oor baie meer as bloot net deel wees van ‘n span of ‘n klub of van ‘n kerk – dit gaan daaroor dat ons ons lewens met mekaar deel. Dis wanneer die liefde van Christus met mekaar gedeel word. Dis ‘n plek waar jy jouself kan wees en waar jy liefgehê word ten spyte van al jou worstelinge, hang-ups en snaaksighede. Dis ‘n plek waar jy empower word om te dien volgens jou talente en gawes. Dis ‘n plek waar jy ondersteun word om die mens te wees wat God jou bedoel het om te wees. En ja, dit gaan nie altyd perfek wees in hierdie gemeenskap nie, want ons ook maar net mense, maar solank daar liefde is, is dit OK.

Ek wil afsluit deur te lees hoe die Message vertaling Romeine 12: 4-6 weergee. Want dit vat eintlik alles saam.
“In this way we are like the various parts of a human body. Each part gets its meaning from the body as a whole, not the other way around. The body we're talking about is Christ's body of chosen people. Each of us finds our meaning and function as a part of his body. But as a chopped-off finger or cut-off toe we wouldn't amount to much, would we? So since we find ourselves fashioned into all these excellently formed and marvelously functioning parts in Christ's body, let's just go ahead and be what we were made to be, without enviously or pridefully comparing ourselves with each other, or trying to be something we aren't.”

No comments:

Post a Comment