Sunday, June 12, 2011

Preek 12 Junie 2007

Oorkom die kwaad wat jou aangedoen is

Verlede jaar in November het ek op Melkbosstrand ‘n couple getrou. Hulle was albei in hulle laat veertigs en albei se tweede huwelikke. Hulle het dit beleef as ‘n tweede kans wat hulle gekry het en het baie uitgesien na ‘n nuwe lewe saam. Twee weke gelede toe loop ek die vrou raak in Canal Walk winkelsentrum. Toe ons begin praat toe sien ek dadelik sy is half verwilderd, maar ook dankbaar om my te sien, want sy wou my bel en het my nommer verloor. Want haar man is 2 weke vantevore oorlede aan ‘n massiewe hartaanval. En wat dit toe nog erger maak, is dat hulle huwelik na 6 maande nog nie by Binnelandse sake geregistreer is nie, en nou moet sy ‘n verklaring gaan aflê om te bevestig dat hulle wel getroud is. Soos julle kan dink, sy is kwaad en bitter en sukkel om hierdie onreg wat haar aangedoen is te verwerk.
Dit bevestig net weer vir my, daar is nie enige waarborge in hierdie lewe nie. Soms gebeur daar iets onverwags soos ‘n hartaanval, kanker of motorongeluk.
Soms is dit egter iets wat jou aangedoen word. Soos ons sien met die hofsaak wat nou so in die nuus is – die ouens wat ‘n gesin op ‘n plaas in die Vrystaat vermoor het.
Ander kere is dit weer iemand wat jou seergemaak, ontnugter, teleurgestel, dalk mishandel het. Dalk is dit iemand wat jou ingeloop het met geld of besigheid. Neem gou ‘n oomblik en dink oor jou lewe, aan die kwaad wat jou al aangedoen is, aan kere wat iemand jou seergemaak, ontnugter of teleurgestel het. Jy gaan dit nie vir iemand vertel nie, dink net daaroor. Wie se prentjie kom by jou op? Dalk is dit nie iets wat iemand aan jou gedoen het, of dalk aan iemand wat naby aan jou is.

Die vraag is nou: hoe moet ons as gelowiges reageer op hierdie kwaad/onreg in die wêreld? Hoe moet ons reageer op die kwaad wat aan ons gedoen is? Ons almal word een of ander tyd daardeur geraak. Niemand is gevrywaar nie. Slegte goed gebeur met die beste mense. Hoe moet ons daarop reageer?
Wat ons baie keer geneig is om te doen, is om dit te onderdruk of te ignoreer, of jy wil dalk wraak neem. En dan loop jy met die ding in jou rond. Vat gou die klip, wat julle by die deur gekry het, in jou hand . Die kwaad word soos ‘n klip wat jy met jou saamdra en dit beïnvloed jou verhouding met God, met ander mense en dit veroorsaak kwaad en bitterheid. Hoe moet ons dan daarmee maak?

Kom ons gaan kyk na iemand in die Bybel wat moes deal met ‘n klomp kwaad wat hom aangedoen is. Dis die verhaal van Josef. Kom ons lees in Genesis 37-50. Ek gaan dit nie lees, ek gaan julle net in breë trekke die storie vertel.
Josef kom uit ‘n disfunksionele gesin. Hy is sy pa se witbroodjie wat natuurlik nie goed afgaan by sy broers nie. Josef is die gunsteling. Sy pa maak selfs vir hom ‘n spesiale jas wat hom nog meer laat uitstaan en maak dat hy bietjie arrogant ook raak. Wat dit nog erger maak is dat hy slegte stories oor sy broers ook aandra.
Dan gee God vir hom sekere drome en in plaas daarvan dat hy die drome koester, blaker hy dit uit en vertel vir sy familie dat die drome sê dat hulle nog eendag voor hom gaan buig. So asof hy belangriker as hulle is. Dit alles maak dat sy broers jaloers is op hom en van hom wil ontslae raak.
So besluit hulle eers om hom dood te maak, maar uiteindelik gooi hulle hom in ‘n put. Maar toe daar ‘n klomp Medianitiese handelaars verbykom, verkoop hulle hom as ‘n slaaf. En so beland Josef toe as ‘n slaaf in Egipte in die huis van Potifar.
Daar in die huis sien Potifar se vrou eendag vir Josef raak en hy lyk vir haar na ‘n nice ou en sy probeer hom verlei. Toe hy nie wil toegee nie, beskuldig sy hom dat hy haar wou verkrag en so beland Josef toe onskuldig in die tronk.
Terwyl hy in die tronk is word 2 van die koning se amptenare saam met hom opgesluit en leer vir Josef ken. Een nag toe droom hulle en Josef lê hulle drome uit en dit word waar. En Josef vra vir hulle om tog vir hom ‘n goeie woordjie te doen wanneer hulle vrygelaat word, maar natuurlik vergeet hulle van hom.
Twee jaar later het die koning ‘n droom, wat niemand kan uitlê nie. En skielik onthou een van die amptenare vir Josef en die koning laat hom kom en hy lê die koning se droom uit en hy gee vir God die eer daarvoor. As gevolg van die droom se uitleg word Egipte toe gered van hongersnood en die koning is so beindruk dat hy vir Josef as sy tweede in bevel aanstel.

Josef het dus ‘n groot klomp onreg in sy lewe beleef. Sommige daarvan was sy eie skuld omdat hy arrogant was, maar klomp kwaad en onreg is hom aangedoen deur sy broers, deur Potifar en sy vrou, deur die amptenare wat hom in die tronk vergeet het. Hy het dus goeie reg gehad om kwaad te wees, om bitter te wees, om te wil wraak neem. Maar hy doen dit nie.

Hy styg uit bo sy omstandighede. Hy word nie ‘n slagoffer van sy omstandighede nie. Hy kry nie homself jammer en voel dat die wêreld hom skuld hom nie. Hy is nie ‘n victim nie.
Hy gebruik die gawes wat God vir hom gegee het om uit sy slegte situasie te kom. Hy het die gawe gekry om drome uit te lê, en hy was ‘n goeie administrateur en bestuurder. Hy gebruik dit om uit sy omstandighede uit te kom.   
Deur sy gawes te gebruik vorder hy van ‘n slaaf tot die hoof van Potifar se huishouding. In die tronk word hy in beheer geplaas van al die gevangenes. Hy lê die amptenare en die koning se drome uit en word dan aangestel as die tweede in bevel in Egipte. Hy laat nie toe dat sy omstandighede hom onderkry nie, met God se hulp styg hy bo sy omstandighede uit. Hy is met ander woorde nie ‘n victim van die onreg wat hom aangedoen is nie.

Hy hou aan om op God te vertrou. In sy omstandighede sou dit maklik gewees het om kwaad te word vir God oor al die dinge wat hom aangedoen is. Dit sou maklik gewees het om vir God af te skryf. Maar hy doen dit nie. Hy hou aan om op God te vertrou. En deur die hele storie sien mens hoe God betrokke bly en vir hom krag en insig en leiding gee.
Dit word bevestig deur die naam van Josef se tweede seun. Sy tweede seun se naam is Efraim, dit beteken “vrugbaar” – want, sê Josef, “God het my vrugbaar gemaak in die land waar ek verneder is.” Hy hou vas aan God temidde van sy slegte omstandighede.
Dit bevestig maar net weer wat Paulus in Romeine 8:28 skryf:  “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet.”
En in vers 38: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping kan ons ooit van die liefde van God skei nie.”
 
En dan die laaste, baie belangrike ding: Josef vergewe die wat die onreg aan hom gedoen het en hy seën hulle. Terwyl Josef daar in Egipte in beheer was, ontstaan daar ‘n hongersnood en Josef se pa en broers trek Egipte toe om koring te gaan koop. So dis mos nou die ideale geleentheid vir hom om wraak te neem vir dit wat hulle hom aangedoen het. Hy is mos in die magsposisie. Maar hy doen dit nie, hy vergewe hulle. En hy gaan nog verder, hy seën hulle en versorg hulle.
Ons sien dit ook in die naam van Josef se oudste seun. Sy oudste seun se naam was Manasse. Dit beteken “vergeet”. Want, sê Josef, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.”
In Romeine 12: 14 skryf Paulus: “Seën julle vervolgers, ja, seën hulle, moet hulle nie vervloek nie.
En in vers 21: “Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.”
Wanneer jy die kwaad en onreg wat jou aangedoen is wil hanteer deur wraak te neem, dan is dit soos om ‘n vuur te blus, deur petrol daarop te gooi. Of soos iemand gesê het, dis soos om gif te drink en te wag vir die ander persoon om dood te gaan.
Die beste manier om kwaad te oorkom, is om te vergewe en om goed te doen. 

En die rede hoekom ons dit kan doen, is omdat Christus dit vir ons gedoen het. Ek kan kies om te vergewe en vry te spreek omdat Christus aan ‘n kruis my vergewe en vrygespreek het. Christus het vir my gegee wat ek nie verdien nie. En daarom maak hy dit ook moontlik om vir mense te gee wat hulle nie verdien. Vergifnis is om vir mense te gee wat hulle nie verdien nie.
En om ons dan nou weer te herinner aan dit wat Jesus vir ons gedoen het, gaan ons nou die nagmaal gebruik. Vanoggend se nagmaal is ‘n viering van vergifnis. God wat deur Christus ons vergewe het en dit daardeur vir ons moontlik maak om ander te vergewe.

Nagmaal uitdeel en instel

Noudat ons weer, met die nagmaal, onder die indruk gekom het daarvan dat ons deur Christus vergewe en vrygespreek is, is dit tyd om te deal met die kwaad wat ons aangedoen is. Aan die begin van die diens het ek gesê dat julle daai klip moet vashou as ‘n herinnering aan die kwaad wat jou aangedoen is. Nou wil ek julle die geleentheid gee om dit vir God te gee deur die klip hier voor by die kruis te kom neersit.
Maar daar is 2 dinge wat jy dan daarmee saam moet doen:
  • Jy moet kies om pad vanvergifnis te stap en jy moet vir daardie persoon gaan bid en goed doen..
  • As jy dalk kwaad is vir God, dan moet jy dit vir Hom gaan sê.
As jy gelukkig genoeg is om nog nie sulke kwaad of onreg in jou lewe te gehad het nie, neem dan die klip saam huistoe as ‘n teken van dankbaarheid.



No comments:

Post a Comment