Sunday, June 19, 2011

Preek 19 Junie 2011

R12 afsluiting en viering

So kom ons nou aan die einde van die R12 kursus. Vanoggend gaan ‘n afsluiting en viering van die kursus wees. Viering van die wat ons geleer het, maar ook van dit wat nou voorlê. Want die uitdaging is om nou dit wat ons geleer te gaan uitleef. Heel aan die begin het ek mos gepraat daaroor dat Christene dikwels in kompartemente leef – jy het jou geloofslewe en werkslewe en dies meer. En die uitdaging is om ons geloof geintegreerd uit te leef. So dis nou maklik om die kursus ook in ‘n kompartement te plaas, sonder dat dit teveel invloed het in my lewe.
Ek wil vanoggend se diens in 3 dele opdeel. Eerstens gaan ons teugdink en onthou wat God gedoen het, dan gaan ons vir God eer vir wat Hy gedoen het en laastens gaan ons vorentoe kyk.

Om te onthou en terug te dink is belangrik. Daar is mos ‘n spreekwoord wat sê, as jy wil weet hoe om vorentoe te gaan, is dit belangrik om te onthou waar jy vandaan kom. In die Bybel sien mens dit ook baie keer, veral in die Ou Testament waar God gereeld vir die volk herinner waar hulle vandaan kom. Trouens daar is ‘n hele boek wat daaraan gewy word – Deuteronomium.
Dis eintlik een lang preek deur Moses op die Woestynvlaktes, oos van die Jordaan, voordat hulle in die beloofte land ingaan en voordat Moses sou sterf. Moses is eintlik maar net besig om die volk te herinner aan alles wat hulle oor die afgelope jare beleef het – verlossing, rebelering, oorloë, versorging, gebooie, leiding van God. Hulle moet dit onthou sodat hulle voorbereid is vir die trek en die lewe in die beloofde land.

En die rede vir onthou: As mens vergeet wat God in die verlede gedoen het, dan begin jy teveel fokus op dit wat jy nie het nie, in plaas daarvan om te fokus op dit wat jy wel het en dankbaar daarvoor te wees. As jy onthou wat God gedoen het, dan bemagtig dit jou vir dit wat voorlê.

So as ek terugkyk oor die afgelope 6 weke – dan onthou ek dat God vir ons geleer het, dat Hy die beste met ons werk, as ek myself volledig aan Hom oorgee. Met oorgawe ontvang mens nuwe lewe, vrede, hoop, liefde, vryheid, lewe in oorvloed. Jy kry perspektief oor die lewe en oor wat regtig belangrik en wat nie.
Ek het ook geleer dat God ons denke wil vernuwe sodat ons volgens Sy wil kan leef. Want sy wil is die beste vir ons lewe.
Ek het geleer dat ons moet vrede maak met wie ons is, dat ons onsself moet sien soos God ons sien. Dat ons ontslae moet raak van dit wat ons minder maak en ons terughou.  
Ek het geleer wat dit beteken om egte fellowship te beleef. Dat ons mekaar nodig het, en moet opbou en bemagtig.
En verlede week het ek geleer dat ons die kwaad en onreg wat ons in die lewe beleef kan oorkom deur die proses van vergifnis, gebed en deur goed te doen.
Ek onthou ook elke email wat ek gekry het van gemeentelede oor hulle belewenis van die kursus; al die gesprekke wat daar op die gemeente se facebook blad was; die ervarings wat ons hier beleef het met die papiertjies wat verbrand is en die klippe wat gepak is; al die gesprekke in die kleingroep. So, ek kan terugkyk en sien hoe God met ons was en hoe Hy ons geleer en gevormhet, die afgelope 6 weke.

En dit bring my dan by die tweede gedeelte van vanoggend se diens. Ons kan maar net vir God die eer gee. In Psalm 115:1 lees ons: “Nie aan ons nie, Here, nie aan ons nie, maar aan u Naam kom die eer toe, want dit is U wat liefde en trou bewys.”
Ons bring eer aan God deur ons sang, deur aanbidding, deur ons Godstories vir mekaar te vertel, maar veral ook deur die manier waarop ons ons lewe leef.

Om eer aan God te bring wil ek nou gou kans gee vir ‘n paar Godstories. Is daar dalk van julle wat gou in ‘n sin of twee wil vertel wat julle die afgelope 6 weke geleer het? Daarna gaan ons vir God eer gee deur ‘n lied te sing.

Dit bring my dan by die derde deel van vanoggend se diens. Ons gaan nou vorentoe kyk. Dit gaan oor die vraag: Hoe behou ek dit wat ek geleer het en gaan leef daarmee?
Lees gou Spreuke 3: 1-6

Belangrikste ding is: vertrou God. Dit gaan nie oor reëls wat nagekom moet word nie, dit gaan daaroor om meer en meer godsdienstig te raak nie of harder te probeer nie. Dit gaan wel oor: Wees oop, wees eerlik, moenie so hard wees op jouself nie, aanvaar dat jy gaan foute maak. Dis ‘n journey waar dit vir jou gaan voel of jy soms 1 tree vorentoe en 2 treë terug gaan gee. En dis OK, solank jy net vashou aan dit wat God jou geleer het, en solank jy net op God vertrou.

Daarmee saam – leef jou lewe in gemeenskap met ander gelowiges. Ek het in die week ‘n oulike email gekry. Die storie van die ystervarkies. Dit was ‘n koue wintersnag en die ystervarkies het besef, die enigste manier om warm te word is as hulle styf teen mekaar lê. Maar die problem was, as hulle te styf teen mekaar is, dan steek hulle penne mekaar. En hulle het toe weer wegbeweeg van mekaar af en dan weer koud gekry. Hulle het toe ‘n keuse, hulle kan wegbeweeg en doodgaan van die koue of maar saamleef met die steke van hulle penne. Die moral van die storie – die beste verhoudings waaruit ons die meeste groei en leer, is nie die wat perfekte mense bymekaar bring nie – die beste verhoudings is wanneer ons leer om met die foute van ander mense saam te leef, sodat ons saam kan groei. Ons het mekaar nodig – om bymekaar te leer, om mekaar op te help, te troos en mekaar te ondersteun om die dinge wat ons van God leer te kan uitleef. En soms gaan dit dalk ongemaklik en stekelrig wees, maar dis ook die beste manier om bymekaar te leer. Dis hoekom kleingroepe ook so goed is vir ‘n mens.

En laastens – ons het ‘n roeping om God se ambassadeurs in hierdie wêreld te wees. Ons verteenwoordig God in die wêreld. In die manier hoe ons ons werk doen, hoe ons mense hanteer, hoe ons verhoudings bou, hoe ons brûe bou. En ons hoef nie perfek te wees nie, ons gaan foute maak, maar die manier hoe ons ons foute regmaak is ook ‘n getuienis. Ons het ‘n roeping om Romeine 12 uit te leef. 

Om op te som:
Mag ons onthou dit wat ons die afgelope 6 weke geleer het.
Mag ons elke dag vir God die eer gee vir dit wat Hy gedoen het en steeds elke dag besig is om te doen.
Mag ons vorentoe kyk en gaan leef met dit wat ons geleer het.
Mag ons God se leiding vetrou, mag ons mekaar vertrou en opbou en mag ons egte ambassadeurs in hierdie wêreld wees.

No comments:

Post a Comment