Sunday, September 4, 2011

Preek 04 Sept 2011

Barnabas die getuie
Handelinge 13: 13-52

Baie jare gelede het die volgende advertensie in ‘n Londonse koerant verskyn: "Men wanted for hazardous journey. Small wages, bitter cold, long months of complete darkness, constant danger, safe return doubtful." Die advertensie was geplaas deur Sir Ernest Shackleton, die bekende Arktiese ontdekkingsreisiger. Hy het 1000de reaksies gekry. Mense wat lus was vir so ‘n avontuur. Barnabas en Paulus het ook gesê hulle is bereid om op so ‘n onsekere avontuur gaan.
Lees Handelinge 13: 1-3.

So vertrek hulle toe op hierdie “sending” avontuur - hulle eerste sendingreis en beland in Antiogië in die Romeinse provinsie Pisidië waar hulle een van die sinagoges besoek. Nadat hulle al die formaliteite afgehandel het, nooi die leiers van die sinagoge vir Barnabas en Paulus om iets te sê. En dan volg Paulus se eerste toespraak.
Die toespraak bestaan uit 4 dele:
Hy begin met ‘n oorsig oor Israel se geskiedenis(13: 16-25): Hy vertel van hulle tyd in Egipte, hoe hulle deur die woestyn getrek het, hoe hulle in Kanaan aangekom het. Hy vertel hoe Rigters aangestel is as leiers van die volk. Saul wat die eerste koning was en sy opvolger Dawid uit wie se nageslag Jesus uiteindelik gebore sou word.
Jesus se sterwe en opstanding (13:26-31): Hy vertel hoe Jesus deur Pilatus ter dood veroordeel is, hoe hy gesterf het, begrawe is, maar ook weer opgestaan en aan verskillende mense verskyn het. En hierdie mense is nou God se getuies.
Gebruik tekste uit die Ou Testament om te bevestig dat Jesus uit die dood opgewek is(13:32-37): Hy gebruik Ps 2:7, Ps 16:10 en Jes 55:3 om te beklemtoon dat Jesus wel die Messias was waaroor die mense reeds in die OT gedroom het.
Eindig met ‘n praktiese toepassing(13:38-41): Hy beklemtoon dat verlossing nie moontlik is deur die nakoming van die wette en reels nie. Genade en geloof wat deur Jesus moontlik gemaak is, is die enigste manier om verlossing te beleef.

Die mense was so beïndruk met die toespraak dat hulle dadelik vir Barnabas en Paulus uitnooi om die volgende week weer terug te kom om verder met hulle te gesels. Deur die loop van die week gesels Paulus en Barnabas heeltyd met die mense en vertel vir hulle van God se genade. Dit maak natuurlik toe dat daar by die volgende byeenkoms in die sinagoge heelwat meer mense opdaag om te kom luister – ook nie-Jode. En daarvan het die Jode niks gehou nie en hulle begin vir Paulus en Barnabas in die openbaar verneder en beledig. Maar hulle het hulle nie daardeur laat afsit nie, trouens dit het hulle net nog meer gemotiveer om uit te gaan en getuies te wees van God se genade.
Die interessante ding is dat die nie-Jode, die heidene meer ontvanklik en oop is vir die evangelie as die Jode. Mense wat dus vroeër uitgesluit was, word nou deur Barnabas en Paulus ingesluit en deelgemaak van die gelowiges. So word kulturele grense, taalgrense en geografiese grense deur die evangelie oorgesteek. Mense wat vroeër niks met mekaar te doene wou hê nie, word nou deur hulle geloof met mekaar verbind.

Vandag se tema gaan oor getuienis, en wat ons kan leer by Barnabas en ook by Paulus as dit kom by getuienis. En daar is ‘n paar goed wat ons kan leer.

Getuienis gaan oor God, dit gaan nie oor my en my geloof nie. Een van die goed wat my vreeslik irriteer wanneer mense oor hulle geloof praat is wanneer hulle hulle geloofstorie vertel asof hulleself betrokke was by die verandering wat in hulle lewe gebeur het.  Mense weet later nie meer of hulle oor hulleself of oor God praat nie. Hier stel Paulus en Barnabas vir ons ‘n voorbeeld. In sy toespraak vertel Paulus die volk se geskiedenis, nie omdat die volk so wonderlik is nie, maar om God se betrokkenheid in hulle lewe te bevestig. En uiteindelik eindig hy by dit wat Jesus gedoen het vir hulle. Getuienis moet altyd na God toe wys, nie na myself nie.

In die teks sien ons ook 2 reaksies op Paulus en Barnabas se getuienis. Die Jode raak jaloers toe hulle sien hoe baie mense deur die getuienis aangespreek word. Mens sou dink hulle sal bly wees. Teenoor hulle is daar die heidene wat opgewonde reageer op die getuienis. Met alle getuienis werk dit so – sommige mense reageer daarop en ander nie. Maar dis uiteindelik nie ons probleem nie en dit moet ons nie verhoed om getuies te wees nie.

Ons moet weer hoor dat alle Christene geroep is om getuies te wees. Dis nie net die werk van predikante en jeugwerkers en sendelinge nie – ons almal moet in alle omstandighede getuies van Jesus Christus wees. Soos iemand gesê het:
“A missionary is not someone who crosses the sea, but someone who sees the cross.”
Word ook vir ons bevestig in Matteus 5:13-16
"Let me tell you why you are here. You're here to be salt-seasoning that brings out the God-flavors of this earth. If you lose your saltiness, how will people taste godliness? You've lost your usefulness and will end up in the garbage.
 "Here's another way to put it: You're here to be light, bringing out the God-colors in the world. God is not a secret to be kept. We're going public with this, as public as a city on a hill. If I make you light-bearers, you don't think I'm going to hide you under a bucket, do you? I'm putting you on a light stand. Now that I've put you there on a hilltop, on a light stand—shine! Keep open house; be generous with your lives. By opening up to others, you'll prompt people to open up with God, this generous Father in heaven.” (The Message)

As jy ;n gelowige is, dan is jy geroep om die goeie nuus met mense te deel. Ons werk as gelowiges is om Jesus vir die wêreld te wys – om sout en lig vir die wêreld te wees. Dis iets wat moet gebeur in elke deel van my lewe.
Trouens ek dink dat elke situasie, positief of negatief, wat oor ons pad kom is ‘n geleentheid om ‘n getuie te wees .As ons na Paulus en Barnabas se voorbeeld kyk – toe hulle in daai sinagoge die geleentheid kry om te praat oor hulle geloof, het hulle dit dadelik aangegryp.
In 1 Petrus 3:15 lees ons: “Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die Hoop wat in julle lewe.”

Hoe werk getuienis? In ons teksgedeelte getuig Paulus deur middel van ‘n toespraak wat hy in die sinagoge gelewer het. Daar is ook baie ander maniere van getuienis. Die afgelope paar weke het Barnabas vir ons gewys dat ‘n mens ook getuig deur ‘n lewe van vrygewigheid, gasvryheid en deur brûe te bou waar daar voorheen mure was wat skeiding gebring het tussen mense. Getuienis gaan met ander woorde nie net daaroor om te praat en te vertel nie, dit gaan ook oor hoe ons ons lewens leef. Trouens ek reken dis belangriker.

Ek het onlangs met ‘n predikant gesels wat vir hom ‘n motorfiets gekoop het. Maar daarmee saam vertel hy toe ook dat hy nog nie ‘n lisensie of learners het om die fiets te ry nie, maar hy ry al met hom. Ek het hom toe aangevat daaroor, want nevermind dat hy ‘n predikant is, as christen moet ons die voorbeeld stel. Veral in ‘n land waar mense maklik misdaad pleeg.
1 Petrus 3: 16: “Keep a clear conscience before God so that when people throw mud at you, none of it will stick.”
Deel van ons getuienis, is dat ons die regte dinge sal doen. Anders doen ons die boodskap skade aan.

Hoe ons reageer op negatiewe en slegte goed is ook deel van ons getuienis.Op ‘n persoonlike vlak – hoe ons die krisisse van die lewe hanteer. Maar ook in ons land. Op die oomblik is dinge maar deurmekaar in ons land, veral op politieke vlak en dis maklik om baie negatief en pessimisties te wees, maar as christene moet ons positief en hoopvol bly. Dis deel van ons getuienis, want ons glo tog dat alles sal ten goede uitwerk.

Dis ook deel van ons getuienis om op praktiese en tasbare maniere by mense  en nood betrokke te wees. Om compassion te wys aan mense. Ek het weer die afgelope week hiervan bewus geraak. Baie mense is mos negatief oor die NG kerk. Sommige media is mos baie vining krities en negatief te wees. Die kerk is nie perfek nie en maak foute en moet na kritiek luister, maar daar is ook ‘n ander kant waarvan mens nooit in die Rapport lees nie. Ek het hierdie week weer gehoor dat Badisa, dis die NG Kerk se welsynsdiens spandeer elke jaar R400 milj aan welsynswerk in ons land. Dis nou aan goed soos ouetehuise, rehabilitasiesentrums, maatskaplike werkers, vigs programme en nog ‘n klomp ander goed. Naas die regering is die NG Kerk die grootste verskaffer van welsynsdienste. Dis mos die beste getuienis wat daar is.  Ook op ‘n persoonlike vlak is dit deel van ons getuienis om compassion aan mense te bewys.

Getuienis gaan nie net daaroor om soos Paulus te praat oor my geloof nie. Dit is ook om soos Barnabas vrygewigheid en gasvryheid te bewys en brûe te bou na mense. Dit gaan ook daaroor om die regte dinge te doen en ‘n voorbeeld te stel, om positief en hoopvol te wees, om met compassion en liefde te leef en goeie dade te doen. Dit gaan daaroor om te bid vir mense en mense saam te nooi kerk toe. Getuienis het verskillende gestaltes.

Joseph Bayly het gesê: “Jesus Christus het nie die verkondiging van sy Goeie Nuus aan ‘n reklamemaatskappy toevertrou nie. Hy het net sy dissipels uitgestuur. Hy het hulle nie opdrag gegee om advertensieborde op te sit en pamflette uit te deel nie. Hy het gesê hulle moet net in hulle gewone lewe wys wat hulle glo.”

No comments:

Post a Comment