Sunday, September 11, 2011

Preek 11 Sept 2011

Barnabas die nederige
Handelinge 14: 1-20

Ons het ‘n dosent gehad op kweekskool, Prof Willie Jonker. Hy was ‘n wonderlike man, intelligent, wys en baie nederig. Iemand het eenkeer met hom gespot en gesê: Prof Jonker is eintlik windgat van nederigheid.

Nederigheid is nie iets wat maklik vir enigeen van ons is nie. Niemand van ons wil tog aan die onderpunt van die leer wees nie. Niemand van ons hou daarvan om die minste te wees nie. In die wêreld waarin ons leef is mag en selfbemagtiging mos baie belangrik. Mens hoef net na al die selfhelpboeke in die boekwinkels te kyk om dit te besef. Die mense na wie ons opkyk is mos die mense wat goed doen vir hulleself, die wat bo uitkom en suksesvol en bekend is. Dalk hoekom Idols so gewild is.

Ons weet mos almal wie Albert Einstein is. Hy het van die grootste wetenskaplike ontdekkings gemaak. Sy ontdekkings beinvloed elke dag ons lewe. Hy het die grootste deel van sy lewe by Princeton universiteit klas gegee. Hy het onder andere sy bekende relatiwiteitsteorie daar ontwikkel. Die vreemde ding is dat daar geen museum of standbeeld of gedenkteken by Princeton is ter ere van Albert Einstein nie. Blykbaar was dit Einstein self wat gekant was teen sulke heldeverering. Hy wou nie die kollig op hom gevestig hê nie. Dit kommunikeer aan die eenkant iets van sy nederigheid, en aan die ander kant kommunikeer dit iets van die respek wat die gemeenskap vir hom gehad het. Einstein se werk en nalatenskap is sy monument. Hy het nie nog iets nodig nie. Dis nie nodig om die middelpunt te wees nie. 
Jesus is natuurlik die beste voorbeeld hiervan. Hy het waarskynlik die grootste invloed in die geskiedenis van die wêreld gehad, maar dit het nooit oor Hom gegaan nie. Soos hyself gesê het: “ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien”

Maar ons is anders. Ons het ‘n behoefte aan erkenning. Ons wil goed voel, ons wil beloon word. Daar is niks daarmee fout om te voel jy word waardeer nie, dis goed vir ‘n mens. Die probleem is egter wanneer ‘n mens erkenning en mag en selfverheerliking begin najaag. Wanneer dit te belangrik vir jou raak.

Dit was ‘n versoeking waarmee Paulus en Barnabas ook gekonfronteer is. Hulle vlug uit Ikonium en beland in die omgewing van Listra en Derbe. In Listra word die verlamde man toe genees. As gevolg daarvan dink die mense dat Paulus en Barnabas gode is wat hulle kom besoek het. Die priester van die Zeus tempel bring bulle en blomme en wil offers aan hulle bring. So waar Paulus en Barnabas vroeër weggejaag is, kry hulle nou erkenning. Die versoeking moes nogal groot gewees het om baie belangrik en suksesvol te voel. Hulle het immers nou gode-status gehad.

Maar Paulus en Barnabas val nie vir die versoeking nie. Hulle verloor nie hulle fokus nie. Op ‘n amper aggresiewe manier kom hulle in opstand teen die heldeverering wat die mense vir hulle gehad het. Hulle beklemtoon dat hulle maar net gewone mense is wat deur God gebruik word om die evangelie te verkondig. Dit gaan nie oor hulle nie, dit gaan oor God. Dis nie hulle wat die wonderwerk gedoen het nie – dis God wat dit gedoen het. So, hulle skuif die aandag weg van hulleself af na God toe. Daarmee wys hulle vir ons hoe ‘n nederige lewenstyl werk.

Daar is ‘n wonderlike storie van ‘n musiekliefhebber wat eenmaal die komponis Johannes Brahms onverwags ontmoet het. Toe hy vir Brahms herken toe vra hy vir hom om ‘n kort stukkie van een van sy bekende musiekstukke neer te skryf en dan onderaan te teken, sodat hy ‘n aandenking het van sy ontmoeting met Brahms. Brahms het toe die pen gevat en op die stukkie papier die eerste lyn neergeskryf van Die Blou Danou – een van die komponis Johan Strauss se bekendste werke. Onderaan teken hy toe: “Ongelukkig nie deur my nie, Johannes Brahms”.
Johannes Brahms het ‘n groot bydrae gelewer tot die musiekwêreld, maar hy kies doelbewus om nie die fokus op hom te laat val nie.
Vir ‘n Christen beteken nederigheid dat ons die fokus op God sal laat val. Maak nie saak wat ons in die lewe bereik nie. Dit gaan nie oor ons nie. Dit gaan oor God. Ons moet wegkyk van onsself af en vir God die eer gee.

Nederigheid gaan ook daaroor dat mens wegkyk van jouself af en ander mense begin raaksien.
1 Korintiers 13: 5 – “die liefde soek nie sy eie belang nie”
Filippense 2:3 – “Moet niks uit selfsug en eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself”.
Ons hou mos maar daarvan om dinge op ons manier te doen en om ons sin te kry. Dink nou maar konfliksituasies – dit meeste daarvan kan waarskynlik verhoed word as ons nie so trots is en net ons sin wil kry nie. As ons net bereid is om bietjie nederiger te wees en soms beter te luister, in te gee en kompromieë aan te gaan, sal daar dalk minder konflik wees.

Mens kan ook net diensbaar wees as jy nederig is en wegkyk van jouself en jou eie comfortzone. Nederigheid help ons om minder selfsugtig te wees en ons lewens met ander te deel.

Nederigheid beteken egter nie dat ons vloerlappe moet wees en altyd moet ingee nie en onsself moet haat nie. Jesus sê tog vir ons “jy moet jou naaste liefhê, soos jouself”. Om lief te wees vir jouself en nederigheid is nie in konflik met mekaar nie. Nederigheid gebeur net wanneer ‘n mens gemaklik is met jouself, wanneer lief is vir jouself en wanneer jy jouself nie vergelyk met ander mense nie. Wanneer jy nie bedreig is nie. Miskien sal hierdie aanhaling dit die beste opsom: “Nederige mense dink nie minder van hulleself nie; hulle dink net minder aan hulleself”. (Ken Blanchard)

Om op te som: By Paulus en Barnabas leer ons dat nederigheid beteken…
  • dat ons die fokus meer op God moet plaas as op onsself.
  • dat ons nie so moet roem op ons eie prestasies en suksesse nie, dit kan immers vining weer wegval. Ons moet net dankbaar wees.
  • dat ons nie altyd net moet veg om ons sin te kry nie, maar dat ons ook na ander moet luister en hulle belange eerste moet stel
  • dat ons diensbaar moet wees en nie net in ons comfortzones vasgevang moet wees nie.
  • dat ons minder aan onsself sal dink. 


No comments:

Post a Comment