Sunday, September 25, 2011

Preek 25 Sept 2011

Matteus 21: 23-32

Dink vining hieroor:
Dink terug aan jou kinderdae – wie was die mense in jou dorp/voorstad wat die meeste gesag gehad het?
Wat bepaal of iemand gesag het of nie?

Ons teksgedeelte sluit ook nogal aan by die hele ding van gesag. Lees Matteus 21:23-27

Wat my nogal opgeval het in hierdie gedeelte is: hoekom antwoord Jesus nie die Priesters nie?  Dit kan tog nie wees omdat hy bang is vir hulle nie. Of omdat hy nie weet wat om te antwoord nie.
Daar is ‘n spreekwoord wat sê: “stilbly is ook ‘n antwoord”. Ek dink Jesus het doelbewus niks geantwoord nie. Deur niks te sê nie het Hy hulle tog geantwoord.

Miskien sal die volgende storie help om dit te verstaan.
George Washington Goethals was die ingenieur wat die Panama kanaal gebou het. Terwyl hulle besig was om die kanaal te bou was hy gekonfronteer met uitdagende geografiese en klimaatsprobleme. Hy het ook baie kritiek verduur van mense wat skepties was en gesê het dat hy dit nooit sou regkry en klaarmaak nie. Maar hy het maar net aangehou met sy werk en niks gesê nie. So het een van sy vriende toe op ‘n stadium vir hom gevra: “gaan jy nie ten minste jou kritici antwoord nie?” Goethals se antwoord: “op die regte tyd sal ek hulle antwoord”. “Maar hoe?” wou die vriend toe weet. Goethals se antwoord: “Met die kanaal”
Vandag staan die kanaal as ‘n bewys dat Goethals reg was. Dit word beskou as een van die grootste ingenieurs wonders.

Jesus het nie nodig gehad om die priesters te antwoord nie, want Hy het met sy lewe gewys dat Hy die seun van God is en dat hy met die gesag van God opgetree het. Soms is die manier hoe jy jou lewe leef die beste antwoord vir mense – dit wys vir hulle dat hulle verkeerd is. As mense jou onregverdig kritiseer of beskuldig help dit nie om daaroor te baklei nie – bewys hulle verkeerd met die manier hoe jy lewe. As mense net heeltyd negatief is – bewys hulle verkeerd deur die manier hoe jy lewe.

Dis wat Jesus gedoen het - Hy bevestig die goed wat hy sê deur die manier hoe hy lewe. Die priesters het net mooi die teenoorgestelde gedoen. Hulle sê hulle glo in God, maar hulle lewens wys dit nie.

Dan vertel Jesus ‘n gelykenis om die gedagte te verduidelik. Lees Matteus 21:28-32

Hierdie gelykenis gaan oor die verskil tussen doeners en praters. Die Joodse leiers is die praters – hulle is die mense wat sê hulle sal gehoorsaam wees aan God, maar hulle doen dit nie. Die tollenaars en die prostitute is die doeners – hulle is die mense wat gesê het hulle gaan hulle eie ding doen, maar uiteindelik doen hulle tog wat God vra.
Ons het met ander woorde hier te doen met 2 groepe onvolmaakte mense, alhoewel dit beter is om in die groep te wees wat wel die werk gedoen het.
Die ideal waarna ons almal moet streef is om mense te wees wat praters en doeners is – of soos die spreekwoord sê: mense wat ‘practice what they preach’. Dis mense wat gehoorsaam is. 

Daar is ‘n oulike storie van iemand wat ‘n toer deur die hemel kry. Alles lyk wonderlik en perfek. Dan neem die toergids die persoon na ‘n kamer met rakke en rakke vol ore. Die toeris vra toe vir die toergids: “en dit? Hoekom is hier so baie ore?”, “O”, sê die toergids, ‘hierdie ore behoort aan al die mense op aarde wat elke week na die Woord van God geluister het, maar dit gaan doen het nie. Toe hulle doodgaan, het net hulle ore hemel toe gegaan.”   

Ons moet hoorders/praaters en doeners wees. Mense wat luister na God en dit dan gaan doen. Ons moet gehoorsaam wees. Hoe meer ‘n mens gehoorsaam is, hoe meer raak God vir jou ‘n werklikheid en hoe meer groei ‘n mens in jou geloof.
En dis nie moeilik om te weet wat God vir ons vra om te gaan doen nie. Ons hoef net na die Bybel te kyk. Kom ek noem net ‘n paar goed – ons moet vir God en ons naaste lief wees, ons moet lief wees vir ons vyande, ons moet vergewe, getuies wees, uitreik na mense in nood, vredemakers wees en dies meer. 

Ek wil afsluit met ‘n storie wat dit saamvat:
Dis van Thomas Jefferson wat baie jare terug die Amerikaanse president was. Hy en groep mense het te perd gereis en hulle moes toe ‘n vol rivier oorsteek. Op die wal van die rivier was daar mense wat gestaan en kyk het hoe die groep een-een die rivier oorsteek. Toe Jefferson verbykom vra een van die mans op die wal, of hy saam met hom, op sy perd oor die rivier kan gaan. Jefferson het sonder huiwering ja gesê en die man saam met hom oor gevat. Iemand in Jefferson se groep vra toe vir die vreemdeling: “Hoekom het jy die president bo ons gekies om jou oor te neem?
Baie verbaas sê die man toe – “ek het nie geweet dis die president nie. Al wat ek weet is dat sekere gesigte sê nee en ander gesigte sê ja. Hy het ‘n ja-gesig gehad.”

Mense wat praters en doeners is, is mense met ja-gesigte. Jesus het ‘n ja-gesig gehad. Nou verwag hy van ons ook om ja-gesigte te hê.

No comments:

Post a Comment