Sunday, September 18, 2011

Preek 18 Sept 2011

Nagmaal
Matteus 9: 9-13

My Pa se suster was getroud met ‘n Kalahari boer van Olifantshoek. Ek onthou hoe ons as kinders menige vakansie op die plaas in die Kalahari gaan kuier het. Ek het die wonderlikste herinneringe aan die plaas. Dit was vakansies van perdry en swem in die plaasdam, heeldag in die veld wees en baie vleis eet. Hulle het in ‘n ou plaashuis gebly, sonder krag met ‘n donkie vir warm water. Ek onthou ook die groot kombuis met die doverstoof en ‘n etenstafel waar 8 mense kon sit. Om daardie etenstafel het ons geeet, kaart gespeel en tot laat nag gekuier.
Etenstafels is plekke waar mense bymekaarkom en community geskep word. Waar fellowship gebeur. Die ander kant is ongelukkig ook waar - etenstafels kan ook ‘n plek wees waar community afgebreek word. Menige familiekonflik het ook mos al om die tafel ontstaan. Dis iets hiervan wat ons ook sien in hierdie teksgedeelte.

Matteus vier sy nuutgevonde geloof deur ‘n ete te reël waarheen Jesus ook genooi word. Hy nooi ook al sy vriende wat nou nie beskou sal word as die goeie mense in die samelewing nie – die tollenaars en die sondaars. Toe die Fariseërs dit sien, begin hulle kla oor wie almal saam met Jesus aan die tafel sit. Vir die Fariseërs was die tafel ‘n plek waar alles kosher moes wees. Waar jy rein en perfek moes wees. Die Fariseërs se tafel was net vir mense wat die wet nagekom het en goeie gelowiges was.
Maar vir Jesus was die tafel ‘n plek van fellowship en gemeenskap. By Jesus se tafel word almal ingesluit en aanvaar. Jy hoef nie rein en perfek te wees om by Jesus aan tafel te kom sit nie.

Op grond hiervan word Jesus dan uitgeskel vir ‘n vraat en ‘n wynsuiper omdat hy saam met die verkeerde mense aan tafel eet en drink. Dis nie ‘n ligtelike beskuldiging nie, want volgens die wette van die Ou Testament, as jou kind rebels is en beskuldig word dat hy ‘n vraat en wynsuiper is, het dit beteken dat hy gestenig kon word. So, hierdie etiket word om Jesus se nek gehang net oor dit wat Jesus aan sy tafel gedoen het, en wie hy daar toegelaat het.
        
By Jesus se tafel is plek vir almal, by die Fariseërs se tafel is daar net plek vir sommiges. By die Fariseërs se tafel moet jy rein wees voordat jy kan aansit, by Jesus se tafel word jy rein gemaak omdat jy gaan aansit. Jesus se tafel is ‘n plek van genade.

By Jesus se tafel gebeur daar genesing: Jesus nooi almal wat genesing nodig het na sy tafel toe. In die teksgedeelte is dit mense wat geestelike en sosiale genesing nodig gehad het. Wanneer die Fariseërs vir Jesus aanvat omdat hy by Matteus se tafel aansit sê Hy vir hulle: “Die wat gesond is, het nie ‘n dokter nodig nie, maar die wat siek is”.
Ons almal is dus welkom by Jesus se tafel – maak nie saak wat jou bagasie en jou worstelinge is nie. Jesus genees deur mense na sy tafel te nooi en genade uit te deel. Om die tafel in Jesus se  teenwoordigheid ontdek mense sy liefde en word hulle genees.

By Jesus se tafel ontdek mense ook nuwe vooruitsigte: wanneer mens by Jesus se tafel genade en liefde en genesing beleef skep dit vir jou ’n nuwe realiteit met nuwe vooruitsigte. Wanneer mens by Jesus se tafel aansit word jy deel van ‘n nuwe gemeenskap.
Jesus se tafel is ‘n oop deur waar enigiemand kan inkom en deel raak van God se gemeenskap. Daar word jy deel van God se mense. Mense wie se lewe verander is. Mense tussen wie daar nie meer grense en mure is nie. Mense wat verander is en bymekaar gebring is deur Jesus se liefde. Mense met nuwe vooruitsigte.

By Jesus se tafel is daar hoop: By Jesus se tafel kan ons uitsien na ‘n tyd wat nog gaan kom. Jesus beklemtoon baie sterk sy tafel wys na die ewigheid. Na die tyd waar ons saam met God gaan wees.
Wanneer Jesus die laaste keer saam met sy dissipels om ‘n tafel sit en die nagmaal instel sê Hy vir hulle: “Van nou af sal ek nie weer van hierdie wyn drink nie tot op die dag wanneer Ek saam met julle die nuwe wyn in die koninkryk van my Vader sal drink.”
Om saam met Jesus aan ‘n tafel te sit wys vir ons dat die koninkryk van God vir ons elkeen wag. By Jesus se tafel kan ons so ietsie proe van die paradys.

By Jesus se tafel is daar liefde en genade. Jesus wil dit met ons deel. Maar dit beteken ook dat ons dit moet deel met ander mense. Ons moet mense nooi na ons tafels toe, na ons kerk toe, na ons huise toe. Sodat hulle ook genesing, nuwe vooruitsigte en hoop kan beleef.   

Elkeen van julle is vanoggend uitgenooi om by Jesus se tafel te kom aansit. Jy hoef nie eers goed genoeg of “skoon” genoeg te wees om aan te sit nie – kom nes jy is, met al jou worstelinge, bagasie, bekommernisse en kom vind genesing, nuwe vooruitsigte en hoop by Jesus se tafel.

  



No comments:

Post a Comment