Sunday, November 13, 2011

Preek 13 Nov 2011

Mites wat ons lewe ingewikkeld maak
Die wiel draai

Vanoggend gaan ons voort met die reeks oor “mites wat ons lewe ingewikkeld maak”. Geoordeel aan gesprekke die afgelope week het ek daarin geslaag om julle te laat dink met die preekreeks. Dis great – dit is die bedoeling. Verlede week het ek gepraat oor ‘n teks wat gebrekkig vertaal is en hoe belangrik dit daarom is om meer moeite met die Bybel te doen. Daar is ‘n website waar julle dit kan gaan doen - www.biblos.com.
Vandag praat ons oor die tema of mite: “die wiel draai”. ‘n Ander naam daarvoor is Karma – dit beteken: “jy kry wat jy verdien”. Boontjie kry sy loontjie.

Ons almal was mos al by die dokter. As mens die eerste keer by die dokter kom, dan vul jy mos ‘n vorm in waarin jy vrae antwoord oor jou en jou familie se mediese geskiedenis. Dis dieselfde as jy lewensversekering uitneem. Jy moet vrae antwoord oor kanker, hartsiektes, bloedsiektes en allerhande goed wat dalk vroeër in jou familie voorgekom het. Die rede daarvoor is dat baie van die kwale word mos geneties oorgedra en maak jou daarom meer vatbaar daarvoor. Dis goed wat van jou voorsate af aan jou oorgedra kan word.

Ons het dieselfde beginsel onlangs in die VSA gesien met die finansiële krisis wat daar onstaan het. Mense het ‘n klomp skuld gemaak wat hulle nie kon terugbetaal nie en dit het die hele Amerikaanse finansiele sisteem in duie laat stort. Die effek daarvan is dat komende generasies die skuld van die vorige generasies gaan moet terugbetaal. Ek het iewers gelees dat alle babas wat in die volgende 5 jaar in die VSA gebore gaan word, by geboorte reeds $2000 skuld gaan hê. Hulle betaal vir die foute van hulle voorsate.

Punt is: die keuses wat ons maak het ‘n impak en ‘n invloed op die volgende generasies.
Hierdie beginsel geld as dit kom by goed soos genetiese siektes of finansiële skuld, maar dit raak ‘n probleem wanneer ons hierdie beginsel in ons geloofslewe begin toepas. Veral wanneer ons vir God daarby begin betrek. Dit raak ‘n probleem wanneer ek byvoorbeeld sou sê dat die hartsiekte wat ek het, is ‘n straf van God as gevolg van iets wat my pa verkeerd gedoen het, of as gevolg van iets wat ek dalk verkeerd gedoen het. Of die finansiele moeilikheid waarin ek is, is ‘n straf vir iets wat ek vroeër verkeerd gedoen. M.a.w. dis God wat die wiel op my laat draai. Ek kry maar net wat ek verdien. En as ek dan sekere goed doen, dan sal dit weer beter gaan met my.

Kom ek noem so ‘n paar voorbeelde.
Ons ken iemand met wie dit ‘n paar jaar gelede finansieel en andersins goed gegaan het, maar op die oomblik kry hulle finansieël swaar en daar is siekte in hulle familie. Hulle beleef dit nou as God wat hulle straf vir goed wat hulle verkeerd gedoen, soos ‘n egskeiding wat in die familie gebeur het.

Ek het ookal te doen gehad met mense wat sê dat die goed wat gebeur, is die gevolg van ‘n oupa of pa wat aan die Vryemesselaars beweging behoort het. Of dit gaan sleg omdat ek geskei is, of ‘n aborsie gehad het, of ‘n buitegtelike kind het, of omdat ek met my belasting gekroek het. God straf my vir die goed, dis karma, ek kry wat ek verdien – dis die wiel wat draai.

En dan kry jy natuurlik ook mense wat hulle verlekker in die gedagte van karma. Veral as dit gebeur met iemand wat hulle nie van hou nie, of iemand wat hulle te na gekom het. Dan is die goed wat gebeur hulle verdiende loon. Die wiel draai – jy kry maar net terug wat jy uitgedeel het. Soos ‘n vriendin van ons wat tong in die kies opgemerk het: “karma is a slow animal, but she’s thorough”. Karma word dan gebruik om wraak te neem.

Dis wat my betref ‘n baie wrede teologie want dit veroorsaak ongelooflike angs en vrees by mense.  Terwyl God wil hê dat ons vry moet wees van vrees en angs. Ek wil sover gaan om te sê dat dit onbybels is.
Die gedagte word hoofsaaklik gebaseer word op 2 teksgedeeltes wat verkeerd verklaar word.
Eksodus 20: 5-6 - “Jy mag hulle nie vereer of dien nie, want Ek, die Here jou God, eis onverdeelde trou aan My. Ek reken kinders die sondes van hulle vaders toe, selfs tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat, maar Ek betoon my liefde tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en my gebooie gehoorsaam.”
Jeremia 31: 29 – “Die vaders het groen druiwe geëet, en die kinders se tande het stomp geword”

Die gedagte dat God straf tot in die derde en vierde geslag is ‘n verkeerde interpretasie van Eksodus 20. In ou Israel was die man die hoof van sy hele nageslag. Omdat die mense so vroeg getrou en kinders gehad het, het jy dikwels 3-4 geslagte in een huishouding bymekaar gehad met die pa dan as die hoof. So, as enigiemand in daai huishouding iets verkeerd doen, dan beïnvloed dit daai hele huishouding – al die geslagte. Dit gaan met ander woorde nie oor iets wat oorgedra word van geslag tot geslag nie, dit gaan oor almal in die huishouding wat beinvloed word deur 1 persoon se aksies.
Dit word ook alles uitgekanseleer deur God se liefde en seën tot aan die duisendste geslag. So, ‘n individu se oortreding beinvloed net sy familie, maar God se liefde en seën strek oor duidende geslagte.

Dieselfde met die teks oor Jeremia. Die gedeelte word aangehaal om te sê dat die vaders se sondes gaan ‘n invloed op die kinders hê, maar vers 30 word geignoreer.
Jeremia 31:30 sê: “Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word.”
Dit word ook bevestig deur Esegiël 18:1-4 - “Die woord van die Here het tot my gekom: “Waarom gebruik julle in die land Israel hierdie spreekwoord: “ ‘Die vaders eet groen druiwe, en dan word die kinders se tande stomp’? “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “julle sal nie meer dié spreekwoord in Israel gebruik nie. Al die mense behoort aan My, vaders en kinders is Myne. Dit is die mens wat sondig wat sal sterf.”

Dus elkeen word vir sy eie sondes verantwoordelik gehou. Kinders gaan nie vir hulle voorsate se sondes gestraf word nie. Daar is ‘n paar ander tekste wat dit ook vir ons bevestig wat ek gou vir julle wil wys.
Deuteronomium 24:16 - “Vaders mag nie oor die optrede van kinders en kinders nie oor die optrede van vaders doodgemaak word nie. Elkeen kan net vir sy eie sonde die doodstraf kry.”
Job 21:19 – “Spaar God dan sy rampe op vir die goddelose se kinders? God moet hom tog straf dat hy dit self weet!” 
Wat help dit God straf die kinders vir die vaders se sondes? Dis mos die vaders wat gestraf moet word.

Dis wat ons lees in die OT, in die NT word dit nog meer konkreet vir ons bevestig deur Jesus. In Jesus het God die sirkel gebreek. Die dag toe Jesus al ons sonde op Hom geneem en in ons plek gesterf het – het God gesê, ek stop die wiel. Ek stop karma. Jy gaan nie kry wat jy verdien nie – ek gaan vir jou gee wat jy nie verdien nie. Ek gaan vir jou genade gee. Ek gee vir jou ‘n nuwe begin. As mens glo jy word nou gestraf vir vorige sondes, hoekom het Jesus dan gesterf? Jesus het alles kom wegvat.

In Romeine 3: 23-24 skryf Paulus – “Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus.”
En Romeine 5: 8-10 – “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was. Aangesien ons nou vrygespreek is op grond van sy versoeningsdood, staan dit soveel vaster dat ons deur Hom ook van die straf van God gered sal word. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is, deur die lewe van sy Seun gered sal word.”
Die sirkel is gebreek. Die wiel draai nie meer. Karma is dood. Ons is vry.

Ek wil afsluit met ‘n quote deur Paul Hewson, beter bekend as Bono die hoofsanger van U2. In ‘n onderhoud met ‘n joernalis het hy die volgende gesê.
“…the thing that keeps me on my knees is the difference between Grace and Karma. At the centre of all religions is the idea of Karma. You know, what you put out comes back to you: an eye for an eye, a tooth for a tooth, or in physics—in physical laws—every action is met by an equal or an opposite one. And yet, along comes this idea called Grace to upend all that…. Love interrupts, if you like, the consequences of your actions, which in my case is very good news indeed, because I’ve done a lot of stupid stuff.”


1 comment: