Sunday, November 20, 2011

Preek 20 Nov 2011

Mites wat ons lewe ingewikkeld maak
Jy sal oes wat jy saai

Vandag kom ons aan die einde van die kort preekreeks oor mites wat die lewe ingewikkeld maak. Eerste Sondag het ons gekyk na die mite dat God ‘n bloudruk plan of doel met my lewe het – dis eerder ‘n holistiese, groter prentjie plan. Verlede week het ons gepraat oor die mite dat die wiel draai – of dan karma teenoor genade. Vandag sluit ons af met die tema, “jy sal oes wat jy saai” of in ander woorde “wat jy insit, kry jy uit”. ‘n Ander naam daarvoor is ook “voorspoedsteologie” – dis ‘n gelowige se reg om voorspoedig te wees. Deur ons geloof is ons geregtig op sukses, voorspoed, rykdom en gesondheid.

Kom ons lees gou 2 tekste wat gebruik word vir hierdie beginsel:
Maleagi 3:10 “Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie”.
2 Kor 9:6 “Dink daaraan: wie karig saai, sal karig oes; en wie volop saai, sal volop oes”

Die idee wat hieruit afgelei word sê: as ek die regte goed doen, dan sal dinge vir my uitwerk en as ek die verkeerde goed doen, wel, dan gaan dit nie uitwerk nie. As ek bid, as ek my tiende betaal, as ek my beste doen vir ander mense, as ek hard genoeg glo, as ek gereeld vas – dan sal my lewe goed uitwerk en sal ek suksesvol wees.

Daar is egter baie verhale in die Bybel, en ek dink ons almal het ook al ervarings gehad wat wys dat dit nie altyd so werk nie. Een of ander tyd loop mens jou vas met hierdie tipe geloof. Een of ander tyd gaan dinge nie so goed uitwerk nie en dan veroorsaak dit ‘n geloofskrisis, want ek het dan alles reggedoen.
Dis dan wanneer sommige mense mos sê – jy het nie genoeg gebid nie, of nie genoeg gevas nie, of jy het nie hard genoeg geglo, dis omdat jy nie jou tiende gegee het nie. Dis hoekom dit nie uitwerk nie.

Daar is ‘n goeie voorbeeld daarvan in die Bybel – Psalm 73. In die Psalm lees ons van Asaf wat in ‘n geloofskrisis beland, want hy kyk na die mense om hom. Hy sien mense wat die verkeerde dinge doen, mense wat nie in God glo nie, hulle is oneerlik in hulle besigheid, hulle behandel mense met geen respek nie, en kyk hoe gaan dit met hulle. Hulle is ryk, hulle kinders is gesond. Dis mos nie fair nie, want ek doen al die regte goed en ek behandel mense goed, ek vermy die kwaad, maar dinge wil nie vir my uitwerk nie. So wat help dit dan om die Here te dien?

Daar is ‘n paar probleme onderliggend aan die idee “jy sal oes wat jy saai” of “uitkry wat jy insit”.

Eerstens sê jy daarmee – “ek is in beheer”.
Wat ek insit, is wat ek sal uitkry. Ek bepaal die uitkoms. Dit hang van my af. Hoe harder ek probeer hoe beter gaan dit met my gaan.
Dis soos ‘n masjien – ek gooi petrol in, ek gooi olie in sodat hy mooi glad loop. En as daar iets breek dan vervang ek die stukkende onderdeel met ‘n nuwe een, sodat hy weer reg is en mooi loop. Ek is in beheer van die masjien.  
Dis mos hoe baie mense na geloof ook kyk. Ek moet sekere goed doen om God se guns te wen sodat Hy my sal seën. Ek gooi die olie en petrol in. En as jy dan sukses behaal, dan is dit ek en die goed wat ek reg gedoen het wat uitgelig word. Die ander kant van die munt is dat as dit dan nie met my goed gaan nie – dan moet ek net harder probeer en harder glo, of meer bid, of meer geld gee.

Dis wat die volk in Jesaja se tyd ook gedoen het. Hulle het God se guns probeer wen en Hom tevrede probeer hou met die nakoming van godsdienstige wette en die godsdientige feeste.
Hoor net wat God via Jesaja toe aan die volk laat weet het:
 Jesaja 1:12-14 “Wie het julle gevra om my voorhowe te kom vertrap? Moenie langer julle nuttelose offergawes bring nie…julle nuwemaansfeeste en feesgetye haat Ek. Hulle is vir my ‘n las, Ek is moeg daarvoor.”
Hulle het teveel op die feeste en wette gefokus en te min op God.

Ons moenie altyd probeer om so in beheer te wees nie. Ons kan nie vir God probeer beïndruk nie. Ons moet leer – alles is ‘n gawe van God. Ek ontvang dit uit Sy hand. Hy gee vir my talente wat ek moet gebruik en waarmee ek hard moet gaan werk. Alles is genade en ons wil heeltemal teveel daarvan vir onsself toe-eien.
Dis soos Koos du Plessis sing in sy Gebed:
Hy het baie dinge probeer en toe het hy ontdek:  “Wat ek is, is net genade; Wat ek het, is net geleen”

Gebaseer op ‘n skeefgetrekte beeld van God
Kom ek verduidelik dit met ‘n storie. Gedurende die Tweede wêreldoorlog was die mense van die Suidsee eilande vir die eerste keer blootgestel aan die modern wêreld toe die Amerikaanse soldate daar geland het. Voor dit het hulle nog op baie tradisionele maniere geleef. Die Amerikaanse weermag het die eilande as tydelike basisse gebruik. Hulle sou daar land, die vrag aflaai en dan weer vertrek. Vir die eerste keer is die mense blootgestel aan goed soos sigaretaanstekers waarmee jy dadelik kon vuurmaak, stootskrapers waarmee hulle bome kon platstoot om ‘n landingstrook te maak, jeeps, modern wapens, radios, yskaste en dies meer. Die mense was gefasineerd met hierdie vragte wat afgelaai is en hulle gevolgtrekking was dat die mans wat die vragte gebring het moet gode wees.

Die mite dat jy “sal oes wat jy saai” sien vir God soos wat die mense van die Suidsee-eilande die mans op die vliegtuie gesien. Jy sien vir God as die een wat net die vragte moet kom aflaai. As ek al die regte goed doen, dan moet God jou mos seën met die goeie vragte – die vragte van gesondheid, en sukses, en voorspoed en geluk. 

Die sanger Mary J. Blige het gesê: “My God is a God who wants me to have things. He wants me to bling. He wants me to be the hottest thing on the block. I don t know what kind of God the rest of y’all are serving, but the God I serve says, ‘Mary, you need to be the hottest thing this year, and I’m gonna make sure you re doing that’.”

As dit my siening van God is, dan is ek besig om vir God te verander om by my aan te pas, in plaas daarvan dat ek vir God toelaat om my te verander. God is nie daar om my te verheerlik nie – ons word geroep om Hom te verheerlik.

En dan laastens – die mite van “oes wat jy saai” dui op onvergenoegdheid.
Onvergenoegdheid beteken ek sukkel om tevrede en dankbaar te wees. Ek wil weer lees wat Koos du Plessis gesing het “Wat ek is, is net genade; Wat ek het, is net geleen”
‘n Dankbare en tevrede mens is iemand wat verstaan dat alles net genade is.

As ek gou kan teruggaan na die twee teksgedeeltes wat ek aan die begin gelees het – Maleagi 3:10 en 2 Korintiers 9:6.
As jy die 2 tekste net so uitlig dan gaan dit gebruik kan word om die gedagte van wat jy “saai sal jy oes” te regverdig. Mens sou dit maklik kon interpreteer as tekste waarmee ons vir God kan manipuleer om Sy seën te kry. Dis nie wat die tekste wil sê nie.

As ons bietjie dieper gaan kyk, dan sal jy sien dat albei die tekste word geskryf in die konteks van dankbaarheid. Om iets te gee, of dit nou geld, of my tyd, of my gebede is, is nie ‘n saketransaksie om iets van die Here te kry nie. Mense wat aan Hom behoort weet dat alles wat hulle het en is, is as gevolg van sy genade en daarom gee jy omdat jy dankbaar is daarvoor. En ja, mens kry iets terug in die proses, maar dis nie iets waarop jy kan aanspraak maak of kan verwag nie, dis ‘n bonus, dis maar net iets waarvoor jy kan dankie sê.
Soos Paulus skryf in 1 Timoteus 6: 6-7 “Die godsdiens is 'n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie.”

Wil afsluit met ‘n paar vrae:
  • Probeer ek teveel om in beheer van my eie lewe te wees? Wat is daar wat ek moet oorgee aan God? Wat moet ek opgee?
  • Wat is my beeld van God? Sien ek vir God as die een wat aan my moet voorsien? Wat die vragte moet aflaai? Of sien ek Hom as die genadige God, die een wat ek moet verheerlik deur my lewe? Die een wat my wil verander?
  • Is ek iemand wat besef dat alles net genade is en dat ek daarom met ‘n dankbare hart moet leef? Dat ek moet gee uit dankbaarheid, nie omdat ek iets terug verwag nie.

    No comments:

    Post a Comment