Sunday, November 6, 2011

Preek 06 Nov 2011

Mites wat ons lewe ingewikkeld maak:
God het ‘n doel/plan met alles

Ons begin vandag met die ‘n kort reeks: Mites wat ons lewe ingewikkeld maak. Ek het besluit om so ‘n reeks te doen omdat ek in die afgelope paar maande in ’n paar gesprekke met mense was waar die goed ter sprake gekom het. En omdat dit regtig geloofsworstelings veroorsaak het. Vandag gaan dus oor die mite dat daar ‘n doel met alles is. Of soos ek ook al gehoor het – alles is vooraf bepaal, daar is ‘n blueprint vir jou lewe, jou strepie is getrek, jy kan niks daaraan verander nie. Dit is nou maar eenmaal God se wil en ons moet dit maar aanvaar.

Kom ek noem so ‘n paar voorbeelde:
Toe ek op skool was in die laat 1980’s – het ons een jaar die tyding gekry dat ‘n ou wat die vorige jaar in matriek was, in Angola doodgeskiet is. Een van die dominees op die dorp het toe by die skool vir ons kom sê – moenie worry nie, daar is ‘n doel met alles.

Dit was ook die tyd toe die pedofiel Gert van Rooyen so in die nuus was oor ‘n paar skoolmeisies wat verdwyn het in Kempton Park. Ek onthou nog hoe ‘n dominee van Kempton Park gesê het daar is ‘n doel daarmee. Erger nog hy het ook geweet wat die doel is – die kinders is ontvoer sodat Kempton Park tot bekering sal kom.

Ek het ook al gehoor dat iemand sê dat arm mense moet hulle armoede aanvaar, want dit is God se doel met hulle.

En ek het al gesien dat mense ongelooflik angstig en vreesagtig raak, want sê nou maar net ek mis God se doel vir my lewe? Sê nou ek trou met die verkeerde persoon of doen die verkeerde werk?

Op ‘n minder ernstige noot – die van julle wat die rugby wêreldbeker gevolg het, sal onthou dat Frans Steyn seer gekry het en toe vervang is met Zane Kirchner. Zane Kirchner se reaksie was om in die media te sê dat dit deel van God se doel met sy lewe is om as plaasvervanger gekies te word. Ek het nogal gewonder wat Frans Steyn daarvan sou sê. Was dit God se doel dat hy moes seerkry?

Ek het agtergekom dat mense gebruik veral hierdie gedagte wanneer dinge buite beheer voel en wanneer dinge nie sin maak nie. Ek het nog nooit iemand dit hoor sê wanneer goeie goed gebeur nie. Toe my 84 jarige ouma oorlede is – het niemand gesê dat daar ‘n doel daarmee is nie. Ons het almal gesê – dankie Here dat sy ‘n lang en vol lewe gehad het. Ons sê daar is ‘n doel met alles wanneer ons dinge nie verstaan nie en ons wil probeer sin maak daarvan.

Ek het al gesien dat mense gewoonlik op 2 maniere reageer as jy vir hulle sê ‘daar is ‘n doel/plan met alles’. Of dat dit God se wil was. Kom ek verduidelik dit met ‘n voorbeeld.
‘n Dogtertjie van 4 jaar oud word deur ‘n dronk bestuurder raakgery. Sy beland in die hospitaal en na weke se swaarkry, sterf sy.
Die een gesin word getroos deur die gedagte dat God dit nie sou laat gebeur as hy nie ‘n doel daarmee gehad het nie. Ons weet dalk nie nou wat die doel is nie, maar ons kan weet dat God wel ‘n doel het. Dit bring vir hulle troos.
‘n Ander gesin in dieselfde situasie kan onder dieselfde omstandighede ‘n geloofskrisis beleef. Kan ‘n goeie God werklik ‘n doel daarmee hê om ‘n onskuldige dogtertjie te laat sterf? Het God werklik alles so bewerk dat die dronk man op daardie spesifieke tyd teveel drink en dan die kind raakry? Was dit regtig God se wil? Soos iemand gesê het: Met so ‘n God het mens mos nie ‘n duiwel nodig nie.

Ek wil julle gou vat na 2 tekste wat baie keer gebruik word om te sê dat God ‘n doel met alles het – een teks uit die OT en een uit die NT. Ons gaan dit so bietjie unpack.
Ps139:13-16
Veral vers 16 word gebruik om te sê dat God ‘n uitgewerkte plan vir ons lewe het. Maar dis nie wat die teks wil sê nie, veral nie as jy dit lees as deel van die hele paragraaf en psalm nie. Wat dit wil sê is, dat van die begin van my lewe af, het God my al geken en was Hy betrokke by my lewe. My hele lewe lê soos ‘n oop boek voor Hom – Hy ken my en is besig met my. So, Hy bepaal nie my pad vooraf nie, Hy ken my en Hy stap ‘n pad saam met my. Hy is heeltyd besig om my lewensboek saam met my vol te skryf.

Die teks in die NT is  Matteus 10:29-31.
“sonder die wil van die vader” - Hieruit word afgelei dat God ‘n doel het met alles wat gebeur. Die probleem is egter dat hierdie nie die regte vertaling van die Grieks is nie.
Die Grieks “Aneu tou Patros”  beteken letterlik “not without the father”.
Dis nogal ‘n groot verskil in betekenis. ‘n Teologiese idee is in die teks invertaal. Dis hoekom dit so belangrik is om verskillende vertalings te lees en tekste te vergelyk.
Die ooreenstemmende teks in Lukas 12: 6 vertaal dit beter - “tog word nie een van hulle deur God vergeet nie.”
Die OAV vertaal Matteus 10 meer getrou aan die Grieks “nie een mossie sal op die grond val sonder julle vader nie.” 
Die teks het niks te doen met God se wil, of sy doel nie. Die mossie val nie omdat dit God se wil is nie, of omdat hy ‘n doel daarmee het nie. Dit teks wil wel vir ons sê dat wanneer die mossie val, dan weet God daarvan en Hy vergeet nie.
Of anders gesê – dit is nie God se wil of sy doel dat die dronk ou die dogtertjie raakry nie, maar Hy is daar om ons te troos en ons te help om deur die trauma te kom. Net soos wat hy nie van die mossie sal vergeet nie, net so sal hy ook nie van ons vergeet nie.

So, “daar is ‘n doel met alles” is ‘n mite wat ons lewe onnodig ingewikkeld maak as ons dit verstaan dat God ‘n blueprint plan vir ons lewens het en ons is nou maar eenmaal slagoffers van Sy plan.
Die ironie is mos dat as ek dink God het ‘n doel met alles en Hy het ‘n blueprint vir my lewe, dan perk ek eintlik vir God in, want dan kan Hy ook niks doen buite hierdie blueprint nie en Hy kan ons nooit verras nie of nuwe goed doen nie. Dis nie die kreatiewe, vernuwende en almagtige God wat ek in die Bybel leer ken nie.

Met dit alles gesê glo ek nog steeds dat God ‘n doel vir ons het – ek dink net nie dit werk soos wat ek dit tot dusver verduidelik het nie.
Kom ek wys gou vir julle wat is God se doel/plan vir elkeen van ons.

Johannes 6: 39 ““En dit is die wil van Hom wat My gestuur het: dat Ek van almal wat Hy My gegee het, nie een verlore sal laat gaan nie, maar hulle almal op die laaste dag uit die dood sal laat opstaan.”
God se doel is dat ons Hom sal ken en met Hom in ‘n verhouding moet leef.

Romeine 12: 2 “Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”
God se doel is om ons denke en ons karakters te verander, sodat ons beter mense sal wees

Psalm 131:2 “Ek het rus en kalmte gevind. Soos 'n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind.”
God se doel is dat ons met rustigheid en vrede sal beleef, nie met angstigheid en vrees nie.

Matteus 22: 39 “En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’”
Ons moet lief wees vir ander mense en uitreik na hulle.

1 Tessalonisense 4:3 “Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid.”
Dat ons met integriteit sal lewe en goeie voorbeelde en rolmodelle sal wees.

1 Tessalonisense 5:18 “Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
Dat ons met dankbaarheid moet lewe. In alle omstandighede – goed en sleg.

Prediker 8:15 “Ek het vreugde aanbeveel: daar is niks beter vir die mens in hierdie wêreld nie as dat hy eet en drink en vrolik is onder al sy geswoeg tydens die lewe”
Dis wat God vir ons gun in hierdie harde wêreld. Ons moet die lewe geniet en die meeste daarvan maak.

Romeine 8:28 “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.”
Dat ons sal weet dat die lewe nie perfek is nie. Dat alles nie altyd gaan uitwerk soos wat ek wil hê dit moet nie. Dat daar gaan slegte goed gebeur. En dinge gaan nie altyd sin maak nie en ek gaan nie al die antwoorde hê nie. Maar dis sy wil dat ons sal weet dat Hy sal alles ten goede laat uit werk.
Hy sal die son weer laat skyn. Hy sal ons laat aansit by ‘n feesmaal en ons laat rus by groen weivelde. Op die ou end is dit Sy wil dat ons sal weet dat geen dood, of hoogte of diepte of enigiets in die skepping my ooit kan skei van van sy liefde nie.


No comments:

Post a Comment