Sunday, May 20, 2012

Preek 20 May 2012


Die gewoontes van die liefde
1 Korintiërs 13:7

Hierdie is nou al reeds die sesde Sondag wat ons besig is met die liefde en as julle selfs net in een van die vorige dienste was sal julle onthou en met my saamstem dat hierdie nie ‘n sommer-maar-net liefde is waarmee ons besig is nie. Hierdie eienskappe wat ons hier van leer oor die liefde gebeur nie net sommer-maar-net omdat ons lief of verlief is nie. Dit gebeur nie sommer-maar-net vanself voordat ons dit nog kon keer soos daai groot liefdes wat ons almal een of ander tyd op skool gehad het nie. Dit kan nie sommer-maar-net wees nie, want dit is ‘n doelbewuste liefde. Dit is daai agape liefde waarvan ons al herhaaldelike kere gepraat het.  Wanneer ons dus vandag oor nog ‘n paar gewoontes van die liefde gaan praat, moet ons dus onthou dat ook hierdie gewoontes van die liefde nie sommer-maar-net is nie. Daarom gaan julle dalk ongemaklik voel as julle dit hoor of (soos ek) sukkel om dit ten volle te verstaan. Maar dis hoe dit moet wees. Dit is onmoontlik dat ons sommer-maar-net sal saamstem of dit sommer-maar-net sal kan doen, want Agape liefde werk nie so nie. Dit is, soos ek gesê het, doelbewus en daarom is ook hierdie gewoontes waaroor ek iets gaan probeer om met julle te deel, ook doelbewus, want hierdie liefde het onvoorwaardelik lief, dit het lief al voel ons nie altyd om lief te he nie.  Dit is die tipe liefde wat uiteindelik daartoe gelei het dat God sy Seun aan die kruis laat sterf het – nie sommer-maar-net nie, maar doelbewus, om vir ons te kom red.

Met dit alles in gedagte, kom ons lees 1 Kor. 13:7. Ons het hier te doen met vier gewoontes van die liefde, maar enige iemand wat al probeer het om elke oggend vroeg op te staan om te gaan draf en hiervan ‘n gewoonte te maak, sal met my saamstem dat gewoontes nie sommer net vanself tot stand kom nie, dit verg harde werk – bitter harde werk. So as jy hierdie vers lees en voel: nooit gaan ek kan liefhê met agape liefde nie, moenie skuldig voel nie, jy is nie alleen nie, maar dit is wel soos iemand wat hom of haarself dwing om elke oggend op te staan: dit raak al hoe makliker soos wat jy fikser raak. So dalk moet ons eerder net aan onsself as onfikse lief hê-ers dink en hierdie volgende vier gewoontes moet ons oefen. Die voordeel hiervan is dat ons darem nie noodwendig vroeg op te staan om dit te doen nie.

Verskillende vetalings:
Die liefde bly stil oor ander se foute, dit bly steeds vertrou, dit hou aan met hoop, dit verduur alles. Die liefde sal nooit vergaan nie. (NLV)

Puts up with anything, Trusts God always, Always looks for the best, Never looks back, But keeps going to the end. Love never dies. (The Message)

As 'n mens iemand liefhet, kan jy stilbly oor sy foute. Jy kan die beste dinge oor hom glo en die beste van hom verwag en nooit ophou om hom lief te hê nie. Liefde gaan nooit tot niet nie! (Die Lewende Bybel)

It protects more than blockbuster hero; it trusts more than a toddler. It’s always positive; it always hangs in there. Love doesn’t let you down. (The Word on the street)

Liefde beskerm waar mense beskerming nodig het; liefde glo altyd die beste van ander mense en verwag dit ook van hulle. Liefde ken ook g’n einde nie. Liefde is nie iets wat ’n mens kan opgebruik en dan sê dis klaar nie. (Die Boodskap)

Love knows no limit to its endurance, no end to its trust, no fading of its hope; it can outlast anything. It is, in fact, the one thing that still stands when all else has fallen. (JB Phillips translation)

Die liefde 1) bedek alles, 2) glo alles, 3) hoop alles, 4) verdra alles. (1983 Vertaling)

Dis eenvoudig om hierdie vier punte raak te sien, ons vertaling som dit mooi vir ons op, maar wat beteken dit. Om ‘n gewoonte te vestig, moet ons tog weet wat daardie gewoonte behels. Om vroeg op te staan om te gaan draf, behels dat ek eerstens ‘n wekker moet hê en as ek een het, moet ek hom stel. Dan moet ek actually opstaan en aantrek en buiten toe gaan en begin hardloop. En hardloop op sy beurt het weer ‘n hele stel reëls, soos dat jy moet strek, nie te vinnig moet begin nie, ens. Al hierdie “reëls” vir die vestiging van die gewoonte klink redelik vanself sprekend tot jy dit actually moet begin doen. Want wie druk nie die snooze knoppie ‘n paar keer voor hulle opstaan nie, en wie warm werklik heeltemal op voor hulle begin hardloop?

So al wat ek vandag wil doen is om bietjie met julle te gesels oor wat hierdie vier gewoontes behels, want as ons dit weet kan ons begin deur “ten minste ons wekker te stel.”  

1.  Bedek alles
Die eerste gewoonte waarvan ons lees, is dat die Liefde alles bedek.  Die Griekse woord στέγει kan ook vertaal word met ‘om ‘n dak op te sit’.  

Ons sou dus kon sê: die liefde bou ‘n dak oor als.  En wat is die basiese doel van ‘n dak?  Om ons veilig te hou, om ons te beskerm, om te keer dat ons natreën.  Twee goed is egter belangrik wanneer ons aan die idee van ‘n dak dink, die eerste is dat wanneer ons ‘n huis bou moet ons kies om ‘n dak op te sit (obviously) en tweedens help dit nie daar is ‘n dak, maar ons kies steeds om buite in die reën te slaap nie. Ons moet dus kies dat die liefde alles bedek, die dak spring nie net vanself op die mure nie, maar ons kies ook om self onder daardie liefde in te beweeg.

Onder hierdie dak van liefde hou ons mekaar veilig.  Daar sal foute of gebreke van mense nie in die openbaar gebring word nie.  Onder hierdie dak sal liefde probeer om dinge stilweg reg te maak eerder as om dit in die openbaar te stel sodat mense verneder of oor die vingers getik kan word.  M.a.w. die liefde, agape liefde, is bereid om alles te bedek vir die doel van genesing. Die welwese van die ander persoon is altyd die heel belangrikste en daarom moet versorging onder hierdie dak geskied.

Liefde haat dus ‘n skandaal, want ‘n skandaal maak mense seer en liefde haat dit as mense seerkry.  Onder hierdie dak kan daar nie klippe gegooi word na ander nie, selfs nie na bekende mense se sondes nie.  Dit is belangriker vir liefde dat mense genees word, as wat hulle verneder word. Skinder gebeur dus daar waar ‘n huis sonder ‘n dak staan.

In Matt 18: 15 kom leer Jesus ons iets van hoe ons optree onder die dak van liefde.
As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word.
Hy sê as iemand onreg aan jou gedoen het, probeer dit tussen julle twee oplos en as dit werk het jy jou broer/suster terug gewen.  Indien dit nie werk nie, neem nog een of twee mense saam.  Om die hele kerk te betrek en te vra om hulp moet net as die heel laaste uitweg gebruik word. Let wel dat Hy nêrens sê dat die saak geïgnoreer moet word nie. Bedek beteken nie dat ons net die ander pad kyk uit liefde nie, maar dit beteken wel dat ons wat ook al onder die dak is, nie aan die groot klok  hang nie.

Juis oor dit wat ons in Matt. 18 lees, moet ons ook onthou wat in 1Kor.13:6 (die vers net voor ons s’n) staan: die liefde hou nie van onreg nie. Want die vraag kan maklik by ons ontstaan: Bedek die liefde regtig alles?  Dit is dan wat ons herinner moet word dat die doel altyd genesing is: Om sekere weggesteekte booshede te bedek, is soos om ‘n dak te hê, maar die spreiers onder die dak aan te sit. It defeats the whole purpose. Ons moet onthou dat hierdie dak nie net vir jou en jou verhoudinge (goed of sleg) is nie, maar dat die liefde genesing vir almal moet bring. Wanneer seker dinge dus weggesteek word onder die dak, eerder as beskerm word, keer dit dat genesing vir ander moontlik is en daarom moet ons vir ‘n baie diepe wysheid bid sodat die Here ons kan help onderskei wat ons motiewe is wanneer ons iets “bedek.” Doen ons dit om te beskerm en sodoende vind almal genesing, of doen ons dit om weg te steek, wat almal net sieker maak.

2.  Glo alles
Die tweede gewoonte waarvan vers 7 ons kom leer is dat die liefde alles glo. Let wel, dit sê nie dat die liefde naïef is of stupid is nie. Dit beteken wel dat die liefde nie onnodig skepties is nie.
Die oorgrote meerderheid van kommentare stem ooreen dat daar hier bedoel word dat die liefde die goeie dinge glo.  Die liefde kies altyd om die goeie dinge van ander te glo, eerder as die slegte.  Een skrywer beskryf dit goed as hy sê: ‘love is always eager to believe the best’.  Ek wil nie hierdie idee van geloof oor vereenvoudig nie, maar ons moet erken dat as mense is ons van nature meer geneig om die slegte van mense te glo. As mense is ons van nature skepties. Die liefde is egter nie. Die liefde se geneigdheid is om die goeie te glo.  Ek dink nie hier word bedoel dat liefde maklik verneuk kan word deur mense se valse bedoelings nie, maar ek dink tog dat ons in liefde eerder vir mense die ‘benefit of the doubt’ moet gee, dat ons eerder moet kies om die goeie dinge te glo.

Soos ek gesê het beteken dit nie dat die liefde stupid is nie. Die liefde kan wel onderskei tussen die ongeregtigheid en die waarheid. En daarom kan ons nie vers 6 apart van hierdie vers lees nie, maar liefde wil nie in alles altyd eers die on-waarheid soek nie.  Hierdie agape-liefde sien  die beeld van God in ander raak.  Dit is altyd opsoek na daardie iets van God binne ‘n ander persoon, al sukkel ons soms om te glo dat sekere mense iets ‘goeds’ kan bevat.

3.  Hoop alles
Die derde gewoonte wat ons hier mee kennis maak is hoop. ελπιζει  - letterlik: om te verwag, om te vertrou, om te hoop.
Ek dink die eerste ding wat belangrik is om te besef as daar gesê word dat die liefde ‘alles hoop’, is dat dit nie verwys na ‘n tipe onredelike optimisme wat nie die werklikheid in ag kan neem nie.  Hierdie hoop verwys eerder daarna dat dit wyer om mislukking of hopeloosheid as finaal te beskou.  Hierdie hoop is anders as die optimisme wat ‘n trotse rugby ondersteuner het as hy dink sy span kan nog wen as hulle 30 punte agter is 3 min voor die einde.

Liefde wat ‘alles hoop’ rig hier die oog op die toekoms en verwag dat dinge goed sal afloop.  Dit is m.a.w. nie bereid om ‘n persoon of ‘n saak te los as verlore nie, maar verwag ‘n gelukkige wending ten goede.

Soos ek reeds genoem het moet daar ‘n onderskeid getref word tussen gewone menslike optimisme en ware hoop.  Gewone optimisme verwag dat ‘n saak of persoon vanself sal beter raak.  Ware hoop kan egter nie sonder vertroue in God nie.  Hoop gaan dus saam met die vertroue dat God die wêreld sal lei deur sy genade, tot beter dinge.

Dit is doelbewus dat ‘hoop alles’ na ‘glo alles’ geplaas word in hierdie vers.  Hoop is die sekerheid dat dit wat ons glo, die oorwinning van God se genade, uiteindelik sal waar word.  Die liefde kan nie sonder hoop nie, want dit is hoop wat liefde lewendig hou.  Dink bv.: Wanneer daar liefde aan iemand gegee word het daardie persoon weer hoop.  Wanneer iemand weet hy/sy is geliefd, het hy/sy weer hoop.  Ons moet onthou dat wanneer ons lief het, gaan ons seer kry, pyn he.  Maar hierdie ‘hoop-alles gewoonte’ waarvan Paulus in 1 Kor. 13 praat  stel ons in staat om te kan liefhê te midde van pyn, want ons leer dan om te verwag en om verras te word deur God en vreugde in ons seer.

Die volgende storie kan dalk help om die ‘hoop alles’ gewoonte van liefde te verduidelik:
In sy boek, The Mystery of Love, vertel Rabbi Marc Gafni van sy heel eerste bar mitzvahs wat hy moes doen. (’n Bar mitzvah is ’n Joodse oorgangsritueel waartydens ’n seun volwasse godsdienstige verantwoordelikhede kry.) Hierdie  bar mitzvah was vir ’n seun met die naam Louis gehou. Louis was egter ’n ongelukkige, onseker en hartseer kind. Sy onsensitiewe ouers het geen bydrae gelewer om sy selfbeeld op te bou nie, inteendeel! Hulle het nie ’n geheim daarvan gemaak dat hulle glo dat hy te dom was om die tradisioneel Hebreeuse gedeeltes te memoriseer wat van ’n seun verwag word om tydens bar mitzvah voor te dra nie.

Rabbi Gafni was vasberade om die beste uit Louis na vore te bring. Hy het ekstra tyd met Louis deurgebring deur liedere en gebede vir hom te leer. In die proses ontdek hy dat Louis eintlik ’n baie knap seun met ’n pragtige stem was.  Op die dag van sy bar mitzvah, het Louis vol selfvertroue die gedeeltes wat hy moes memoriseer, voorgedra.
Na afloop van die seremonie, het Rabbi Gafni voor die gemeente gaan staan, Louis in die oë gekyk en gesê: “Louis, this morning you met your real self. This is who you are. You are good, graceful, talented, and smart. Whatever people told you yesterday, and Louis, whatever happens tomorrow, promise me one thing. Remember . . . this is you. Remember, and don't ever lose it.”
’n Paar jaar later het Rabbi Gafni ’n brief van Louis ontvang. Die seun wie se ouers voorspel het dat hy te dom was om ’n tradisionele bar mitzvah te kon doen, was besig om medies te studeer. Hy was ook verloof en op die punt om te trou. Louis het sy brief so geëindig “. . . I kept my promise - I always remembered my bar mitzvah morning when you said that this is who I am. For this, I thank you.”

Die feit dat iemand in hom geglo het, alles gehoop het, het ‘n verskil gemaak in Louis se lewe.  Elkeen van ons kan ook weet dat daar Iemand is wat in ons glo en wat die beste vir ons hoop – en dit is God self.

4.  Verdra alles
υπομενει  - om onder iets te bly, om vol moed te wees, om te volhard, om te ly
Die werkwoord wat Paulus hier gebruik verwys nie daarna om iets passief te verdra nie.  Hierdie verdra verwys eerder daarna dat ons dinge aktief positief kan oorwin en verander.  So dit beteken nie dat ons net passief aan als moet onderwerp en moet ly nie.  Dit wys eerder op ‘n aktiewe aanvaarding van alles wat as lewenslas opgelê word.  Wat die liefde dan kan doen, is om te volhard in die uithou.

Al kom daar teleurstelling of allerlei moeilikhede of langdurige beproewings laat die liefde nie toe dat dit die gees breek nie.  Die liefde is sterker as al hierdie dinge – nie omdat dit gegrond is in my of jou wilskrag nie, nee, maar omdat dit ‘n vrug van die Heilige Gees in ons lewens is.

Kom ons kies doelbewus vir die liefde. Kom ons kies vir die liefde wat alles bedek, alles glo, alles hoop en alles verdra.

No comments:

Post a Comment