Sunday, May 27, 2012

Preek 27 May 2012


 Dien soos Jesus

Hierdie kwartaal het ons gefokus op die waarde van Betekenisvolle verhoudings. Ons het dit gedoen met die reeks oor doelgerigte liefde aan die hand van 1 Korintiers 13 en met die pinksterreeks wat gegaan het oor Geesvervulde verhoudings waar ons by Jesus geleer het oor verskillende aspekte van verhoudings. Vanoggend op hierdie pinksterfees sluit die pinksterreeks af deur te kyk hoe ons in Geesvervulde verhoudings mekaar moet dien soos Jesus.

Ek wil begin met ‘n storie wat ‘n mooi voorbeeld is van diens. Dit het onlangs as ‘n artikel in Die Beeld verskyn. Dis die oor die NG Gemeente Boksburg-Suid. Die omgewing waarin die gemeente geleë is het verander en baie van die gemeentelede het na ander voorstede toe getrek. Dit het gemaak dat die gemeente op die randjie was om hulle deure te sluit. Daar was net 5 kerkraadslede, 5 kinders in die Sondagskool en op ‘n Sondag was daar net so 20 mense in die erediens. Die Ring het toe aanbeveel dat die gemeente moet gesluit word.
Maar ‘n paar lidmate onder leiding van Choert Maartens het geweier, want hy het gevoel hulle was daar met ‘n roeping. Hulle het toe ‘n kerklike kultuurverandering ondergaan. Waar die gemeente vroeër net ingestel was op instandhouding en oorlewing was hulle fokus nou op dienslewering.
Dit het klein begin, met kos aan ‘n paar lidmate wat dit nodig gehad het. Vandag koop hulle maandeliks kruideniersware vir ‘n hele paar gesinne. Hulle betaal die skoolgeld van ‘n klompie kinders. Hulle het ‘n groot klerebank. Hulle gee vir straatmense kos. Hulle help mense wat vasbrand koshuisgeld vir kinders, huurgeld en munisipale rekeninge.
En die pastorie is omskep in ‘n huis waar 16 mense woon wie nie ‘n ander heenkome het nie. Die vrou wat die huis bestuur het ookal ‘n klompie mense wat in die huis woon gehelp om werk te kry.
Vandag is daar weer 130 mense wat die eredienste bywoon. En hulle weet nie waar al die geld vandaan kom vir al hierdie projekte nie, maar hulle boeke klop en daar is nog geld oor om te spaar ook.   
Toe hulle begin fokus op dienslewering en die aanspreek van nood in hulle omgewing het die gemeente weer begin groei.
Dit het my laat dink aan die eerste gemeente in Handelinge. Hulle het nie gegroei oor die uitstorting van Heilige Gees en al die wonderwerke nie. Hulle het gegroei omdat hulle vir mekaar gesorg het en omdat hulle diens gelewer het in hulle gemeenskap. Die uitstorting van die Heilige Gees het hulle gedagtes verander en hulle bemagtig tot dienslewering.

Kom ons gaan kyk wat leer ons by Jesus oor dienslewering. Ek gaan 2 teksgedeeltes gebruik hiervoor.

Johannes 13: 2-5; 12-17
Toe Jesus vir sy dissipels wou leer wat dienslewering is. Toe was hy hulle voete. Omdat die mense oral gestap het, het hulle voete baie vuil geword en die gebruik was dat die laagste slaaf in ‘n huishouding mense se voete was voordat hulle by die huis ingaan.
Dis die eerste belangrike ding – Jesus, die rabbi, die leermeester doen die werk van ‘n slaaf. Niks is benede hom nie. Diens begin by nederigheid.
Verder was hy ook Petrus en Judas se voete. Hy weet hulle gaan hom verraai en verloën, maar Hy was nog steeds hulle voete. Jesus se liefde en diens bedek hulle foute en sondes. Niemand word dus uitgesluit as dit by diens kom. Ons het nie die luukse om te besluit wie gedien moet word en wie nie. Ons word net geroep om te dien waar dit nodig is.

Wat leer ons nog by Jesus oor diens?

Matteus 5: 41-42.
Om hierdie woorde te verstaan moet ons iets van die gebruike van hulle samelewing verstaan.
Destyds het die Romeinse soldate dikwels dwaar begasie – hulle kit – oor groot afstande gedra. Veral wanneer hulle deur dorpsgebiede gestap, was die gebruik dat iemand hulle swaar vrag dan vir hulle gedra het. Daar was selfs ‘n wet wat jong seuns verplig het om die soldaat se swaar sak vir ten minste ‘n kliometer ver te dra.
Alhoewel dit ‘n alledaagse gebruik was, het niemand daarvan gehou nie. 
Omdat die gebruik so wyd verspreid was in Jesus se tyd, het Jesus iets voorgestel wat total onverwags was en dinge op sy kop gekeer het. Niemand het daarvan gehou om die Romeinse soldate te help nie  - nou kom Jesus en Hy sê moenie die sak net een kilometer dra nie, dra dit nog ‘n kilometer verder. 
So die beginsel wat ons hier by Jesus leer: doen altyd meer as wat van jou verwag word.
My ervaring is dat daar min verkeersknope is in die tweede kilometer, want daar is min van ons wat kans sien om dit te doen. Veral as dit by dienswerk kom.

Vir Jesus-volgelinge gaan dit nie oor mag en heers nie, dit gaan oor nederigheid – dis bereid om die werk van ‘n slaaf te doen.
Diens gaan daaroor om die beste vir almal te soek – dis wen-wen vir almal of niks nie.
Diens beteken gehoorsaamheid aan God – ons maak soos Jesus vir ons gewys het.
Diens beteken omgee vir alle mense – vriende, familie, vyande, vreemdelinge, mense met sondes en foute.
 
Ek wil afsluit met 2 aanhalings:
Jesus het gesê: “Maar die grootste onder julle moet bereid wees om ander te dien.” (Matt 23: 11)

“Almal het die mag van grootsheid.  Nie vir roem nie, maar vir grootsheid, omdat grootsheid bepaal word deur diens”. (Martin Luther King Jr)



No comments:

Post a Comment