Sunday, June 17, 2012

Preek 17 Junie 2012


Eerder immigreer as emigreer
2 Korintiers 5: 6-17

Verlede Sondag het Thinus daaroor gepreek dat ons lewens maar soos soos ‘n tent is, maar eendag gaan ons wees soos ‘n vaste gebou, wat stewig en ewig is. Nou is ons maar soos kleipotte wat maklik breek. Ons is fragile en breekbaar. Maar ons kan uitsien daarna dat Jesus vir ons wag en dat alles goed en reg sal wees saam met Hom. Dit gee vir ons hoop in hierdie lewe, wanneer dinge nie so lekker is nie. Ons moet leef vanuit hierdie hoop en die meeste maak van hierdie lewe.
Ek wil vanoggend aansluit by Thinus se preek en aangaan met die teks wat hy gelees het.

’n Jong seun ry op ’n trein tussen twee stede - dis ’n lang treinrit. Dit was ’n  warm, stowwerige dag, wat dit baie ongemaklik vir treinry gemaak het. Hierdie treinrit was veral in terme van landskap maar ’n bra oninteressante roete.
Maar die seun het geduldig by die venster uitgekyk en die vaal landskap dopgehou.  ’n Ou tannie het met deernis na hom geleun en gevra: “Is jy nie al moeg van die lang rit nie - die stof en die hitte?”
Die seun het glimlaggend geantwoord: “Ja, tannie, so ’n bietjie. Maar ek gee nie baie om nie, want my pa wag vir my aan die einde van hierdie rit!”

Dis hoe dit vir Christene is. Ons lewens is soos ‘n treinrit wat soms maar ongemaklik en seer is, maar ons kan dit hanteer want ons weet dat Jesus wag vir ons aan die einde van die rit.

Paulus besef dit en daarom skryf hy in vers 8: “Ons is vol moed en sou liewer ons verblyf in die liggaam wil verlaat en by die Here wil gaan woon.”
Paulus wil uit hierdie deurmekaar lewe na Jesus toe emigreer.
Maar hy besef ook dat dit nou nie so maklik is nie. Daarom sê hy in vers 9: “Maar, as ons hier woon of daar woon, ons het net een wens, en dit is om te lewe soos Hy dit wil.”
Dus: ons wil graag saam met Jesus wees en ons sien uit daarna, maar ons is nou hier, so ons moet die meeste daarvan maak en lewe volgens Sy wil. In plaas van emigreer na Jesus toe, moet ons imigreer in die lewe in en die meeste maak daarvan. Dis waarvoor God ons roep.

Om te leef volgens Sy wil beteken ons is nuwe mense.
Soos Paulus sê in vers 17. “Iemand wat aan Christus behoort is ‘n nuwe mens, die ou mens is verby.”
’n Priester hoor eendag van ’n vrou wat beweer dat God persoonlik aan haar verskyn. Hy was baie skepties en besluit om die vrou se aanspraak te toets.
Hy gaan na haar toe en sê: “Wanneer God weer aan jou verskyn, vra Hom om my geheime sonde, waarvan net Hy weet, aan jou te openbaar.” Só, dink die priester, sal ek vir seker kan bewys dat die ou vrou jok.
’n Maand later gaan die priester terug na die vrou om te hoor wat sy te sê het.
“Mevrou,” vra hy half smalend, “het jy toe vir God gevra om jou van my geheime sonde te vertel?”
“Ja, ek het.”
Die priester skrik. “En wat het Hy toe gesê?” vra hy versigtig.
“Hy het net gesê: ‘Watter sonde? Sê vir die priester sonde wat Ek vergewe het, vergeet Ek.’”

Ons is vergewe, ons is nuut gemaak. God gee vir ons ‘n getuigskrif om dit te bevestig.
Ferdinand Deist het iewers geskryf dat God se getuigskrif vir ‘n nuwe mens lyk soos volg.

Heil die Leser
Hiermee getuig Ek, die ondergetekende, dat Ek (jy kan maar jou eie naam hier invoeg) as mens persoonlik ken en met oortuiging soos volg oor hom kan getuig:
Vir My is hy só belangrik dat Ek die hele skepping vertraag het om hom eers te maak, en dat Ek, toe hy op ’n dag soek geraak het, nie gehuiwer het om my Seun ’n mens te laat word om hom te kom soek en terug te bring nie.
Van hom getuig Ek dat hy uit die goddelike geslagsregister stam en daarom deel het aan die goddelike natuur. Hy is maar weinig minder as ’n goddelike wese. Daarom het hy alle mag oor die bose en kan hy groot dinge doen. Hy kan homself verloën, hy is in staat om te verander, versoeking te weerstaan, te bid en te ontvang, lief te hê, om te gee, jammer te wees vir mense en te vergewe. Hy kan selfs lewe al het hy ook gesterwe.
Ek kan hom met vrymoedigheid aanbeveel.
Geteken: God

Dis hoe God ons sien. Die vraag is, sien ons onsself ook so?

Nuutgemaakte mense, wat leef volgens God se wil word gedring deur die liefde van Christus.
Dis hierdie liefde wat gemaak het dat Paulus by mense betrokke geraak het. Dis hierdie liefde wat gemaak het dat hy nie anders kon as om die evangelie te verkondig nie. Hy wou hê dat ander mense dit ook moes beleef. Dis hierdie liefde wat maak dat hy nie anders kan as om ander mense te dien nie. 
Ou kerkvader Augustinus het hieroor gesê: “hoe lyk die liefde? Dit het sagte hande om ander te versorg. Dit het vinnige voete om ander te gaan help. Dit het skerp oë om ander se nood raak te sien. Dit het goeie ore om die geringste klag of sug van ‘n naaste op te vang. Dit is hoe die liefde lyk.” 

Nuutgemaakte mense, wat leef volgens Sy wil kyk anders na ander mense.
Paulus skryf in vers 16: "Ons beoordeel dus van nou af niemand meer volgens menslike maatstaf nie.”
In Italië gedurende die Tweede Wêreldoorlog het ’n Amerikaanse kapelaan goeie vriende geraak met ’n plaaslike Katolieke priester. Toe sterf die kapelaan tydens ’n veldslag! Die priester het gevra dat hy in die begraafplaas agter sy kerkie begrawe word. Die Amerikaanse regering het ingestem, maar toe sê die Katolieke kerk dat ’n nie-Katoliek nie in ’n Katolieke begraafplaas begrawe mag word nie! Hy is gevolglik buite die begraafplaas se heining begrawe.
Jare later het ’n vriend van die kapelaan ’n draai by die ou priester in Italië gemaak. Toe hy die kapelaan se graf sien, het hy verbaas uitgeroep: “Ah, I see that you got permission to move the body.” Toe kom hierdie antwoord “No, they told me where I couldn't bury the body. But nobody ever told me I couldn't move the fence.”

Ons skuif heinings as ons anders begin kyk na mense.
As ons ophou om mense te beoordeel volgens hulle swakhede, mislukkings, hulle uiterlike, hulle orientasies – dan skuif ons heinings. 
As ons begin om eerder te fokus op mense se potensiaal, moontlikhede, hulle waarde en kwaliteit – dan skuif ons heinings.
As ons begin om mense te respekteer en hulle met waardigheid en integriteit te behandel – dan skuif ons heinings.

Om op te som:
As ons so kyk na hoe deurmekaar hierdie lewe is, dan wil ons soms eerder na Jesus toe emigreer waar alles perfek sal wees. Maar ons kan nie. Ons is hier en ons moet die meeste daarvan maak en leef volgens sy wil.
So besef en celebrate dat jy ‘n nuwe mens is. En gaan leef soos ‘n nuwe mens.
Iemand wat gedring word deur die liefde van Christus om te gaan dien.
Iemand wat anders na ander mense begin kyk en hulle begin sien soos wat Jesus hulle sien.




Ek dank U Heer, vir my pappa se liefde trou;
Sy twee arms, wat my stewig elke dag vashou,
Om my te steun wanneer alles skeefloop of sleg;
Met ferme hande my te lei op die regte weg.
Vir blyke van waardering, as ek my bes probeer,
Ofskoon ek nie ’n wenner is, of baie goed presteer.
Ek dank U vir sy hande wat met ywer daagliks werk,
Al is hul vol eelte en grof, maak U hulle sterk.
Ek dank U vir sy oë wat ook alles raaksien,
Al moet ek soms teregwysing en straf verdien;
Ek dank U vir sy hart wat vol liefde klop vir my,
Ek sal nooit in my lewe weer so ’n pappa kry!
Seën en lei hom, Heer, hy is so spesiaal;
Ek is baie lief vir hom Heer, dankie nog ’n maal.
Amen



 




No comments:

Post a Comment