Sunday, June 3, 2012

Preek 03 Junie 2012


1 Johannes 5: 6-13

Dit sal darem baie lekker wees om sonder enige onsekerheid in die lewe te kan leef. Om sekerheid te kan hê oor alles in die lewe. Dit sal die lewe voorspelbaar maak met geen onverwagte dinge wat die lewe versteur nie. Jy sal nooit hoef te worry oor hoe dinge gaan uitwerk nie. Daar sal geen of versigtigheid hoef te wees nie.
Dit sal nie meer nodig wees vir korttermynversekering, lewensversekering, ongeskiktheidtoelae, geen medisefondse of werkloosheidversekering nie. Alles is veilig, voorspelbaar en seker.
Dit sou seker lekker wees, maar ons weet mos die lewe werk nie so nie. Die lewe is nou maar eenmaal onseker, onvoorspelbaar en die verander vinnig. En dit help nie ons skop daarteen nie. Ons moet dit aanvaar en die meeste daarvan maak.

Maar as gelowiges is daar tog iets waaroor ons seker kan wees.
Ons lees dit in 1 Johannes 5:6-13.

In die film, Narnie. Voyage of the Dawn Treader vra die kinders vir Aslan, die leeu, of hulle hom weer sal sien. Hy antwoord dat hulle hom verseker eendag weer sal sien.
Dis wat Johannes in die teks ook sê. “Hierdie brief skrywe ek vir julle, sodat julle kan weet dat julle die ewige lewe het, julle wat in die Seun van God glo.”
Dit waarvan ons as gelowiges seker kan wees is dat ons eendag die ewige lewe sal hê. Dat ons eendag vir God sal sien.

In die Joodse regstelsel was dit ‘n vereiste om 3 getuies te gebruik. So Johannes gebruik dan die beeld van ‘n Joodse hofsaak wanneer hy skryf dat daar 3 getuies is wat getuig en bevestig dat die ewige lewe vir gelowiges wag. Water, bloed en die Heilige Gees.

Water dui op Jesus se doop… maar ook op ons doop - ons doop merk ons as God se kinders, wat deur sy genade en liefde toegang het tot die ewige lewe.
Bloed dui op Sy kruis… die offer wat Jesus gebring het sodat ons die ewige lewe kan hê. 
Die Heilige Gees ons 24/7 ons leermeester, mentor, metgesel, lewensafrigter is, wat ons gedurig herinner dat ons die ewige lewe het.

Water, bloed en die Gees - 3 betroubare getuies wat bevestig dat ons deur ons geloof in Jesus die ewige lewe het!

Wat is die Ewige lewe?
Deur die jare het mense al baie hieroor gewonder. Byvoorbeeld, ‘n klompie jare gelede het daar ‘n boekie verskyn met die titel: Die eerste 5 minute na die dood. Ek het na die boek gekyk en onmiddelik gewonder – hoe weet die skrywer wat gebeur in die eerste 5 minute na die dood? Hy was immers nog nie daar nie, anders sou hy nie die boekie kon skryf nie. Dis mos die probleem met die ewige lewe – jy moet dood wees om te weet hoe en wat dit gaan wees.

Paulus som die probleem baie mooi op in 1 Korintiers 13: 12 “Nou kyk ons nog in ‘n dowwe spiel en sien ‘n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is. Nou ken ek net gedeeltelik, maar eendag sal ek ten volle ken soos God my ten volle ken.”

Ons weet nie wat presies die ewige lewe behels nie. Alles wat dus nou daaroor gesê word, is blote spekulasie. Maar eendag sal ons wel alles weet.. 

Donald Shelby het gesê: “There is much we do not know about the little we do know concerning life after death; But the little that we do know is enough - indeed, more than enough.”

Wat is die bietjie wat ons wel weet?
Kom ek verduidelik dit so. Ons het ‘n baie oulike hond, Bella. Sy is ‘n Labrador wat baie lief is vir die kinders. Trouens ek dink sy dink sy is een van die kinders. Soms gebeur dit dat die kinders in hulle kamers is met die deur toe. Bella kan dit nie verstaan nie, so sy gaan krap dan aan die toe deur. Sy weet nie wat daar binne die deur gebeur nie, maar sy weet die kinders is daar binne.
Met die ewige lewe werk dit ook so – ons weet en verstaan bitter min van die eiwge lewe, maar ons weet dat Jesus daar is.
En dis wat die skildery ook vir ons wys – ons weet dat Jesus vir ons wag.

Hierdie wete van die ewige lewe en Jesus wat vir ons wag – gee vir ons hoop in die onseker wêreld waarin ons nou leef.  Maak nie saak wat ons nou beleef nie – ons kan uitsien na ‘n toekoms waar alles weer sal wees soos God dit bedoel het om te wees.

Maar die grootste fout wat ons kan maak is om passief agteroor te sit en net uit te sien na die tyd wat ons saam met Jesus gaan wees.

Jesus se lewe op aarde wys en leer vir ons iets anders. Hy het geweet hy gaan net ‘n kort tydjie op aarde wees. Daarom was hy heeltyd besig om sy dissipels voor te berei en te leer. Daarom beklemtoon hy ook die grootste gebod – alles kom daarop neer – wees lief vir God en wees lief vir jou naaste.  Dis waarop geloof neerkom – liefde vir God en liefde vir jou naaste.

Na Jesus se sterwe en opstanding weet hy dat gaan opvaar na die hemel om saam met sy vader te regeer. So hy doen moeite om vir sy dissipels voor te berei vir die tyd wat hy nie meer by hulle gaan wees nie. 
Hy sê nie vir hulle dat hulle nou rustig moet wees en wag vir die ewige lewe saam met Hom nie.
In Matteus 28: 19-20 sê hy vir hulle: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Geloof gaan nie net oor die ewige lewe nie. Geloof en die ewige lewe is nie ‘n ‘pie in the sky when you die” nie. Geloof is iets wat jy nou al moet doen. Geloof is ‘n werkwoord. Dis om aktief lief te wees vir God, om aktief en prakties uit te reik en lief te wees vir jou naaste. Geloof is om ‘n getuie vir Christus te wees in alles wat jy doen en aanpak totdat die ewige lewe eendag vir jou aanbreek.
Dis nie genoeg om bloot kerk toe te gaan, Bybel te lees en voorbeeldig te lewe en te wag vir die wonder van die ewige lewe nie.
Geloof verg dat ons as gelowiges, in ons omgang met ons vriende, ons ouers en kinders, ons werkgewers en werknemers, in die ekonomie, in die politiek in ons verhoudings met ons landsgenote op ‘n aktiewe en praktiese manier iets van die wonder van die ewige lewe vir mense sal begin wys.    
Dat ons ons geloof op so ‘n manier sal begin uitleef, dat mense so ‘n ietsie van die ewige lewe sal begin raaksien.

Om op te som. As ons in Jesus glo wag die ewige lewe vir ons. En ons weet dit gaan wonderlik wees, want Jesus is daar. En dit gee vir ons hoop. Maar intussen , totdat ons daar kom, kom ons leef op so ‘n manier dat die ewige lewe vir mense aanloklik sal wees en sal begin deurbreek in ons onseker wêreld.

No comments:

Post a Comment