Sunday, September 2, 2012

Preek 02 Sept 2012


Uitverkiesing

Ons begin vandag met ‘n preekreeks met die tema: Sticky-toffee temas. Vandag se tema is Die uitverkiesing, volgende week is “die sonde teen die Heilige Gees” en die week daarna gaan oor “die hel”. Net so ‘n bietjie agtergrond: die rede hoekom ons hierdie reeks doen is a.g.v. ‘n interessante gesprek wat op ons gemeente se facebook bladsy gebeur het. Dit was na aanleiding van preke wat ons vroeër die jaar gehad het. So ons het die uitdaging aanvaar en gaan probeer om oor hierdie sticky-toffee-temas te praat. Beginnende dan nou by die leerstelling oor die uitverkiesing.

Gebed

Ek onthou toe ek ‘n kind was het die onderwyser baie keer in die skool tydens die LO periode vir ons gesê dat ons in 2 spanne moet verdeel vir een of ander game. Dan het hy 2 leiers aangewys wat elkeen vir hulle ‘n span moes kies. Almal staan dan in ‘n bondel en die 2 leiers roep dan die mense uit wat hulle in hulle spanne wil hê. Noodwendig was daar altyd ‘n paar kinders wat oorgebly het, wat nie gekies is nie en wat dan eenkant moes sit terwyl die ander speel.

Dis hoe baie mense mos oor die uitverkiesing ook dink. Dat God baie lank terug al besluit het, gekies het, wie gered gaan word en wie nie. So die benoude vraag is dan – is ek uitverkies of nie? Want as ek is, dan gaan ek hemel toe en as ek nie is nie, is ek verlore. Hoe kan ek uitvind of ek uitverkies is? Maar miskien is dit beter om nie te weet nie, want sê nou ek kan uitvind en ek hoor ek is nie uitverkies nie.

Daar is ‘n paar teksgedeeltes (wat buite verband) gebruik word om hierdie siening te regverdig.
Matteus 22:14 ““Baie is immers geroep, maar min is uitverkies.”
Romeine 8: 29 “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.”
Romeine 9: 18 “Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.”
Efesiers 1: 4 “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.”
Efesiers 1: 11 “Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem, Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.”

Hierdie siening van die uitverkiesing beteken met ander woorde:
God het al by die skepping van die wêreld bepaal wie gered word en wie verlore gaan. Dis vooraf so bestem.
Niks kan dit verander nie – die wat gekies is sal gered word en die wat nie gekies is nie, sal verlore gaan. Omdat dit so bestem is, kan ons niks daaraan doen nie en niks daaraan verander nie.

Dit bring my onmiddelik by ‘n klomp vrae:
  • As alles so vooruit beplan is – hoekom het Jesus dan gesterf?
  • Hoekom sal ‘n God wat alles weet en alles vooraf bepaal het, toelaat dat mense gebore word wat klaar gekies is om verlore te gaan?
  • In die Bybel leer ons dat ons moet kies of ons vir God wil volg of nie. Hoekom sal God dan vir ons ‘n keuse gee as Hy reeds besluit het wie gekies is en wie nie?
  • Hoekom moet ons sendingwerk doen as God reeds bepaal het dat sekere mense gered word en ander nie?

Hierdie siening van die uitverkiesing pas nie in by die breër boodskap van die Bybel nie. Kom ek wys dit gou vir julle.

Ons begin by God se wil vir mense. Sy wil is dat alle mense moet wegdraai van die sonde af. Dat alle mense Hom sal ken en dat niemand verlore sal gaan nie. Kom ons kyk gou na tekste wat dit bevestig.

Esegiel 33: 11 ““Sê vir hulle: So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle van julle bose optrede! Waarom wil julle sterf, Israel?
God wil nie hê dat enige iemand moet sterf sonder om Hom te ken nie.
1 Timoteus 2: 3,4 “So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.”
Alle mense moet gered word.
2 Petrus 3: 9 “Die Here stel nie die vervulling van sy belofte uit nie, al dink party mense so. Nee, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer.”
Hy is geduldig, want Hy wil alle mense by Hom hê.
Johannes 3:16,17 ““God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.
God wil nie mense veroordeel nie, Hy wil hê hulle moet gered word.

Dus: die wil van God is dat niemand verlore sal gaan nie, maar dat almal gered sal word. Hy nooi alle mense na Hom toe. Dis hoekom ons getuies moet wees en sendingwerk moet doen. Hoe anders gaan mense weet van God se liefde vir hulle.

Tog is daar ook mense wat nie in Jesus glo nie. Mense wat hulle teen sy uitnodiging verhard.
Johannes 5: 40 “Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.”
Handelinge 7: 51 ““Julle hardkoppiges! Julle is heidens in julle harte. Julle is doof vir die woord van God. Julle weerstaan altyd die Heilige Gees. Soos julle voorvaders gemaak het, maak julle ook.”

Die implikasie hiervan is dat God wil alle mense by Hom hê, maar daar is tog ook mense wat kies om dit nie te doen nie. Mense wat vir God wegstoot. Dis hulle eie keuse, dis nie soos God dit wil hê nie. Daai mense kan nie vir God blameer nie - hulle kan net hulleself blameer. 

In die lig hiervan – hoe moet ons die uitverkiesing verstaan? Die eintlike vraag is: Glo jy in Jesus? Want as jy in Jesus glo, is jy uitverkies.
Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld: As iemand van ‘n boot afval en is besig om te verdrink. Dan gooi jy vir die persoon ‘n reddingsboei. As hulle die reddingsboei gryp, dan word hulle gered. As hulle dit nie doen nie, dan gaan hulle verlore.
Dis hoe die uitverkiesing ook werk: God neem die inisiatief, Hy  is genadig en vol liefde en Hy wil hê alle mense moet gered word, so Hy gooi die reddingsboei (sy seun Jesus) na alle mense toe uit, maar jy het ‘n keuse om dit te gryp of nie. As jy dit gryp is jy uitverkies, jy is gered. As jy kies om dit weg te stamp, dan gaan jy verdrink, dan is jy verlore.

Die feit dat julle almal hier sit in die erediens, wys vir my dat julle in Jesus glo. En as julle in Hom glo dan is julle uitverkies. Julle hoef nie daaroor te worry nie.
Maar nou kan ons ook nie net hier sit en verlig voel daaroor nie. Ons is nie gekies om net verlig te wees nie, ons word gekies om iets te gaan doen. Hy wil deur ons werk. Hy wil ons gebruik. Deur die hele Bybel sien ons hoe God mense kies om iets te gaan doen: Noag, Abraham, Jakob, Die volk Israel wat gekies is om ‘n lig vir die nasies te gaan wees, Dawid, Josef en Maria, die dissipels, Paulus en so kan ek aangaan.

Om op te som: God ryk sy hand na alle mense uit. Hy kies alle mense. Dis genade. As ek dit aangryp dan word ek uitverkies. Dan is ek deel van sy uitverkore volk. En daarvoor moet ons Hom loof en prys.
Maar ek kan dit nie maar net vir myself hou nie, ek moet dit ook gaan uitleef sodat nog mense nader getrek kan word en deel van God se uitverkore groep kan word.  






      



No comments:

Post a Comment