Sunday, September 9, 2012

Preek 09 September 2012


Die onvergeeflike sonde (Sonde teen die Heilige Gees)


Ons is nou in die tweede week van ons ‘Sticky Toffee’ reeks.  Johannes het laasweek, soos wat jul hopelik onthou, oor die Uitverkiesing gepraat.  Hierdie week het hy vir my die moeilikste tema gegee, naamlik die Onvergeeflike sonde.  So deur die week, terwyl ek probeer het om hierdie toffee te kou, moet ek erken dat ek party dae gedink het die toffee is besig om my te kou.  Wat sê mens oor die Onvergeeflike sonde?  Is daar werklik so iets?

Ek het egter bietjie beter gevoel toe ek in een van die beste kommentare, The word biblical Commentary die volgende gelees het:  Without question, this is a difficult passage, that does not exactly encourage the optimism in the exegete (die persoon wat die teks probeer uitlê/verduidelik.  We remain stumped.

Dit is nou wat die hoogsgeleerde mense sê...nou wat sal ek daaroor sê. 

Ek gaan begin deur die twee gedeeltes te lees waar ons hoor van hierdie sonde.

Matt 12: 31-32
Heb 10: 26

Kom ek begin deur te noem:  as ons die uitdrukking ‘onvergeeflike sonde’ gebruik, soos wat ons in Heb lees en soos ons daaroor praat, dan beteken dit tog dat daar is sonde is wat erger is as ander sondes, dat dit eintlik in ‘n hele ander kategorie val.  Probeer dit vir ons sê dat daar ‘n verskil is tussen sondes? 

Ou Katolieke Tradisie
As ons kyk na die ou Katolieke tradisie, sien ons dat hulle onderskeid gemaak het tussen 1) vergeeflike sondes en 2) doodsondes.  Vergeeflike sondes is darem nou  nie so erg nie en ons kan vergifnis daarvoor kry deur te berou en ons sondes te bely.  Doodsondes aan die ander kant, was volgens hierdie ou Katolieke tradisie baie erger.  As jy dit gedoen het, het jy die genade van God verloor.  As jy dit dan wou terugkry, kon jy dit net doen deur die boetesakrement!  Jy moes betaal het!! 

Calvyn
Die bekende teoloog Calvyn het egter sterk standpunt ingeneem teen hierdie idee dat ons sondes kan gradeer, dat sekere sondes erger as ander is.  In ons gereformeerde teologie was daar maar nog altyd ‘n mate van gradering.  Daar was tye wat ons bv. onderskei het tussen ‘klein’ private sondes wat ons deur belydenis kon wegwas, maar daar was ook groter publieke sondes, wat ons net kon wegkry deur kerklike tug.  As jy jou vriend sou te nakom, sou die kerkraad daaroor moes besluit en hulle sou jou kon weier om nagmaal te gebruik vir ‘n sekere tydperk, of jy mag dalk nie kerk bygewoon het nie.  Ek het ‘n vriendin wat drie weke uit die kerk geskors was omdat sy ‘n tattoo gekry het...

Terug by Calvyn – waarom het hy hierdie reaksie gehad teen die ‘gradering’ van sondes?  Hy was nie so erg teen die gradering as wat hy was teen die term vergeeflike sondes nie.  Dit het die indruk gegee dat sekere sondes baie erg is  - die doodsondes, en ander glad nie so erg nie.  As ons so praat, dan misken ons die erns van sonde.  Dit is baie duidelik dat God enige sonde haat.  Klein of groot.  Alle sonde, nie net hierdie sogenaamde doodsondes nie.  Alle sondes was so erg dat hy uiteindelik sy Seun moes laat ly het, dat Hy sy seun aan ‘n kruis laat sterf het, sodat ons van al ons sondes vergewe kan word. 

As ons as gelowiges van een of ander vorm van gradering praat, kan ons nie onderskei tussen minder erge sondes, vergeeflike sondes of doodsondes nie.  As ons dan onderskeid moet tref kan ons dit doen tussen vreeslike erge sondes en sondes wat nog erger is.  Daar is geen sonde wat nie erg is nie.  Daar is geen sonde wat nie vreeslik is nie.  Dink maar net aan wat Jesus moes deurgaan vir ons sondes...dan besef ons weer hoe erg dit moes wees. 

Onvergeeflike sonde
Die moeilikste vraag kom egter in as ons Heb 10: 26 lees.  Hier kry ons te doen met ‘n onvergeeflike sonde.  Tot nou toe het ek gepraat van erge en vreeslike erge sondes, maar al hierdie sondes kon nog vergewe word, maar is daar dan nou een sonde wat nie vergewe kan word nie?  In Matt 12:31 lees ons wat hierdie sonde is:  hy praat van die sonde teen die Heilige Gees. 

Wat is die sonde teen die Heilige Gees?
Wat presies hierdie sonde teen die Heilige Gees is, is die vraag op almal se lippe?  Het ek dit dalk al gedoen?  Kan ek dit per ongeluk doen?  Kan ek regtig nie vergifnis daarvoor kry nie??

Kom ons gaan kyk na die gedeelte net voor Mat 12:31.  In die gedeelte vanaf vers 22 – 30, lees ons waar ‘n man na Jesus toe gebring word.  Volgens hulle het die man ‘n bose gees gehad; hy was blind en stom.  Jesus het onmiddellik sy gebrek genees.  Daar word nie genoem dat Jesus die gees uit hom dryf nie.  Jesus genees hom net van blind en stom wees.  Dit was ongelukkig so dat mense hierdie tipe gebreke aan die bose toegeskryf het.  Toe die Fariseërs daarvan hoor (vers 24) het hulle hom beskuldig daarvan dat Hy besig is met bose dinge en dat hy dit gedoen het in die naam van Satan.   Hoe belaglik hierdie aanklag ook al mag klink, Jesus antwoord hulle.  Hy deel sy antwoord in twee dele op.  Eers volg die logiese antwoord:

 As Satan dan vir Satan uitdryf, is hy teen homself verdeeld; hoe kan sy ryk dan bly staan?  En as Ek met Beëlsebul se hulp die bose geeste uitdryf, met wie se hulp doen julle volgeling dit dan...

Maar dan volg Jesus se eintlik antwoord, want maak nie saak hoe logies sy antwoord was nie, die Fariseërs sou nie daardeur sy volgelinge geword het nie.  Dit vra meer!  Jy moet kan raaksien dat dit die Gees is wat werk tydens die geesuitdrywing.  Jesus kom wys dat Hy sterker is, dat Hy groter is.
Jesus antwoord in vers 30:  Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.  Daarom sê ek vir julle:  Elke sonde en lastering kan die mense vergewe word, maar die lastering teen die Heilige Gees kan nie vergewe word nie.  As iemand iets teen die Seun van die mense sê, kan dit hom vergewe word, maar as iemand iets teen die Heilige Gees sê, kan dit hom nie vergewe word nie, nie in hierdie bedeling nie en ook nie die toekomstige bedeling nie”

Hierdie uitspraak van die Fariseërs, dat Jesus die wondere verrig deur Satan, het daartoe gelei dat Jesus die uitspraak in vers 30 gemaak het.  Die saak waaroor dit gaan is nou duidelik.  Dit gaan oor teenstanders van God, in hierdie geval die Fariseërs, wat sy werk aan die bose toeskryf.

 Jesus kom sê m.a.w. vir hulle, as julle die werk wat ek doen, die werk deur die Heilige Gees, toeskryf aan Satan, dan is julle besig om teen die Heilige Gees te sondig.  As julle dit doen ontken julle die werking van die Heilige Gees.  In kort sou ons kon sê dat om teen die Heilige Gees te sondig, is om die werking van die Heilige Gees totaal en al te weier en te weerstaan.  Dis so goed soos om die werking van die Gees toe te skryf aan Satan.

Vandag?
So hoe pleeg ons vandag hierdie onvergeeflike sonde en kan ons daarvoor vergewe word?  Dalk moet ek dit duidelik maak dat dit nie iets is wat eenmalig kan gebeur en dan is dit nou verby nie.  Nee, dit kan ek met oortuiging sê

Hoekom sê ek so: elke dag, dan wil die Heilige Gees binne elkeen van ons werk en wil die Gees in ons kom woon, maar as ons die Gees weier, dan sondig ons teen die Gees.  Dit beteken nie dat Jesus nou sy rug op ons draai nie.  Hy saai nie net een saadjie nie.  Nee, Hy staan steeds gereed om deur ons te werk.  Hy staan gereed, as die saaier, om weer en weer te kom saai.  Elke dag, elke oomblik, maar dit bly ons keuse om hom in te laat en toe te laat om deur ons te werk.  Wanneer dit gebeur maak nie saak nie.  Ons lees dat die moordenaar wat langs Jesus gehang het net voor sy dood erken het dat die Gees deur hom wil werk, en Hy is vergewe en het die koninkryk van God binne gegaan.  Die verlore seun is nog ‘n voorbeeld hiervan.

As ons kyk na Heb 10: 26, dan is die persoon besig om die enigste offer wat daar vir sonde is, te verwerp.  So ‘n persoon verwerp die redding wat Jesus aanbied.  Die persoon wat die offer wat Jesus bring, minag en wegwys, kan nie gered word nie.  Dit beteken nie dat God se genade nie groot genoeg is nie.  Dit is omdat daar geen ander manier is om gered te word as iemand die genade verwerp nie. 

Skuldgevoel of bevryding
Ek sluit af: Daar is verskeie manier hoe ons hierdie gedeelte kan lees.  Ek weet daar is mense wat dit sal lees en wat sal wakker lê in die nag, wat sal bang wees, wat skuld gevoelens sal hê.  Maar ek wil vanoggend vir julle kom sê dat dit nie die doel van hierdie gedeelte is nie.  Dit is nie ‘n gedeelte wat ons wil bang maak of wat ons wil laat skuldig voel nie (dit is nie doel van hierdie verse nie, ook nie van enige vers in die Bybel nie).  Hy vers mag dalk ‘n waarskuwing wees, maar dis beslis nie ‘n beskuldiging nie.

Ons kan ook nooit hierdie gedeelte gebruik om vinger te wys na ander toe nie.  Ons kan bv. nie die Jode tot ewige verdoemenis veroordeel nie.  Hy gedeelte is nie daaroor om mense uit te sluit nie.  Hierdie gedeelte kom kanselleer nie God se groot liefde en genade en geduld nie.

Hierdie vers wil ons kom vry maak.  Dit mag vreemd klink.  Maar dit kom herinner ons tog dat daar net een manier is om gered te word, is dit is deur die die genade van Jesus.  Al wat ons hoef te doen is om hierdie genade te erken en te ervaar.  Ons doen dit deur vir Jesus te erken as ons verlosser, die een wat gesterf het aan die kruis.  En selfs as daar mense is wat nog die werking van die Heilige Gees wil erken nie, wat dit dalk nog aan Satan toeskryf, is dit nie verby vir hulle nie.  Jesus staan gereed om hulle ook in sy koninkryk te verwelkom.  

No comments:

Post a Comment