Sunday, September 30, 2012

Preek 30 September 2012


Spreuke 9: 1-6

Verbeel julle die volgende toneel. In die Bybelse tyd was daar gewoonlik ‘n plein in die middel van die stad. Dis waar die mense bymekaar gekom het vir byeenkomste, dorpsvergaderings en waar hulle handel gedryf het op die dorpsmark. Stel julle voor daar is ‘n klomp mense wat saamdrom op die stadsplein. Weerskante van die stadsplein staan 2 groepe mense en roep. Hulle roep na die mense in skare, veral die jonger mense wat nog onervare is en nog min kennis het.
Die een groep wat staan en roep verteenwoordig wysheid. Hulle nooi die jongmense na wysheid se huis, waar die tafels gedek staan met die heerlikste eet en drinkgoed. Die jongmense moet net kom.
Die ander groep wat staan en roep verteenwoordig dwaasheid. Hulle nooi ook die jongmense na ‘n feesmaal, maar dit is ‘n rowwe partytjie, waar daar allerhende snaakse goed gebeur.
Wysheid se feesmaal bring insig en lewe. Dwaasheid se feesmaal bring onkunde en die dood. Wysheid bring lewensvreugde. Dwaasheid bring lewensmoeilikheid.

Dis wat in hierdie teks gebeur. Dit gaan oor die stryd tussen wysheid en dwaasheid en die jongmense wat moet kies wie se uitnodiging hulle gaan aanvaar. Ongelukkig lyk dit vir my asof baie mense val vir dwaasheid se uitnodiging.

Kom ons kyk waaroor gaan Bybelse wysheid. Wysheid in die Ou Testament gaan nie oor intellektuele kennis nie. Die mense van die Ou Testament het geglo daar is ‘n sekere orde in die skepping. En wysheid het daaroor gegaan dat mens hierdie orde moet leer ken en dan jou lewe daarvolgens moet inrig. Wysheid is met ander woorde nie kopkennis nie, dis prakties. Dit gaan oor die vermoë om die regte dinge op die regte tyd te doen. Dit gaan daaroor om die regte dinge op die regte tyd te sê. Dit gaan oor wat jy dink, wat jy doen en hoe jy optree. En dit gaan oor jou mense wees, die tipe mens wie jy is. Ons kan dus sê dat wysheid is hart-en-hand kennis.  

Kom ek vertel gou vir julle ‘n storie wat hierdie tipe wysheid illustreer.
Dis ‘n storie uit die lewe van Henry Ford. Hy was mos die eerste ou wat karre vir gewone mense begin bou het. Hy het kragopwekkers vir sy motorfabriek nodig gehad. Hy vra toe ‘n elektrisiën om die kragopwekkers te bou. Sy naam was Charlie Steinmetz om dit te doen. Hy bou dit toe en alles werk goed. Eendag het hierdie kragopwekkers skeilik tot stilstand gekom met die gevolg dat produksie tot stilstand kom. Henry Ford se mense kon nêrens die fout opspoor nie en hy laat kom toe vir Charlie Steinmetz om die fout te kom regmaak. Hy kom toe en bekyk eers die kragopwekkers van naderby en hy begin toe kap aan die kragopwekkers. Nadat hy ‘n rukkie daaraan gekap het, sit hy die skakelaar aan en dit kragopwekkers begin weer werk. Hy stuur toe vir Henry Ford ‘n rekening van ‘n $1000. Ford was bietjie moeilik oor die hoë rekening en hy doen toe navraag daaroor. Steinmetz se antwoord was toe: Dis $10 vir die gekap en $990 om te weet waar om te kap.   

Dis hoe wysheid in die Bybel werk – dit help jou om te weet wat om te doen en wat om te sê op die regte tyd. Dis praktiese wysheid.

Die Bybel leer ons dat hierdie wysheid kry ons net by God.

Psalm 111: 10 leer ons: “Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen het ware insig”. 
Wysheid het niks te doen met ‘n hoë IK of ‘n klomp grade nie. Dit het alles te doen met jou verhouding met God. Dis waar dit begin.
William Wordsworth het gesê: Wysheid is nader as ons kniel as wanneer ons vlieg
Hoe meer jy groei in jou verhouding met God, hoe wyser word jy. Dis hoekom dit so belangrik is om tyd met God te spandeer.

Ek wil gou vir julle lees wat George Bernanos hieroor geskryf het: “dit het nodig geword dat ons weer ‘n ‘gesonde verstand’ kry. Wat nie beteken dat ons meer koelkop en nugter moet wees nie, maar dat ons verstand gesond gemaak moet word deur die Herskepper, deur die Gees van God. Ons verstand moet ‘gesond’ word in die sin dat ons nie meer beslissings sal maak op sterkte van mense se opinies en oordele nie, maar dat ons verstand ons sal aanspoor om ten diepste uit die hand van God te leef en voor God te dink en beplan.”

Wysheid begin by my verhouding met God. Dis om uit die hand van God te leef, voor God te leef en Hom in alles te ken.

Maar hoe lyk ‘n wyse lewe? Ek het sommer so ‘n klompie goed bymekaar gesit. Die teks praat van wysheid wie se huis 7 pilare het. In die Bybel is 7 God se getal, die heilige getal. Die wyse getal. So ek het gereken ek gaan 7 goed noem om ons te help verstaan hoe ‘n wyse lewe lyk.

1. Wyse mense sien hulleself soos God hulle sien. God wil hê dat ons onself moet sien as Sy geliefde kinders. Nie om ons hoogmoedig of belangrik te laat voel nie, maar om vir jou vrede en sekerheid te gee.

2. Wyse mense kyk anders na ander mense. Alle mense is God se geliefdes . dit beteken ons moet ander mense soos God se geliefdes . Ons moet hulle sien soos God hulle sien. En ons moet mense insluit en nie uitsluit nie.

3. Wyse mense is goeie rentmeesters. Ons leef in ‘n materialistiese wêreld, waar mense al hoe meer goed opgaar. Dis mense wat besef dat hulle nie al hulle goed eendag saam hemel toe kan vat nie. Soos iemand gesê het: ‘n doodskis kom nie met ‘n sleepwa nie. Dis mense wat weet dat alles van God af kom. Dis mense wat dankbaar is vir wat hulle het. Wat tevrede en vergenoegd is met wat hulle het. Dis mense wat met oop harte en hande leef.

4. Wyse mense maak tyd vir stilword. In hierdie besige samelewing van ons is dit nodig dat ons soms ook moet stilword. Jesus stel vir ons ‘n wonderlike voorbeeld, Hy het gereeld tyd gemaak om stil te word.
Patrick Brennan het gesê: “Our lives ought not to be all busyness. Our lives ought not to result in the “hurry” sickness that we see in our culture. Overly busy people become emotionally spiritually depleted.”
In ons huis praat ons van “me-time”. Dis tyd op jou eie. Ons mag dit vir onsself toe-eien en ons moet dit respekteer en vir mekaar gun.

5. Wyse mense loop die pad van vergifnis. Mense moet jouself en ander mense vergewe, omdat God ons vergewe het. Dit maak ook jou lewe ligter, want onvergewensgesindheid maak jou ‘n bitter mense. Dit maak dat jy ‘n swaar vrag bagasie met jou saamsleep. Dit steel jou lewe.

6. Wyse mense is oor niks spyt nie. Wyse mense weet dat die lewe tydelik is. Daarom moet jy die meeste maak van jou lewe. Jy moet die meeste maak van die geleenthede wat God oor jou pad bring. Mens moet die lewe vier en nie aan die einde van jou lewe spyt wees oor ‘n klomp goed nie.

7. Wyse mense is leerbare mense. Dis mense wat nie net vasgevang is in hulle eie idees en opinies nie. Dis mense wat oop is om nuwe dinge te leer en te ervaar. Dis mense wat na ander se opinies en idees kan luister. Dis veral mense wat oop is vir God se leiding en die paaie waarop Hy jou wil neem.

Terug by die toneel op die stadsplein waar wysheid en dwaasheid na ons roem. Kom ons maak die wyse keuse om op wysheid se uitnodiging te reageer. Dit gee vir ons ‘n voorsprong in die lewe. Sonder wysheid is dit soos om met ‘n donkerbril deur die lewe te gaan. Alles lyk dowwer en slegter en dis makliker om te kla.
Om met wysheid deur die lewe te gaan is om die wêreld in al sy wonderlike volheid en mooiheid  raak te sien en te beleef. Dis om gelukkig, tevrede en vergenoegd te wees. Kies wysheid en kies die lewe!    

No comments:

Post a Comment