Sunday, April 14, 2013

Preek 14 April 2013


Lesse van ‘n wynplaas

Ek gaan nie vanoggend ‘n vreeslike preek doen nie. Ek wil net vir julle vertel wat ek beleef en geleer het tydens my Sabbatsverlof. So, kom ons noem vanoggend eerder ‘n getuienis. Ek hoop dat dit dalk vir julle ook iets sal beteken.

Omdat al hoe meer predikante lei aan depressie en uitbranding en omdat hulle deesdae baie langer in gemeentes werk as vroeër, het die sinode verlede jaar besluit dat ons elke 3 jaar moet Sabbatsverlof neem of jy verloor die verlof. Sabbatsverlof is anders as vakansie – dis ‘n tyd van refleksie, herfokus, werk aan jou verhouding met God. Aan die ander kant het ek ook op ‘n punt gekom waar ek nodig gehad het om ‘n ordentlike breek van die bediening te neem en my kop skoon te kry.
Toe is die vraag natuurlik – wat doen ek met my langverlof, want ek kan nie net heeltyd by die huis sit nie. Ek het toe besluit die beste manier om my kop skoon te kry was om iets te gaan doen wat heeltemal buite my comfortzone is. Iets wat my heeltemal gaan wegvat uit my bekende omgewing en roetines. Daarom het ek vir ‘n maand in parstyd op ‘n wynplaas gaan werk. Daarom is vanoggend se tema “lesse van ‘n wynplaas”.

Ek wou nie na een van die groot kommersiele plase toe gaan nie. Ek wou na ‘n kleiner plaas toe gaan waar ek meer “hands-on” betrokke kon wees. Daarom het ek vir Albertus van Rensburg van Avondrood gebel. Dis ‘n kleiner familieplaas en kelder in die Breedekloof vallei buite Rawsonville. 

So wat het ek daar gedoen? Ek het basies as ‘n arbeider binne die kelder gewerk.
Ek het die temperatuur en suiker van die wyne dopgehou, chemikalieë gemeng en by die wyn gegooi, ek het kratte rondgedra, tenks gewas, pype geskuif en wyn gepomp, vloere gewas, ek was ‘n bode wat samples na die wynlaboratorium moes neem, Ek was dus betrokke by die hele parsproses. Ek was letterlik met my hande in die wyn en moes natuurlik proe ook. Dit was fisiese werk saam met die plaaswerkers en in die aande was ek fisies moeg.

In die kelder het ek saam met 2 plaaswerkser, Lucky en Alex, gewerk.  Hulle het vir my geleer hoe die dinge in die kelder werk.

Vir die maand het ek op die plaas gebly. Twee van die naweke het ek huistoe gekom en die een naweek het Jalize, die kinders en die hond vir my kom kuier. Albertus-hulle het net gesê, hulle sal vir my slaapplek en middagete gee. Ek het nie geweet waar ek gaan bly nie, maar toe ek daar kom, toe sê hulle dat hulle hierdie huis bo in die berg het wat hulle verhuur oor naweke en dis waar ek gaan bly. Ek het nie besef watter wonderlike plek dit was nie.

Hoop dit gee vir julle ‘n idee van waar ek was en wat ek gedoen het.
Die tyd was ‘n vir my ‘n geestelike ervaring. Ek het ordentlik gerus, ek het perspektief gekry oor ‘n klomp goed en ek het my kop skoongekry. Ek kan julle lank besig hou met dit wat ek beleef het, so ek wil vanoggend net 3 goed met julle deel.

Ek het alleen daar bo in die berghuis gebly. Net ek met die berge, die uitsig en die stilte. Die eerste aand toe ek daar bo in die Berghuis kom, toe bel Albertus my net om seker te maak dat alles reg is en dat ek alles het wat ek nodig het. Hy vra toe of ek tevrede is met die huis. Ek was meer as tevrede. Hy maak toe die opmerking – “daar bo in die berg, met die uitsig en die stilte voel dit asof God baie naby is”. En dis presies wat ek daar beleef het. Aan die een kant dat God baie groot is, maar terselfdertyd ook dat Hy baie naby is.

Ek het ‘n paar boeke ook in die tyd gelees. Een daarvan was ‘n lekker Western waaroor jy nie veel hoef te dink nie. Dis een van daai Westerns met die held wat almal uitsorteer en op die einde die meisie kry. Hy het verkies om op die vlaktes en tussen die berge te wees. Een dag toe kom hy in die stad met al die gewoel en hy dink by homself:
“I’m just a part of something much, much bigger than any single part of the whole. This is something lost to all but a few, who live in cities and towns. They get so busy with their personal problems that their sense of the Creator’s universe is lost to them.” 

Dis iets hiervan wat ek weer daar bo in die berg geleer het – ek is elke dag hier in die stad besig met al die gewone roetines en dinge. Ek is elke dag besig met die dinge van die Here en met God se mense en in die proses het ek begin vergeet het hoe groot God is, maar terselfdertyd ook hoe naby Hy aan my is.

In daai huis teen die berg het God my weer herinner aan Psalm 8: 4-6.
“As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U 'n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?
U het hom net 'n bietjie minder as 'n hemelse wese gemaak en hom met aansien en eer gekroon.”

Die tweede ding wat ek weer moes besef het gebeur daar waar ek in die kelder gewerk het saam met Lucky en Alex.
Hulle is nie geleerde mense nie. Hulle is gewone plaaswerkers, maar hulle weet alles van die wynmaakproses en wat daar in die kelder moet gebeur. Ek het ‘n meestersgraad in Teologie, maar in daai kelder het ek minder geweet as hulle twee. Hulle het baie geduldig vir my gewys wat daar aangaan. In daai kelder was ons mekaar se gelykes.

Die enigste verskil tussen my en Lucky en Alex was ek meer en beter geleenthede in die lewe gekry as hulle. Ek het weer besef dat ek ongelooflik dankbaar moet wees vir die geleenthede wat ek gekry het en vir die geleenthede wat ek vir my kinders kan gee. Ons neem die goed so vanselfsprekend en ons kla so maklik– ons moet weer besef hoe gelukkig ons is en ons moet dankbaar wees.

Daarmee saam het ek ook weer besef dat ons almal God se mense is. In God se oë is daar geen verskil tussen my met my meestersgraad en die ongeletterde plaaswerkers nie. Ons is almal God se mense en hy het dieselfde liefde en drome vir ons elkeen. Ons almal behoort aan hom en ons moet elke mens wat ons pad kruis hanteer soos iemand wat aan God behoort.
God het daar in die kelder saam met die plaaswerkers, my weer herinner aan dit wat Paulus in Galasiers 3: 28 skryf:
Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.”  

Laastens het ek weer onder die indruk gekom van die hoeveelheid welwillendheid, gasvryheid en vrygewigheid daar in hierdie wêreld is.
Ek en Albertus het geweet van mekaar, maar ons het mekaar nie eintlik geken nie. Ek dink ek en hy was ewe onseker oor wat om te verwag van my tyd op die plaas. Maar die eerste keer toe ek hom gebel het om te vra of ek op sy plaas kan kom werk, het hy sonder huiwering ja gesê. Hy en sy gesin het my met ope arms op die plaas verwelkom. Ek het saam met hulle geëet, ek het verniet in die Berghuis gebly. Hy het geduldig al my vrae beantwoord. Toe Jalize en Christiaan verjaar het, het Hy selfs vir my wyn present gegee vir hulle verjaarsdagete.
Aan die einde van my tyd op die plaas toe ek gaan dankie sê en vir hulle ietsie gee om dankie te sê, was hy baie verleë en het vir my dankie gesê omdat ek op die plaas was. So asof ek hom ‘n guns gedoen het.
Dieselfde met die plaaswerkers – hulle was geduldig met my, het al my vrae beantwoord, het my nooit laat voel soos ‘n buitestaander nie. Hulle het hulle lewens met my gedeel. Ek het by hulle geleer.

Ons hoor so baie van al die negatiewe goed wat mense doen. Ons raak afgestomp en sinies en ons is heeltyd skepties oor mense en hulle bedoelings. Ons vertrou mense nie meer nie. Hier in die stad jaag ons bymekaar verby en ons kruip in ons huise weg.
Ek moes weer besef, daar is soveel welwillenheid as ons vir mense ‘n kans gee en onsself oopstel daarvoor. Aan die ander kant het dit my ook weer geleer om te kan ontvang en oop te wees vir mense se welwillendheid, sonder om skuldig te voel daaroor of iets te wil teruggee.

God het my weer herinner aan:
Hebreërs 13:2: ““Moenie nalaat om gasvry te wees nie, want deur gasvry te wees, het sommige mense sonder dat hulle dit geweet het, engele as gaste gehuisves.”
Romeine 12: 13 - “Help die medegelowiges in hulle nood en lê julle toe op gasvryheid.”

As ek alles kan opsom.
Hierdie 2 maande wat ek weg was het vir my perspektief gegee oor goed in my lewe, my bediening en oor goed wat die afgelope jaar of wat gebeur het.
Die het vir my weer vrede en rustigheid gegee oor wie ek is en my verhouding met God.
Dit het weer vir my nuwe fokus en energie gegee vir die lewe en vir my bediening hier saam met julle.
Ek wil afsluit met ‘n aanhaling wat ek gekry het wat iets sê van dit wat ek beleef en geleer het.
God is ewig en oral, Hy is nie vasgevang in die grense van ons tyd nie. God het ‘n groter prentjie van dinge as ons, een wat ons nie verstaan nie, maar waarvan ons tog ‘n “besef” het. Dis soos iemand wat een stukkie van ‘n legkaart optel. Hy besef hierdie stukkie is deel van die groter legkaartprentjie. Hy weet nie hoe die groter prentjie lyk of waar sy stukkie in pas nie. Daarom verstaan hy heel moontlik ook nie mooi wat op sy stukkie aangaan nie, maar hy weet dit beteken iets. Hy weet, sodra ek die volle prentjie sien, sal ek verstaan wat op my stukkie aangaan. Die sin van my bestaan is die besef dat my hele lewe deel is van ‘n groter geheel – wat nie in my hande is nie, maar in God se hand.

No comments:

Post a Comment