Sunday, April 21, 2013

Preek 21 April 2013


Openbaring 7: 9-17

Ons gaan die volgende 3 Sondae stilstaan by tekste uit Openbaring. Spesifiek tekste wat  gaan oor die hemel. Om dit te verstaan – eers net so ‘n bietjie agtergrond oor Openbaring. Kom ek gebruik ‘n beeld om die ontstaan van Openbaring te verduidelik.

Op die kus van Skotland en Ierland is daar plekke wat “Thin Places” genoem word. Dit word nie so genoem omdat die lugdruk hoër is of omdat die lug dun is nie. Dit word “Thin places” genoem as gevolg van legendes wat sê dat op hierdie plekke is die afstand tussen hemel en die aarde besonder klein. Die sluier tussen die 2 wêrelde is so dun dat ons iets van die hemel self kan waarneem.  Vir die ou Keltiese mense was dit heilige plekke waar hulle plekke van aanbidding opgerig het. Vandag nog is daar sulke klipsirkels en stapels wat daarvan oorgebly het. Later het die Christene ook kerke, kloosters en begraafplase daar opgerig. Vandag nog besoek mense hierdie plekke omdat hulle dit as heilige grond beskou. By hierdie “thin places”, sê hulle val die grense van tyd en ruimte weg. Daar is geen gister, vandag of more nie – net ewigheid wat aanhou.

Openbaring is geskryf deur Johannes op die Eiland Patmos. Daar op Patmos moes hy in kontak gewees het met een van hierdie ‘thin places”, want hy het iets van die hemel gesien en beleef. Hy het Openbaring geskryf vir die Christelike kerk wat deur die Romeinse owerhede vervolg is. Hulle wou nie vir Keiser Nero en al die Romeinse gode aanbid en vir hulle offers bring nie. Daarvoor is hulle wreed vervolg.
Openbaring is met ander woorde geskryf om hulle te troos en hoop te gee te midde van hierdie slegte omstandighede. Dis bedoel om vir mense te sê, daar wag iets beters waarna hulle kan uitsien. Dis ook bedoel om mense aan te moedig om nou al, te midde van hulle slegte omstandighede iets van die hemel te begin uitleef en waar te maak.
Openbaring is nie toekomsvoorspelling nie en ons kan dit nie net so letterlik op ons tyd van toepassing maak nie. Dit gaan oor die boodskap wat daardeur aan ons oorgedra word.

So wanneer Johannes in Openbaring 7: 9-17 skryf oor die hemel, is dit asof hy ons innooi om saam met hom by hierdie “thin place” in te loer en so ietsie te sien van die hemel, soda tons dit vandag al kan begin uitleef. Hierdie teks gaan nie oor hoe dit fisies lyk in die hemel nie, maar oor wie daar gaan wees en di twat daar gebeur.       

Verduidelikings van konsepte in die teks.
Ouderlinge verteenwoordig die kerk
4 lewende wesens(windrigtings) verteenwoordig die hele skepping
Wit klere – skoon, sonder sonde
Groot verdrukking - lyding wat mense beleef.
Skoongewas deur Jesus se bloed – wys na kruisiging.

So, wat leer ons uit hierdie teks oor hoe dit in die hemel gaan wees?

Ek het nog altyd gedink ons gaan verbaas wees oor wie ons in die hemel gaan ontmoet en hierdie woorde van Johannes bevestig dit vir my. Hy begin hierdie gedeelte deur te verwys na die groot, ontelbare menigte mense uit elke nasie, stam, volk en taal wat voor die troon bymekaar gaan kom en vir God gaan loof.

Om dit te verstaan moet ons teruggaan na vorige tekste in die Bybel.
Eerstens bevestig dit die belofte wat God aan Abraham gemaak het: Gen 17: 3-6.
Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom: “Dit is my verbond met jou: jy sal die vader wees van 'n menigte nasies; jy sal nie meer Abram genoem word nie, jou naam sal Abraham wees, want Ek maak jou die vader van baie nasies. Ek sal jou baie vrugbaar maak, Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom.

Paulus bevestig ook hierdie belofte in Galasiers 3: 28-29.
Deur hierdie geloof in Christus Jesus is julle nou almal kinders van God, want julle almal wat deur die doop met Christus verenig is, het nou deel van Christus geword. Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.
En as julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.

Dit bevestig ook wat ons lees in die bekende Johannes 3:16-17.
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.

Dink ook aan Lukas 14 – Jesus vertel die storie van ‘n groot maaltyd. Die mense wat genooi word het almal een of ander verskoning hoekom hulle dit nie kan bywoon nie. Toe stuur die gasheer sy slaaf in die strate in om al die armes, kreupeles, blindes en verlamdes te gaan uitnooi na die ete toe.

In ander tekste soos Matteus 7 en Lukas 18 waarsku Jesus die godsdienstige mense, die fariseers en die skrifgeleerdes dat hulle nie by Jesus gaan wees nie, maar dat dit eerder die sondaars en die tollenaars gaan wees.

So as Johannes praat van die groot, ontelbare menigte wat in die hemel gaan wees – dan bedoel hy almal. Al die verskillende velkleure, tale en aksente. Al die mense met hulle verskille kosse, musiek, kulture, klere, gewoontes en tradisies. Ryk mense, die arm mense en die getremdes. Godsdienstige mense en sondaars. Dit gaan hierdie wonderlike diverse groep mense wees wat almal saam is in God se teenwoordigheid.

As jy dus ‘n rassis is. As jy iemand is wat neersien op ander mense. As jy iemand is wat graag ander mense oordeel en veroordeel. As jy mense uitsluit en verhoed dat hulle deel raak van God se kerk. Wel - dan gaan jy baie ongemaklik in die hemel wees. Ons gaan verbaas wees oor wie ons in die hemel gaan sien en ons moet nou al begin om anders na mense te kyk en teenoor hulle op te tree.

Ons gaan ook verbaas wees oor wat mense in die hemel doen. Die prentjie wat ons baie sien in romantiese kuns waarin die hemel uitgebeeld word, is een waar daar op harpe gespeel word en waar mense rondsweef op wit wolkies en die lekkerste kos eet– amper soos een lang vakansie.
By Johannes sien ons die teenoorgestelde – die hemel gaan ‘n baie bedrywige plek wees. ‘n Plek waar mense gaan sing en juig en vir God gaan aanbid.

Kom ek verduidelik dit met ‘n beeld:
Norman Rockwell was ‘n bekende Amerikaanse skilder wat baie realistiese skilderye geskilder het en mense daarmee uitgedaag en aan die dink gesit het. Een van sy skilderye is ‘n uitbeelding van die St. Thomas Church in New York. Die koster is besig om die tema van die priester se preek op ‘n bord by die voordeur op te sit. Die tema van die preek is: ‘Lift up Thine Eyes”. ‘n Klomp duiwe is terselfdertyd besig om opwaarts te vlieg. Op die sypaadjie voor die kerk is die mense besig om met hulle oë op die grond verby te stap.
Dis nie hoe dit in hemel is nie. In die hemel is die groot menigte, die heeltyd besig om op te kyk en God te loof.

Dit herinner ons ook dat ons nou-al hier op aarde, elke oomblik moet opkyk – weg van onsself en ons eie selfsugtige behoeftes af en vir God eer vir dit wat Hy vir ons gedoen het en steeds besig is om te doen. 

Laastens gaan ons ook verbaas wees oor die vlak van heling/genesing wat daar plaasvind. Johannes sê hier dat daar nie meer hongersnood en dors sal wees nie. Dis met ander woorde nie net persoonlike heling wat gaan gebeur nie, maar heling vir die wêreld.

Ek het na statistieke gaan kyk:
925 miljoen mense in die wêreld het nie genoeg om te eet nie. Meer mense sterf elke jaar van hongersnood as van VIGS, malaria en tuberkuloses gesamentlik.
783 miljoen mense (11% van wêreldbevoling) het nie toegang tot skoon water nie.

Hierdie statistieke is ‘n taamlike aanklag teen die van ons wat genoeg het. Die heling wat in die hemel gebeur gaan nie net oor die heling van ons liggame en gees nie, dit gaan ook oor die heling van alles wat in die wêreld verkeerd gaan. Ons word geroep om nou al iets hieraan te begin doen.

Om op te som:
Johannes lig die sluier so ‘n bietjie en gee vir ons net vinnige kykie na hoe dit in die hemel gaan wees. En Hy doen dit omdat Hy wil hê dat ons nou-al iets van die hemel in ons wêreld moet begin waar maak.
As Christene is ons mense wat die hemel ernstig neem en daarom moet ons dit wat Johannes skryf ook ernstig neem.
Ons moet alle mense insluit en deelmaak van God se kerk en ontslae raak van ons vooroordele oor mense.
Ons moet wegkyk van onsself af en opkyk na God toe en Hom eer.
Ons moet daadwerklik iets doen aan die nood in hierdie wêreld.

Gebed
Here God, Aan U behoort die lof en die heerlikheid,
die wysheid, die dank en die eer, die mag en die sterkte – tot in alle ewigheid.
Voor U kom ek staan en bely ek graag saam met al my medegelowiges:
“Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!”
U is bý ons en blý by ons.
U maak ons deel van U geloofsgemeenskap en roep ons om ander ook deel te maak.
U les ons honger en dors en roep ons om dieselfde vir ander te doen.
U beskerm ons en gee vir ons wat vir die lewe nodig is.
U sal al die trane van ons oë afdroog en roep ons om dit ook vir ander te gaan doen.
Dankie dat U ons in die regte verhouding met U bring en ons laat léwe.
Dankie vir verlossing.
Dankie vir u leiding.
U wil ek dag en nag dien.  Amen.

No comments:

Post a Comment