Sunday, April 28, 2013

Preek 28 April 2013


Openbaring 21: 1-7

Van julle sal seker hierdie prent, van die Breede en Smalle weg, onthou. Ek vermoed dit het in baie van ons se oumas se huise gehang. Die Breede weg met al sy versoekings lei na die hel en die Smalle weg lei na die hemel. Aan die een kant het die prent my nog altyd bietjie bang gemaak, want sê nou ek is nie op die smalle weg nie? Aan die ander kant het dit my ook laat skuldig voel oor goed wat ek gedoen het. ‘n Vriend van my het eenkeer gesê, die grootste probleem wat hy met die prent het, is dat al die lekkerste goed op die Breede weg is, die Smalle weg lyk so vervelig. Die prent is natuurlik ook nie baie gereformeerd nie, want dit skep die idee dat jy op ‘n sekere manier moet leef om in die hemel te kom, terwyl ons mos weet dat dit nie jou lewenswyse is wat jou in die hemel bring nie, maar genade. Lewenswyse is iets wat jy doen uit dankbaarheid vir genade.

Mens kan baie oor die prent sê, maar die rede hoekom ek dit vir julle wys, is omdat dit ‘n storie vertel. Dit vertel ‘n storie van beweging. Beweging van een plek na ‘n ander plek. Van die aarde na die hemel of hel. Van dood na ewige lewe. Die mense in die prent kies om op ‘n sekere manier te leef , wat hulle uiteindelik by ‘n sekere bestemming, hemel of hel gaan uitbring.

Die idee wat die prent skep is dat die hemel iewers anders is. Ons is nou hier, die hemel is iewers anders. Dis ‘n plek waarheen jy gaan. Ons weet nie waar dit is nie. Ons weet ook nie eintlik hoe dit gaan wees nie. Maar die idee wat ons wel daaroor het, is dat dit iewers anders is.  

Ek weet nie lekker waar hierdie idee vandaan kom nie, want dis nie hoe die Bybel dit beskryf nie. Ons teksgedeelte praat van die eerste hemel en aarde wat gaan verdwyn en ‘n nuwe hemel en aarde wat gaan kom.
So, die hemel en die aarde word aanmekaar gekoppel. Dis verbind. Dis wat ons in die Bybel ook leer. Wanneer ons praat van die aarde en die hemel is dit belangrik om die sienings van die mense in die Bybelse tyd in ag te neem. Hulle het nie die hemel gesien as ‘n plek wat iewers anders is nie. Hulle sien uit na ‘n dag wanneer die wêreld/die aarde nuut gemaak en verlos gaan word, wanneer dit sal wees soos die hemel.
Johannes se visie van die nuwe hemel en aarde is ‘n vars begin vir albei, want op die oomblik is dit nie soos dit moet wees nie.

In die Ons Vader gebed hoor ons: “Laat U wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel”. Op die oomblik is God se wil nog nie die enigste wil wat op aarde geskied nie, My wil, ons wil geskied ook nog. Dis hoekom die mense vir wie Openbaring oorspronklik geskryf is, swaargekry het. Dis hoekom daar vandag nog slegte dinge in die wêreld is. Dis onder andere omdat mense hulle wil laat geld ten koste van ander mense. Daarom is hierdie visie van die nuwe aarde en hemel nodig. Sodat God se wil op aarde sal geskied soos in die hemel waar dit is soos dit moet wees.

In die oorspronklike Grieks beteken dit dat die wêreld nuut gemaak gaan word, maar dis nie ‘n ander wêreld wat gaan gebeur nie. Dis dieselfde wêreld wat ons ken, dis net nuut gemaak. Dis soos ‘n verwaarloosde, bouvallige huis wat gerestoureer word. Dis nog dieselfde huis en fondamente, maar dis heeltemal oorgedoen. Dis dieselfde ou aarde wat nuutgemaak word sodat dit is soos wat God dit oorspronklik bedoel het om te wees. 

Dis belangrik om te verstaan dat die aarde en hemel aan mekaar verbind is, want dit beïnvloed die manier hoe ek nou hier op aarde my lewe leef. Hoe ek my tyd en energie gaan gebruik en uitleef.
As ons hierdie nuwe hemel losmaak van die aarde en dit sien as ‘n plek daar iewers anders waar ek later heen gaan, dan kan die hemel baie maklik net ‘n “pie in the sky when you die” word. Met ander woorde, ek hoef nie nou enige verantwoordelikheid te neem vir hierdie wêreld nie, want eendag sal dit tog beter gemaak word. 
Soos Eugene Peterson skryf: “Heaven is not simply a dream to retreat to when things get messy and inhospitable on earth. We have access to heaven now.

Ons het nou-al toegang tot die hemel. Ons moet nou-al iets daarvan laat waar word.
Ons teks gee vir ons ‘n prentjie van hoe dit gaan wees in die hemel – daar sal nie meer trane wees nie. Dat daar nie meer pyn, lyding, swaarkry en dood wees nie. Daar sal ook nie meer honger en dors wees nie. Op die aarde gebeur al hierdie goed nog, maar in die hemel gaan dit nie meer gebeur nie. Ons kan daarna uitsien, maar ook iets daarvan nou-al begin waar maak.

Die bekende liedjieskrywer, sanger en kitaarspeler, Eric Clapton het ‘n lied geskryf, “Tears in heaven”. In 1993 was dit die liedjie van die jaar. Dis ‘n aangrypende, maar hartseer liedjie wat hy geskryf het nadat sy 4-jarige seuntjie dood is. Hy het in New York by hulle woonstel se balkon afgeval. 
Hy begin sing: "Would you know my name, if I saw you in heaven? Would it be the same, if I saw you in heaven?"
Hy sing dan hoe hy nie hoort in die hemel nie en dat hy sy hartseer nou self moet dra. Hy sing dat hy moet "find his own way through night and day."
Maar deur sy hartseer en trane sien kry hy dan hoop, want hy sien die hemel as ‘n plek waar daar nie meer hartseer en trane gaan wees nie. Daarom sluit hy die lied af met die woorde: “"There will be no more tears in heaven”.

Dis waarna ons kan uitsien – ‘n tyd sonder trane, maar nou lyk die wêreld nog nie so nie. Daarom moet ons die hemel hier laat deurbreek.
Theresa van Avila  sê: “Die betaling begin alreeds in hierdie lewe!” Ons moet nou daaruit lewe en ons moet nou al dit ’n stukkie hemel op aarde maak vir almal wat met ons te doen kry.”

As ons die hemel begin ernstig neem en dit nie net sien as ‘n plek iewers anders waar dit eendag gaan beter gaan nie, maar as ‘n plek wat deurbreek in ons wêreld in, dan gaan ons begin besef…
Ons moet begin om die trane van mense te begin afdroog.
Ons moet die seer en die hartseer van mense begin ernstig neem.
Ons moet mense se honger en dors begin aanspreek.
Ons moet vrede en geregtigheid en gasvryheid begin uitleef.
Ons moet meer positief wees en vir mense hoop gee in hierdie deurmekaar wêreld.
Ons moet met integriteit en eerlikheid begin leef.

Ons kan dit net doen as ons anders oor die hemel begin dink. As ons die hemel sien as ‘n plek daar iewers anders, waar alles eendag sal beter gaan – dan gaan ons waarskynlik ook niks nou begin doen nie.
Maar as ons besef dat die aarde en die hemel aanmekaar verbind is, dan kan ons nie anders as om nou-al iets van die hemel hier te begin waarmaak nie. Dan help ons om God se wil hier op aarde te laat geskied.
 
Paar oomblikke van stilte: dink oor jou lewe, die mense met wie jy elke dag te doen kry. Wat kan jy doen om iets van die hemel op aarde te laat deurbreek?

Gebed
Here ons God,
U wil geskied en u voornemens realiseer.
U teenwoordigheid verander ‘n woestynland in ‘n lushof.
U bring ons waar U ons wil hê.
Dankie dat ons in ons lewens kan sien hoe U besig is.
Dankie dat ons op ons verledes mag terugkyk, vandag mag lééf en oor ons moontlike môre’s mag droom.
Dankie dat u betrokkenheid by mense oor alle tye en alle grense heen strek.
Ek wíl my hierwees en alles wat ek het as u roeping en gawes beskou.
Ek wíl dit wat ek het en my opbrengste met húlle rondom my deel.
Ek sál U in gedagte hou in my besluite en my woorde, doen en late. Amen.


No comments:

Post a Comment