Sunday, December 7, 2014

26 Oktober 2014 - Die politiek van die liefde

Matteus 22: 34-40
Die politiek van die liefde
Vanoggend se teks is die derde in ‘n reeks waar die godsdienstige leiers vir Jesus challenge en probeer uitvang.
Die vraag oor die belasting (Matt 22: 15-22) waar die Fariseërs en die Herodiane vir Jesus probeer uitvang oor die betaal van belasting. Hy antwoord dat jy belasting moet betaal en vir God moet gee.
Die Sadduseërs wat vir Jesus challenge oor die opstanding van die dooies. (Matt 22: 23-33).
Nou is dit weer die Fariseërs wat vir Jesus challenge oor sy siening van die wet.
Jesus laat hom nie uitvang nie – elke keer antwoord Hy vinnig en duidelik. En na elke antwoord sluip die godsdienstige leiers maar druipstert daar weg.

Kom ons lees dan nou oor hierdie derde challenge.

Daar is die mooi storie van Rabbi Hillel. Hy het voor Jesus geleef, trouens hy is dood 6 jaar voordat Jesus gebore is. Die Jode het hulle daarop geroem dat hulle die Torah (eerste 5 boeke van die Bybel) baie goed ken. Hulle het dit uit hulle koppe geleer. Blykbaar het iemand eenkeer vir Rabbi Hillel gechallenge om die hele Torah op te sê terwyl hy op een been staan. Rabbi Hillel gaan staan toe op een been en sê: “Dit wat jy haat, moet jy nie aan jou medemens doen nie. Dit is die hele Torah: die res is net ‘n verduideliking daarvan. Gaan en leer dit”.
Rabbi Hillel gee die “golden rule” van die Torah. Dis wat Jesus ook doen. Hy quote die Torah. Hy gee ‘n opsomming van die 10 gebooie – hy gee die golden rule..

Met hierdie oproep sê Jesus dat alles oor die liefde gaan. Liefde vir God, myself, my naaste. Liefde is die bril waardeur ‘n mens na alles moet kyk. Dis hoekom Jesus sê: dat die hele wet en profete in die liefdesgebod saamgevat word.

Dis die bril waarmee ons die Bybel moet lees. Liefde is die sentrale boodskap van die Bybel. Selfs die moeilikste tekste in die Bybel moet gelees word deur die bril van die liefde. Daai ongemaklike tekste wat ons nie graag lees nie – as jy dit deur die bril van liefde lees, kry dit sommer nuwe betekenis. Liefde is die sentrale boodskap van die Bybel.

Liefde is ook die toets vir goed wat mense sê en doen. In ons lewe saam met ander mense - as jy nie iets uit liefde kan sê en doen nie, moet jy dit liewer nie sê en doen nie. Ek dink daar sal baie minder konflik, hartseer, oorloë, rassisme en dies meer wees as mense meer in liefde optree.
Geen wonder nie Jesus het gesê: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”  Dis waar alles begin en eindig.

In Jesus se antwoord sien ons 3 vorme van liefde: Liefde vir God, liefde vir jouself en liefde vir jou naaste. Hierdie goed kan nie uitmekaar gehaal word nie. Die een kan nie sonder die ander nie. Jesus sê immers dit is gelykstaande aan mekaar. Miskien sal hierdie prentjie help om dit meer konkreet te maak.


 Alles begin by liefde vir God. Om God lief te hê met jou hele hart, siel en verstand beteken jy moet Hom liefhê met elke aspek van jou menswees. Dis ‘n erkenning dat Hy die Skepper en Verlosser is en dat ek my lewe gaan inrig volgens sy wil. Dis om heeltyd bewus te wees van sy teenwoordigheid – oral waar ek kom en in alles wat ek doen.
Iemand het eendag vir ‘n wyse ou man gevra: “Is dit maklik om God lief te hê?” Hy antwoord: “Dit is maklik vir hulle wat dit doen.”
Wys jou liefde aan God deur Hom te eer Hom te gehoorsaam. En wanneer ons dit doen vloei hierdie liefde ook na al jou ander verhoudings en dit maak jou lewe betekenisvol.

Jesus sê ook dat ons vir onsself moet lief wees.  Daar is ‘n gediggie wat sê:
3 men went down the road.
Down the road he went.
And there were three men.
The man they saw,
the man he was,
the man he wanted to be.”

Dis mos hoe dit is – daar is die mens soos ander jou sien, die mens soos ek myself sien en die mens wie ek graag wil wees.

Maar daar is ook ‘n vierde manier wat alles bepaal en dis hoe God my sien. God het ons na sy beeld gemaak. Dit beteken ons is soos God – goed, heilig, vol liefde. Dis ons wat vir onsself sê ons is nikswerd en sondig. Dis nie wat God sê nie.
Paulus het geskryf in 1 Korintiers 15: 10: “Deur die genade van God, is ek wat ek is
Wanneer ek besef hoe lief God my het, kan ek ook leer om vir myself lief te wees. En dan kan ek ook God se liefde gaan uitleef.
Eric Hoffer het gesê: “The capacity for getting along with our neighbour depends to a large extent on the capacity for getting along with ourselves. The self-respecting individual will try to be as tolerant of his neighbour's shortcomings as he is of his own.”

En dit bring ons dan by die liefde vir ons naaste. Liefde vir my naaste beteken ek moet altyd die beste en die goeie soek vir my naaste. Dis om ander mense te hanteer as die beeld van God. En dis ‘n liefde wat nie bepaal word deur wat ek van ander dink of hoe ek oor hulle oordeel nie. Dit maak nie saak wie my naaste is nie, ek moet liefde aan hulle bewys.

Twee verse in 1 Johannes verduidelik vir ons hierdie naasteliefde:
Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees?  Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” ( 1 Joh 3:17,18)

As iemand sê: “Ek het God lief,” en hy haat sy broer, is hy ’n leuenaar; want wie sy broer, wat hy kan sien, nie liefhet nie, kan onmoontlik vir God liefhê, wat hy nie kan sien nie.” (1 Joh 4: 20)

So Jesus beklemtoon liefde vir God, liefde vir myself en liefde vir my naaste. Dis die bril waardeur ons na alles moet kyk.

‘n Laaste vraag om by stil te staan: Hoe lyk hierdie liefde? Wat doen hierdie liefde?
Uit Jesus se optrede teenoor die ouens wat Hom probeer vasvrae en op ander plekke waar Hy mense vasgevat het, soos om die handelaars uit die tempel te jaag, sien ons dat liefde is nie altyd gelyk aan “nice” nie.

Liefde is nie altyd so nice soos wat dit voorgestel word by Valentinesdag en kersfeestyd nie.
Te maklik gebeur dit dat liefde gebruik word as ‘n verskoning om konflik of moeilike issues te vermy.

Maar dis nie tipe liefde wat ons by Jesus sien nie.  Dieselfde liefde wat gemaak het dat Jesus geëet het saam met die tollenaars en die sondaars en wat hom laat uitreik het na die melaatses en die magteloses het ook gemaak dat hy duiwels uitgedryf en mense gekonfronteer het. Dis ‘n liefde wat kan opstaan vir dit wat reg en regverdig is en onreg wil herstel.

As ons liefde, soos wat Jesus dit gedoen het, net as nice verstaan, dan maak ons liefde minder. Dis liefde wat Hom in allerhande moeilike en ongemaklike situasies laat beland het. Dis liefde wat Hom aan ‘n kruis laat sterf het. Liefde is nie net nice nie, dis ook bereid en gewillig om die moeilike goed in die oë te kyk.

So, Jesus sê: wees lief vir God, wees lief vir jouself en wees lief vir jou naaste. Kyk na alles en almal deur die bril van liefde. En moenie liefde reduseer deur dit soetsappig te maak nie. Liefde is ook soms moeilik. As ons liefde so verstaan en uitleef sal dit ons lewe betekenisvol maak.


No comments:

Post a Comment