Sunday, December 7, 2014

2 November 2014 - O, Lord, it's hard to be humble

Matteus 23: 1-12
O, Lord, it’s hard to be humble
Ek het die volgende bloginskrywing onlangs raakgeloop. Die titel is What Would Jesus do? You really want to know?
Dit vertel van ‘n ma wat vir haar seun ‘n WWJD (What would Jesus do) armbandjie gegee het. Sys ê vir haar seun da thy altyd eers na die armbandjie moet kyk voordat hy besluite nee moor hoe om ‘n Christelike lewe te lei.
‘n Week later was sy geskok om te sien dat haar begin uithang het met prostitute, straatmense en ander sondaars. Hy het selfs vir mense in ‘n kroeg  nog drankies gekoop. Een middag het sy gesien hoe hy besig is om ‘n boemelaar se voete te was. Die ergste vir haar was toe sy na ‘n aborsiekliniek toe gegaan het om teen aborsie te betoog. Toe sy daar kom toe sien sy haar seun daar, maar hy staan by die vroue wat ‘n aborsie ondergaan het en skree vir die betogers – “julle wat sonder sonde is, gooi die eerste klip”.
Die ma was baie ongelukkig hieroor, maar sy dink toe aan ‘n plan. Sy gee toe vir hom ‘n ander  armbandjie wat lees WWAPD. Dit staan vir What would a Pharisee do.
Sedertdien is haar seun ‘n ander mens. Hy gee sy tiende baie streng. Hy staan op die straathoeke en bid waar almal hom kan sien. Hy veroordeel sondaars aktief. Hy verdedig die Ou Testamentiese wette. Hy meng nie met enige sondaars nie. Trouens, hy word nou gesien as ‘n baie heilige jong man tussen ander gelowiges.
Die ma is nou baie gelukkig met haar seun. Nou wens sy net dat Jesus ook haar seun se goeie voorbeeld sal volg.

Ek het onmiddelik aan hierdie bloginskrywing gedink toe ek vanoggend se teks gelees het.
Lees die teks

Ek het prentjies saamgebring van die gebedsbande en tossels waarvan ons in die teks lees.
Die gebedsbande is leer bande met klein houertjies aan waarin tekste uit die Torah geplaas word. Dit word deur Joodse mans gedra as ‘n herinnering aan God en gehoorsaamheid aan die wet.
Die tossels is op die vier hoeke van die Joodse gebedsmantel en herinner die Jode aan hulle godsdienstige pligte. 
Hierdie gebedsbande is deel van voorskrifte wat ons in Deuteronomium en Numeri kry. Dis deel van die Torah en is ‘n teken dat jy die wet saam met jou en naby jou dra.

Dis opvallend dat Jesus nêrens sê dat hulle dit nie moet dra nie. Nêrens sê Hy dat dit verkeerd is om die goed te dra nie. As ‘n Jood is daar waarskynlik ‘n kans dat Jesus dit self gedra het. So Jesus is nie teen hierdie tradisies nie, Hy respekteer die tradisies – Hy kyk wel op ‘n nuwe manier daarna. Dit gaan nie vir Hom oor die feit dat hulle hierdie goed doen nie, maar wel oor hoe hulle dit doen.

Vir Jesus gaan dit oor die hart of die motivering van die wet – nie oor die letter van die wet nie. Dit help nie jy hou by die letter van die wet – jy volg al die reels en regulasies - maar jou hart het nie verander nie. Dan is jy net bloot wetties.

Verlede Sondag het ons gesien dat Jesus die hele wet opgesom het. Hy gee die “golden rule” van die wet. Hy sê die hele wet kan opgesom word deur - “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede wat hiermee gelykstaan is: jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
So, die wet gaan oor die uitleef van liefde teenoor God, myself en my naaste. Die doel van die wet is om goeie verhoudings met God en my naaste te bou.

So nou sê Jesus vir die mense – luister na die wet, volg die wet, volg die tradisies – moet dit net nie doen soos wat die Fariseërs dit doen nie. Want die manier hoe hulle dit doen, bou nie verhoudings met God en met my naaste nie. Hulle volg die letter van die wet, maar nie die gees van die wet nie.

Om hierdie punt te maak - ontmasker Jesus die Fariseërs deur ‘n klomp goed wat hulle doen uit te lig. En al hierdie goed wat hulle doen kan ons terugvat na ander plekke waar Jesus ook daaroor praat. Wel vanuit ‘n ander hoek. Kom ek noem dit gou:

Hulle bind swaar en ondraaglike laste saam en sit dit op die mense se skouers”. Dit verwys na die wet en die nakoming daarvan wat so swaar op mense rus. Dis swaar en moeilik om al daai wette na te kom. Teenoor dit sê Jesus in Matteus 11: 28-30: “Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is. My juk is sag en my las is lig”. Om Jesus te volg maak die lewe ligter, nie swaarder nie.

“Alles wat hulle doen, doen hulle om raakgesien te word”. Teenoor dit sê Jesus in Matteus 6: 1-13: Moenie julle godsdienstige pligte, soos om armes te help en om te bid in die openbaar doen sodat almal dit kan sien nie, want dan is jy skynheilig.

Hulle soek ereplekke by die feesmaaltye en die voorste plekke in die sinagoges”. Teenoor dit sê Jesus in Lukas 14: 7-11 jy moenie die voorste plekke soek nie – staan dit liewer aan iemand anders af, want elkeen wat hoogmoedig is sal verneder word en elkeen wat nederig is, sal verhoog word.

Hulle hou daarvan om as “Rabbi” en “vader” aangespreek te word.  Teenoor dit sê Jesus dat ‘n titel jou nie belangriker maak as ander mense nie. Voor God is ons almal broers en susters. Mekaar se gelykes. Net God en Jesus kan as Rabbi en Vader aangespreek word.

So Jesus ontmasker die Fariseërs as mense wat die wette nakom en die regte klere dra, maar hulle doen dit maar net om raakgesien te word, hulle harte is nie daarin nie. En op so ‘n manier skrik hulle mense af in plaas daarvan dat hulle mense nader trek na God toe.

Jesus gaan dan verder en sê – wat julle eerder moet doen is om mense te dien. Op die oomblik is julle besig om julleself te dien, terwyl dit eerder moet gaan daaroor om ander te dien.
Die enigste manier hoe mense regtig Jesus se liefde gaan leer ken, is wanneer ons hulle dien. As ons nie dit verstaan nie, dan verstaan ons nog nie vir Jesus nie. Soos toe Jesus sy dissipels se voete gewas het – dit was die werk van ‘n slaaf. Hy doen dit omdat Hy wou wys – hy is nie belangriker as enigiemand anders nie. Hy is bereid om die minste te wees. Hy het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien. Dis wie Jesus is.

Iemand het gesê die lewe is soos ‘n resies wat jy hardloop. Aan die einde van hierdie lewensresies gaan God nie vir my sê: mooi my kind, jy het die wenstreep gehaal voor enige iemand anders nie. Nee – Hy gaan vir my vra: wie het jy gehelp om die wenstreep saam met jou oor te steek. Dis dien.

Albert Einstein het gesê: “Probeer om nie ’n persoon van sukses te word nie, maar eerder ’n persoon van waarde”. 
Jy word ’n persoon van waarde deur ander te dien.

Dit beteken jy sê nee vir magspeletjies van die moderne samelewing. Waar dit net gaan oor wat ek kan kry. Vir Jesusvolgelinge gaan dit oor wat ek kan gee

Dien beteken omgee vir alle ander mense - van vriende, familie tot vyande en vreemdelinge.

Dien beteken dat ek nie net ingestel kan wees op myself en my eie welstand nie - soos die Fariseërs nie. Om ander te dien, moet ons bereid wees om soms die minste te wees en ander mense eerste te stel.

Dis ook iets wat die kerk moet besef – kerkwees gaan nie oor vergaderings en geboue en wonderlike eredienste nie. Kerkwees gaan oor hoe ons vir God, mekaar en ander mense dien.


Jesus sê die geheim van ‘n gesonde, sinvolle en gelukkige lewe lê nie in watter klere jy dra, wat jou titel is en of jy al die godsdienstige reels en tradisies perfek nakom nie. Die geheim van ‘n sinvolle en gelukkige lewe lê in dien. Dis die hart van die wet.

No comments:

Post a Comment