Sunday, December 7, 2014

23 November 2014 - Have you ever seen the reign

Matteus 25: 31-46
Have you ever seen the reign?

Vandag is Jesus die koning Sondag. Dit beteken ons vier vandag dat Jesus die koning van die wêreld is.
In Matteus 28: 18 lees ons waar Jesus sê: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde.”
Dit wys vir ons – Jesus is die Here. Hy is die koning, die heerser van die koninkryk – van die hemel en die aarde.
Maar ons moet altyd onthou – Jesus is ‘n anderste tipe koning. Hy is anders as wat die Jode van die Bybel verwag het. En hy is anders as wat ons ook verwag hy moet wees.
In Filippense 2: 7-8 lees ons: “Hy het homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.”
So hy het sy hemelse bestaan prysgegee om ‘n mens, koning, hier op aarde te word.
Van die begin af was dit duidelik dat Hy ‘n anderste, vreemde koning is. n Vreemde koning wat nie in ‘n paleis gebore is nie, maar in ‘n stal. ‘n Koning wat op ‘n donkie ry, sy dissipels se voete was, tyd spandeer met sondaars, tollenaars, prostitute, armes en vat aan melaatses en  uiteindelik soos ‘n misdadiger aan ‘n kruis sterf. ‘n Koning wat oor Homself sê: “ek het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien” (Markus 10: 45).
Jesus het nie net gekom om aan ‘n kruis te sterf vir ons sondes, sodat ons gered kan word en hemel toe gaan nie. As dit al is wat ons oor Jesus glo, dan mis ons die punt. Dan maak ons Hom soveel minder as wat Hy is. Jesus is die koning wat gekom het om mense te dien. Hy is die dienende koning.

Vanoggend se teks bevestig vir ons watter tipe koning Jesus is, maar ook wat dit vir ons beteken om as sy mense, sy koningskinders te lewe.

Lees teks

Jana Reiss het oor hierdie teks geskryf: “Calling all sheep! All sheep, head this way to heaven! Thanks for feeding and clothing the poor. PS Sorry, goats, you’re on your own.”

Dis maklik om hierdie teks te lees en bang te raak: gaan ek nou een van die skape wees of een van die bokke? Gaan ek saam met die skape hemel toe? Is ek gered?
Ek sou julle ook lekker kon laat skuldig voel met hierdie teks – as jy nie doen wat die skape doen nie, gaan jy nie hemel toe gaan nie.
Die ander kant is natuurlik ook waar. Die teks sou ons ook kon laat goed voel. Mens kan maklik hierdie teks lees en jouself op die skouer klop, want ons gemeente gee kospakkies en klere kos op ‘n Maandagaand. En ons het die Echo huis. Dankie tog ons is aan die skape se kant.
Die teks wil nie een van hierdie goed doen nie. In hierdie teks gaan dit nie oor wat ek moet doen om ‘n skaap te wees nie. Dit gaan nie oor wat ek moet doen om in die hemel te kom nie.
In hierdie teks gaan dit oor hoe ek my lewe hier en nou op hierdie aarde leef. Oor hoe ek my geloof nou uitleef teenoor my naaste. Oor hoe ek iets van God se koninkryk hier op aarde waar maak. Want elke keer wanneer ek iets vir ander mense doen, laat ek God se koninkryk deurbreek.
Alhoewel die teks dit ook noem, moet ons nie vashak by wat gaan gebeur aan die einde van die wêreld, die laaste oordeel en die hemel nie – die teks wil ons eerder help met hoe ek die res van hierdie week moet leef. Wat is ek veronderstel om nou te doen? Wat wil Jesus hê moet ek doen? Hoe wil Jesus hê moet ek wees? Hoe gaan my lewe verander as ek werklik besef dat Jesus die koning is?

Jesus help ons hiermee. As ons dink oor Jesus se lewe en bediening – hy het hierdie goed in die teks aan sy lyf gevoel. Hy was honger en dors en sonder klere. Hy was ‘n vreemdeling in baie van die plekke waar hy gekom het. Aan die einde van sy lewe was Hy sonder klere en ‘n gevangene. En hy het beleef hoe mense na hom uitgereik het, wanneer hy die goed beleef het.
Aan die ander kant was Hy ook die een wat baie mense wat honger, dors, sonder klere en siek was gehelp het.
Daarmee wys Jesus vir ons dat dit in die koninkryk van God nie gaan oor mag, rykdom en roem nie, maar oor liefde, diens en opoffering. Dit gaan nie oor wie ons is en wat ons bereik het in die lewe nie – dit gaan oor wat ek doen. Dit gaan oor hoe ek ander mense behandel. Dit gaan oor hoe ek liefde uitleef.

Die ou kerkvader, Augustinus, het gesê: Die belangrikste ding vir ‘n gelowige is “wees lief vir God en doen dan wat jy wil”.
Vir sommige mense s al dit ‘n verskoning wees om te kan doen en optree soos hulle wil. So asof Augustinus sê: glo in God en dan kan jy optree soos ‘n bok. 
Maar dit is nie wat Augustinus bedoel het nie. Hy bedoel dat as jy werklik in God glo – as Jesus regtig die koning van jou lewe is. As God se waardes ook jou waardes is. Dan sal jy doen soos God doen. Dan sal jy liefhê soos God lief het. Jy sal vergewe soos God vergewe. Jy sal die dinge doen waarvan Jesus in vanoggend se teks praat.

Martin Luther King, die bekende Amerikaanse burgerregte leier het in sy “I have dream” toespraak die volgende gesê: “If Christ is King, what does that mean? If Christ is ruler over our lives, then my Nobel Peace Prize is less important than my trying to feed the hungry. If Christ is King, then my invitations to the White House are less important than that I visited those in prison. If Christ is Lord, then my being TIME magazine's "Man of the Year" is less important than that I tried to love extravagantly, dangerously, with all my being.”

En ek weet dis nie altyd maklik nie. Ek stap ook baie keer by honger mense verby. Ek ignoreer ook baie keer mense wat swaarkry. Ek maak ook nie altyd die deur oop as ek sien dis ‘n bergie wat die klokkie lui nie. Hierdie teks wil ons juis herinner daaraan dat ons moet probeer. Dit wil ons nie laat skuldig voel nie, dit wil ons aanmoedig om te probeer. Want dis wat Jesus vir ons vra.

Ek wil ‘n DVD-clip wys. Dit help ons om te weet hoe om hierdie teks nou al uit te leef. Dit kom uit die fliek “Evan almighty”. In die fliek kom God, wat deur Morgan Freeman gespeel word, na Evan toe en gee hom die opdrag om ‘n ark te bou. Evan is ‘n gewone ou wat ‘n lewe probeer maak en wat nie kan verstaan hoekom hy dit moet doen nie. Hy weet nie eers waar om te begin nie. In die toneel sê God vir hom hoekom hy dit doen en waaroor dit gaan.

Dis waaroor vanoggend se teks gaan. Dit wil ons nie skuldig of oorweldig laat voel nie. Dit wil net vir ons sê – doen net “random acts of kindness”. Dis hoe ons die wêreld gaan verander. Dis hoe ons die koninkryk laat deurbreek.


Hoe die wêreld gaan eindig? Wat gaan gebeur as ons doodgaan? Hoe gaan ons geoordeel word? Niemand van ons weet regtig nie. Wat ons wel weet is dat ons nou al ‘n verskil kan maak. En wat ons wel weet is dat Jesus aan die einde vir ons wag en hy sal ons sien en ons ken en as ons gedoen het wat Hy van ons vra, dan sal Hy ons sy eie maak. Om dit te weet is genoeg vir my. 

No comments:

Post a Comment