Sunday, December 7, 2014

9 November 2014 - Dankfees

Dankfees
Ef 5: 19-20 & 1 Tess 5: 16-18

Daar was ‘n verkoopsman wat aan ‘n besigheidsman ‘n donkie verkoop het. Hy vertel vir die besigheidsman dat hy ‘n gelowige man is en daarom die donkie geleer het om gehoorsaam te wees aan godsdienstige opdragte. So, as jy wil hê dat die donkie moet stop, dan sê jy vir hom: “AMEN”. En dan stop die donkie. As jy wil hê hy moet beweeg, dan sê jy vir hom: “Dankie Here”. En dan sal die donkie begin loop.  Die besigheidsman is baie beïndruk en koop die donkie. Hy ry toe op die donkie na ‘n ander afspraak toe. Die rit is baie aangenaam en die besigheidsman is baie rustig. Soveel so dat hy nie oplet dat die donkie besig is om na die rand van ‘n afgrond te stap nie. Uiteindelik skrik hy wakker en hy sien die afgrond: “stop, donkie, stop!” skree hy. Op die nippertjie onthou hy, hy moet “amen” skree as hy wil hê die donkie moet stop. “Amen”, skree hy en die donkie stop op die rand van die afgrond. Die besigheidsman is toe so verlig dat hy net opkyk en sê: “dankie Here”.

Vandag gaan daaroor dat ons vir die Here dankie sê.

Vraag: waarvoor is julle vanoggend dankbaar? Noem een ding - sê vinnig vir mekaar.

Lees Efesiërs 5: 19-20 en 1 Tessalonisense 5: 16-18

Hoekom is dankbaarheid belangrik?

Dankbare mense is tevrede mense. Ondankbare mense gaan nooit tevrede wees nie. Hulle gaan nooit genoeg hê nie. Hulle gaan altyd op soek wees na iets beters. As mens net die hele tyd leef vir die tye wanneer dit gaan beter gaan, dan mis jy die dinge wat nou goed is in jou lewe. En meeste van die tyd ontdek jy in elk geval dat dinge nie altyd beter is aan die ander kant van die draad nie. So dankbare, tevrede mense is mense wat weet hoe om dit wat hulle het te geniet en op te hou verlang na dit wat hulle nie het nie.

Dankbare mense is minder gestress. Hulle kyk nie na mense wat meer as hulle het en raak opgewerk daaroor nie. Hulle dink nie die lewe is onregverdig omdat hulle nie so baie het nie. Hulle gun ander mense dit wat hulle het.

Dankbare mense beleef blydskap. Hulle besef dat die regte volgorde is: Jesus, ander en dan ekself. As ek myself eerste stel raak ek baie selfsugtig en blydskap en selfsug gaan nie saam nie. Om jouself en jou behoeftes eerste te stel bring dalk kortermyn vreugde, maar dit gaan nie dieper blydskap bing nie. Net God kan dit doen. Wanneer ons vir Jesus eerste stel bring dit blydskap. En ons vind blydskap wanneer ons ander mense dien.

Dankbare mense is vrygewige mense. As ons besef dat ons alles van God af kry. Dat ons niks verdien nie. Dan gee ons ook makliker. Ek weet van ryk mense, wat baie vrygewig is. En ek weet van ryk mense wat baie selfsugtig is. Net so weet ek ook van arm mense wat baie vrygewig is en arm mense wat baie selfsugtig is. Die ding wat die verskil maak is dankbaarheid. Dankbare mense is vrygewige mense.

Dankbaarheid begin by God. Skryf brief aan God waarin ons vir Hom sê waarvoor ons dankbaar is en kom sit dit vas teen die bord voor in die kerk.


Gebruik nagmaal as herinnering aan en teken van dankbaarheid teenoor dit wat Jesus vir ons gedoen het.

No comments:

Post a Comment