Sunday, March 1, 2015

Markus 1: 1-8 “It’s about Jesus, stupid!”

Markus 1: 1-8
“It’s about Jesus, stupid!”

Die interessante ding van Markus – dit is die enigste evangelie wat geen geboorteverhaal het nie. Al die ander evangelies verwys na Jesus se geboorte – nie Markus nie. Dit wys maar net weer vir ons dat elke evangelie is in ‘n ander konteks en vir ‘n ander gehoor geskryf. Elkeen wou ‘n ander boodskap oordra. Maar dit net so terloops…

Dit kom uit die fliek Godspell, wat ‘n verwerking was van ‘n Broadway musiekblyspel. Dis die openingstoneel wat aansluit by hierdie teks. Let op die afwagting en die blydskap oor die koms van Jesus.

Toe Bill Clinton destyds sy verkiesingsveldtog gehad het om president van Amerika te word, het hy ‘n baie effektiewe slogan gehad – It’s about the economy, stupid. Hy het geweet die ekonomie is die ding wat die meeste Amerikaners bekommer, hy het gefokus op die ekonomie. Nou, wanneer ons hierdie teksgedeelte lees, is dit asof Markus vir ons wil sê – It’s about Jesus, stupid.

Ons sien dit sommer al in die heel eerste sin. Markus skryf: Die evangelie van Jesus Christus, die seun van God, begin so:
Dis opvallend dat daar nie enige werkwoorde in hierdie sin is nie. So, dis ‘n verklaring of ‘n stelling wat hy maak. Dis eintlik die titel van Markus se boek. En dit bevestig 3 goed vir ons: dit gaan alles oor Jesus; Jesus is die seun van God; die boodskap van Jesus is goeie nuus. Sy hele evangelie gaan oor Jesus as die seun van God. Asof hy sê: It’s about Jesus, stupid.

Dit begin hier by Johannes. Hy is die voorloper. Die een wat die pad vir Jesus gereed maak. Ek het onlangs stad toe gery, toe kom daar een van daai groot swaarvoertuie, “abnormal load”, van voor af. Een van daai wat die hele pad vol ry. By sulke voertuie is daar mos altyd ‘n waarskuwings voortuig wat voor hom ry – om ons te waarsku daar is ‘n groot voortuig oppad. Dis wat Johannes kom doen het – hy vertel vir die wêreld dat daar iemand besonders, Jesus Christus oppad is.
Net soos wat die fokus nie op die waarskuwingsvoertuig is nie, net so is die fokus nie op Johannes nie. Die waarskuwingsvoertuig plaas die fokus op die swaarvoertuig, Johannes plaas die fokus op Jesus. Markus is baie duidelik daaroor dat die fokus op Jesus is, die seun van God.

Net so ‘n paar verse verderaan doen Markus dit weer. By Jesus se doop is dit die stem wat uit die hemel bevestig dat Jesus die seun van God is.
En dan heel aan die einde van Markus (15: 39) wanneer Jesus aan die kruis sterf, is dit die Romeinse offisier wat uitroep: “hierdie man was werklik die seun van God.”
So Markus se doel is om die klem op Jesus as die seun van God te laat val. It’s about Jesus, stupid. Dis die Goeie Nuus waaroor ons feesvier in die aanloop tot kerstyd.

Die probleem is net dat ons dit so gou vergeet. Jaar in en jaar uit hoor ons die Goeie nuus van Jesus. Ons raak so gewoond daaraan dat ons dit later nie meer hoor nie. En dit praat nie meer met ons nie. Hierdie tyd van die jaar is dit nog meer so. Ons is so vasgevang in die einde van die jaar se stress, moegheid en gejaagdheid om alles klaar te kry voor die vakansie begin…dat ons vergeet van die Goeie nuus. En so word die Goeie nuus, sommer baie maklik ou nuus. Ons vergeet so gou. Ons het nodig om weer daaraan herinner te word.

Die vraag is nou – hoe reageer ons op hierdie Goeie nuus?

Johannes sê: Bekeer julle?
Bekering beteken jy draai ou rug op dit wat verkeerd is in jou lewe en jy volg vir Jesus. Jy draai om na God toe.
To repent is to came to your senses. It is not so much something you do as something that happens to you. True repentance spend less time looking at the past and saying “I’m sorry” than to your future and saying, “Wow!” (Buechner)
Hierdie is ‘n goeie tyd van die jaar om dit te doen.Miskien is dit iets wat jy vir die eerste keer moet doen? Dalk is dit iets wat jy nou weer moet doen? Nou is ‘n goeie tyd om weg te kyk van alles in jou verlede en vorentoe te kyk saam met Jesus.

Markus wys ook weer vir ons dat ons nou die mense is wat die pad vir Jesus gereedmaak.
Heiliges is nie bo-natuurlike of onnatuurlike mense of helde nie.  Heiliges is gewone mense wat met hulle lewens dit vir ander gewone mense makliker maak om te glo dat God leef en dat Hy ons liefhet. (L Boff).
Lewe ons op so ‘n manier dat dit vir ander mense makliker is om te glo dat God leef en dat Hy ons liefhet?
Johannes het geweet dis sy taak om die klem op Jesus te laat val. Hy het geweet dit gaan nie oor hom nie. Hy het nie in die pad gestaan van die evangelie nie. Alles wat hy gedoen het, het na Jesus toe gewys.
Hierdie adventstyd is weer ‘n goeie tyd om te dink oor my lewe – staan my lewe in die pad van die evangelie? Of kan mense vir Jesus in my lewe sien?

Mag ons in hierdie adventstyd en kerstyd weer besef – it’s all about Jesus, stupid.
Mag ons ‘n bekeringservaring hê – dalk vir die eerste keer, of dalk net weer as ‘n bevestiging.
Mag ons die dinge van die verlede aflê en vorentoe kyk saam met Jesus.

Mag ons lewens die pad vir Jesus gereed maak. 

No comments:

Post a Comment