Sunday, March 1, 2015

Johannes 1: 43-51 Kom kyk! You ain’t seen nothing yet!

Johannes 1: 43-51
Kom kyk! You ain’t seen nothing yet!

Die kerstyd is agter die rug. Jesus se geboorte is gevier. Dit was wonderlik. Maar uiteindelik is dit nie die geboorte wat so belangrik is nie. Sien, mens kan vashaak by die geboorte, terwyl die betekenis daarvan eintlik die belangrikste is. Of daar nou baie engele was of minder engele, of daar nou 3 wyse manne of baie wyse manne was en hoe dit in die stal gelyk en geruik het, is minder belangrik as die feit dat Jesus se geboorte die gang van die geskiedenis verander het.
Kuns, musiek, literatuur, kultuur, politiek – ons hele verstaan van onsself en van die wêreld is verander deur die geboorte van Jesus. Die geskiedenis van die wêreld word verdeel in die tyd voor Jesus se geboorte en na Jesus se geboorte. En wat geloof betref – Jesus se geboorte gee nie net ‘n nuwe verstaan van die lewe nie, maar skep ‘n nuwe manier van lewe. So, ons moenie vashaak by die geboorte nie, die betekenis daarvan is baie belangriker.  

Kom ons lees die teks – dit vertel van die verskil wat Jesus se geboorte gemaak het.

Deur die jare het baie mense soos Philippus gereageer toe Jesus vir hulle gesê het: “Volg my”. En hierdie mense is aangegryp deur Jesus en sy lewe. Hulle het beleef hoe hulle heelgemaak en deur Jesus verander is.  Soveel so dat hulle saam met Philippus kon sê: “Ons het Hom gekry van wie Moses in die wet geskrywe het en van wie die profete ook geskrywe het. Dit is Jesus van Nasaret, die seun van Josef.”

En deur die eeue het baie mense op verskillende maniere uitdrukking aan Philippus se woorde gegee. Alles in ‘n poging om te bevestig – in die baba en man wat hy geword het is daar die goddelik krag om die donker in lig te verander, om ons heel te maak, om nuwe lewe te gee aan enigiemand wat in Hom glo. Daarom kan Philippus ook nie anders as om vir Nataniël uit te nooi om ook vir Jesus te volg nie. Hy wil hê Nataniël moet dit ook beleef.

Net soos baie ander mense ook, is Nataniël skepties oor Jesus. Daarom vra hy: “kan daar uit Nasaret iets goeds kom?”
Nasaret as dorp was nie baie belangrik nie. In geen van die Joodse geskrifte voor of tydens Jesus se lewe word Nasaret genoem nie. Dit was nie naby enige hoofpad geleë nie, so die mense het nie baie daar gekom nie. Boonop was die konserwatiewe Jode in Jerusalem nie baie beïndruk met die manier waarop die Jode in Nasaret gelewe het nie. Volgens hulle het die Jode van Nasaret nie presies gelewe volgens die wet soos hulle moes nie. So Nataniël se reaksie weerspieël die snobisme wat daar was teenoor die mense van Nasaret. Hy is skepties oor Jesus as gevolg daarvan.

En al wat Philippus dan antwoord – “kom kyk”. Hy raak nie in ‘n argument betrokke nie. Hy raak nie aan die stry oor die dorpies nie. Hy sê net – kom kyk. Dit bly maar ‘n feit dat mense nie in die Christendom in geargumenteer word nie. Trouens, dit doen meer kwaad as goed. Mense word eerder daardeur afgesit as nader getrek. Dis beter om net mense uit te nooi en te sê, kom kyk vir jouself.

En dis ons almal se roeping om dit te doen. Ons moenie met mense argumenteer nie, ons moet net vir hulle sê - kom kyk. Kom saam met my kerk toe en kom kyk. Kom saam met my kleingroep toe en kom kyk. Kom saam met my huis toe en kom kyk. Kom kyk wat dit beteken om liggaam van Christus te wees. Kom kyk wat ons doen. Kom kyk en beleef wat ek beleef. Dis vriende wat vriende nooi. Dit beteken natuurlik ook dat my lewe ook vir Jesus moet weerspieel. Ek kan nie een ding sê en ‘n ander ding doen nie. Dit moet ‘n geloofwaardige uitnodiging wees.

En wanneer Nataniël dan naderstaan om te kom kyk, dan verras Jesus hom. Jesus neem die wind uit sy seile, wanneer hy vir hom sê – ek ken jou al lankal, toe jy daar onder die vyeboom gesit het, het ek al geweet van jou. Dit het my laat dink aan die woorde van Psalm 139.
Here, U sien dwarsdeur my, U ken my.
Of ek sit en of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom.
Of ek reis en of ek oorbly, U bepaal dit, U is met al my paaie goed bekend.
Daar is nog nie 'n woord op my tong nie of U, Here, weet wat dit gaan wees.
U omsluit my van alle kante, U neem my in besit.
Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip.

Dis hierdie verwondering oor God. Hierdie besef dat Jesus hom reeds ken wat maak dat Nataniël nie anders kan as om homself oor te gee vir Jesus nie. In daai oomblik besef hy wie Jesus is en hy gee homself oor.  
Ek dink dis iets wat ons almal weer moet hoor – Jesus sien ons raak. Hy lees ons soos ‘n oop boek – en die wonderlikste van alles – Hy is nog steeds lief vir ons. Agter so iemand wil mens mos aanloop.

En wanneer Nataniël vir Jesus begin volg, dan sê Jesus vir hom: “jy sal nog groter dinge as dit sien”. Die engelse het ‘n spreuk wat dit mooi verwoord – “you ain’t seen nothing yet”.
Wat is hierdie groot dinge?
Vir Fillipus, Nataniël en die ander dissipels was dit ‘n ontmoeting met God, ‘n heel nuwe lewe en al die wonderlike goed wat Jesus gedoen het.
Die skrywer James Baldwin skryf in een van sy boeke: “There was a man in the world once who loved me, and because that was the case, I can dare now to continue the struggle to become a man myself.”
Vir ons beteken dit ‘n ontmoeting met God, om Hom beter en dieper te leer ken, om te groei as mens, om op ‘n lewensreis saam met Hom te gaan, om deur Hom gebruik te word om die wêreld ‘n beter plek te maak. Om uiteindelik die mens te wees
wat Hy vir ons in gedagte het.

So as ek dit alles kan saamvat:
Jesus nooi ons almal uit om Hom te volg. Hy ken ons. Hy weet van ons. En nog steeds nooi Hy ons uit om Hom te volg. Gaan ons dit aanvaar?
Daarmee saam word ons ook geroep om ander mense uit te nooi om Jesus te volg. Sonder om te argumenteer, hulle te laat skuldig voel – al wat ons moet doen is om hulle uit te nooi. Te sê – kom kyk.
Dit gesê moet ons natuurlik ook seker maak dat ons eie lewe reg is. Dit help nie ons nooi mense uit om te kom kyk, maar dan getuig my lewe nie ook daarvan nie.

En dan moet ons oop wees vir die lewensreis waarop God ons gaan vat. Ons gaan nuwe dinge leer. Ons gaan ons self en vir God beter leer ken. Ons weet nie altyd hoe hierdie reis gaan wees nie, maar ons weet dat ons groter dinge sal sien. En uiteindelik sal ons die mense wee swat God vir ons in gedagte het.

No comments:

Post a Comment