Sunday, March 1, 2015

Lukas 1: 26-38 Laat dit so wees

Lukas 1: 26-38
Laat dit so wees

Hierdie is ‘n vreemde teks vir protestantse en gerformeerde tradisies, want dit fokus so sterk op Maria. Dis iets wat ons meer by die Katolieke tradisie sal verwag. Tog is dit ook nie so vreemd nie, want Lukas fokus sterk op Maria. Lukas fokus eintlik sterk op vroue, want Elizabet speel ook ‘n belangrike rol. Anders as Matteus wat baie min van die vroue maak. In Lukas is dit die vroue wat getrou en betroubaar is, terwyl die mans nie so goed uitgebeeld word nie. So ons kan baie leer by Maria.

Wie was Maria? Sy was ‘n dogter, 12-14 jaar oud. Verloof aan Josef. Dit was die tyd waarop hulle verloof geraak het. Sy kom van Nasaret – ‘n klein armoedige dorpie. Ons lees in vers 29 dat sy nie verstaan het wat met haar gebeur het nie. Sy het geen invloed, besondere vermoëns of belangrike familie nie. Sy was bloedjonk, naief en doodgewoon. Tog word sy deur God gebruik. Soos iemand gesê het: “God entered into the ordinary and made it extra-ordinary”. Reeds hier voordat Jesus gebore is beklemtoon God dat Jesus ‘n gewone mens sou wees. Met die keuse van Maria word Jesus se menswording ge-inisieer.  

Maria is net nog ‘n voorbeeld van ‘n baie onwaarskynlike mens wat deur God gebruik is. Dink aan Moses – hy was ‘n moordenaar en kon nie goed praat nie. Jeremia, wat gevoel het hy is te jonk. Dawid die nederige skaapwagter wat later owerspel gepleeg en Batseba se man laat vermoor het. Petrus wat vir Jesus verloën het. Paulus wat eers die Christene vervolg het. 
Baie mense dink vandag nog steeds so. Dat ‘n mens sekere eienskappe moet hê of bekwaam en aanvaarbaar moet wees om deur God gebruik te word. Maria bevestig vir ons dat God nie soek vir sekere geestelike vermoëns of kwaliteite nie. Hy soek net mense wat oop en gewillig is om deur Hom gebruik te word.

Lukas noem Maria God se begenadigde. Dit het my laat dink aan die storie van Martin Luther. Die Duitse monnik wat in 1517 die Hervorming begin het, wat uitgeloop het op die begin van ons gereformeerde tradisie. Vir baie jare het hy geworstel met sonde en met vrae soos: “hoe kan ek deur God aanvaar word? en waar kan ek genade by God vind? Tot die dag wat hy besef het, dat hy deur genade alleen gered word. Martin Luther het ontdek dat hy ‘n begenadigde is. Dit het sy lewe en die toekoms van die kerk verander. Maria is ‘n begenadigde omdat sy deur God gekies is. So, ons leer weer by haar dat dieselfde vir elkeen van ons geld – ons is ook God se begenadigdes. 

Daar is verskillende maniere om Maria en haar rol te verstaan. Volgens die tradisionele, katolieke siening is sy maagdelik, skoon en sonder sonde omdat Jesus nie in sonde gebore kon word nie. Dis hoekom sy begenadigd is en daarom maak hulle so baie maak van Maria as die ma van Jesus.

Ek dink nie mens moet vasval in Maria se maagdelikheid en sondeloosheid nie, soos die katolieke dit doen nie. Dit gaan eerder hier oor Maria se geloof en getrouheid. Sy hoor dat God haar wil gebruik en sy is bereid om dit te doen.
Ek het al gewonder wat sou gebeur het as Maria nee gesê het vir die engel. Soos ek vir God ken sou hy haar keuse gerespekteer het. Maar sy doen dit nie – sy stel haarself tot beskikking van die Here. Sy gee haarself oor vir God en Sy wil. Prof Dirkie Smit skryf hieroor:
“Nie haar fisiese verbintenis met Jesus gee haar enige waarde nie, dog slegs haar geloof. Sy staan volkome aan óns kant. Sy is een van ons, soos ons. Sy is ’n dissipel, ’n gelowige. Sy is wat ons almal kan en moet wees."
So, by Maria leer ons om oop te wees vir dit wat God van ons vra.  En ons leer van geloof, vertroue en oorgawe aan God.

En laastens moet ons onthou dat hierdie verhaal het te doen met Jesus se koms na die wêreld om die wêreld ‘n beter plek te maak. Dit het te doen met die vestiging van God se koninkryk hier op aarde.
Maar as ons so na die wêreld kyk – met al die probleme, die ongeregtigheid en onregverdigheid, die hartseer en die wreedheid, dan is dit maklik om te sê, Jesus se koms, sy koninkryk, het geen verskil gemaak nie.
Dis maklik om te sê dis onmoontlik dat Maria wat so onwaarskynlik was en so opgehef kon word.
Dis maklik om te sê dat hierdie maar net ‘n storie is en dat die bo-natuurlike element daarvan sommer nonsens is.
Maar ons moet besef dat hierdie goed moontlik is binne ‘n verhouding met God. Dis binne hierdie verhouding met God waar ons begin besef daar is ‘n bo-natuurlike element aan God wat ons nooit sal verstaan nie – en dis OK so. Dis wanneer ons in ‘n verhouding met God leef, waar ons sien hoe die koninkryk van God in ons deurmekaar wêreld tog deurbreek. Dis binne ‘n verhouding met God waar vrede, liefde, hoop en blydskap begin moontlik raak. En by Maria leer ons wat dit beteken om oop te wees vir hierdie verhouding met God.

So as ek dit alles kan saamvat. By Maria leer ons…
Dat God deur haar mens geword het.
Dat God gewone dinge en mense buitengewoon kan en wil maak.
Dat God nie perfekte mense soek nie, maar eerder oop en gewillige mense.
Dat elkeen van ons God se begenadigde is.
Ons leer by haar van geloof en vertroue in God.

En om oop te wees vir ‘n verhouding met God wat vir ons help om ons God se koninkryk in die wêreld te sien deurbreek.

No comments:

Post a Comment