Sunday, March 1, 2015

Markus 1: 14-20 Follow the Leader

Markus 1: 14-20
Follow the Leader

Ons jongste kind is hierdie week hoërskool toe. Toe dit tot my deurdring dat my jongste hoërskool toe is – toe kry ek so beklemming in my – want, hoe het dit gebeur? Hoe het dit gebeur dat ek nou al die pa is van 2 hoërskoolkinders? Hoe het die jare so vinnig verby gegaan?
Ek onthou nog soos gister toe hy 18 maande oud was. Ons het by my skoonma gekuier en hulle het kort tevore ‘n nuwe geaser gekry, wat op daardie stadium nog op sy warmste gestel was. My skoonma was besig om ‘n bad te tap, sonder om die koue water oop te draai. Hy was by haar in die badkamer toe sy ouer broer inkom om vir sy ouma iets te wys. In daai oomblik toe sy omkyk, toe klim Migael in daai warm bad in en verbrand sy voete dat die velle so hang. Onmiddelik verander ons hele lewe. Daarna was dit vir ‘n lang tyd hospitaal en operasies en veloorplantings en fisio. Niemand kan jou voorberei vir so iets wat in so ‘n oomblik kan gebeur nie. Dis verrassend, onmiddelik en ingrypend.

Toe ek die week met vanoggend se teks besig was, het ek weer daaraan gedink. Toe Jesus vir hierdie eerste dissipels gesê het: kom saam met my, het hulle onmiddelik alles gelos en Hom gevolg. Hulle het dadelik gereageer en hulle lewe het onmiddelik verander. Hulle het iets in Jesus gesien wat gemaak het dat hulle Hom onmiddelik gevolg het. Dit was vir hulle verrassend, onmiddelik en ingrypend.

Hierdie onmiddelikheid is ‘n tema in Markus – hy gebruik graag die woord onmiddelik, want hy probeer dringendheid skep. Onmiddelik impliseer ook ‘n aksie. Dit impliseer dat iets gedoen moet word. Toe Migael se voete gebrand het – kon ons nie sê – wel, dis nou interessant, ons sal hom later hospitaal toe moet vat. Nee, ons moes dadelik iets daaraan doen. Ons moes onmiddelik reageer.

Dieselfde het gebeur toe Jesus die eerste dissipels geroep het. Daar langs die see van Galilea. Daar was geen tyd om te dink nie. Hulle gaan net. Hulle lewens verander onmiddelik.  Dis hoe Jesus werk – onvoorspelbaar, onverwags, onmiddelik.

Ons leer ook ‘n paar ander belangrike goed oor Jesus en oor ons as sy volgelinge.

Jesus neem die inisiatief.
Dit is Hy wat mense roep, dis nie mense wat na Hom toe gaan nie. In Jesus se tyd was daar baie leermeesters en rabbi’s wat volgelinge gehad het. In hulle geval het die volgelinge na die leermeesters toe gegaan en gevra om ‘n volgeling te word en dan is hulle goedgekeur of afgekeur. Maar Jesus werk andersom. Hy roep sy volgelinge. Dis nie ons wat vir Jesus kies nie, dis Hy wat ons kies. Dis genade.
En Hy stel nie voorwaardes nie – hy ontmoet sy volgelinge (ons) soos hulle is en waar hulle is.
En ja, ons moet natuurlik ja sê wanneer hy ons roep. Dis ‘n geloofstap, want ons moet vir Jesus vertrou vir die pad waarop hy ons gaan vat. Dis moeilik vir ons, want ons hou daarvan om in beheer te wees. Soms moet ons maar net vir Jesus vertrou. Soos iemand gesê het: “Faith is taking the first step even when you don't see the whole staircase.

Wanneer Jesus mense roep verander hulle.
Wanneer die dissipels ja sê wanneer Jesus hulle roep – verander hulle van vissers van visse na vissers van mense.
Dit is ‘n taak waarvoor hulle geroep word – om ander te gaan vertel van Jesus. Maar dis ook baie meer as dit. Dit gaan oor hulle identiteit wat verander word. Jesus gee nie net vir jou ‘n ander taak nie, hy verander jou. In die Grieks is vissers van mense nie ‘n werkwoord nie, dis ‘n beskrywende naamwoord. Met ander woorde – Hy sê – ek maak jou ‘n visser van mense. Ek verander jou in ‘n visser van mense. Dit word jou identiteit, jy kan nie anders nie.

Thomas Long verduidelik dit as volg: “Follow me”...That same summons comes to all of us. For some of us it will come as a call to leave our nets, our books, our desks, our homes. For others it will come as a call to mend our nets more carefully, read our books more thoroughly, mind our desks more faithfully, live in our homes more lovingly. But in whatever form the summons is, it still means to forsake being our “own person” and to become Christ's. (Thomas Long)

Dit verander my menswees. Dit verander my in iemand wat leerbaar is. Iemand met integriteit. Iemand wat bereid is om Jesus te verteenwoordig  -  by hulle gesinne, bure, omgewing en gemeenskap.

Dit gesê – dit beteken nou nie dat ons nou gearriveer het en perfekte dissipels gaan wees nie. Dit beteken net dat ek bereid is om die eerste tree te gee en om deur Jesus verander en gebruik te word. Dissipels gaan nie altyd alles reg doen nie. Hulle gaan teleurstel en verkeerd verstaan. Maar, hulle bly op die journey saam met Jesus.

Neem nou maar net vir Petrus (Simon) as voorbeeld. Hy volg onmiddelik vir Jesus. Maar in Markus 8 verwerp hy Jesus se lyding.
In Markus 9 by die verheerliking op die berg, luister hy nie na Jesus nie.
In Markus 14 verloën hy vir Jesus.
In Markus 15 is hy nêrens te siene by Jesus se dood en opstanding nie.
Hy doen ‘n klomp goed verkeerd, maar uiteindelik is hy ook die rots waarop God sy kerk sal bou.

Ek weet nie van julle nie maar vir my is dit ‘n groot gerusstelling hierdie. Dit beteken – ek hoef nie perfek te wees nie en ek hoef nie vir God te probeer beïndruk nie. Hy bly lief vir my en ek moet net aanhou om die pad saam met Hom te stap.
Soos ons lees in Romeine 8: “Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.”

Om op te som:
Miskien is dit nou – so aan die begin van die jaar ‘n goeie tyd om weer te hoor…
Jesus roep ons elkeen om sy dissipels te wees.. Hy kies ons – sonder voorwaardes -maak nie saak wie ons is of waar ons is nie. Hy wil ons gebruik. Hy wil hê ons moet elke dag vir Hom te leef

En wanneer Hy ons roep gee Hy nie net vir ons ‘n taak nie – hy gee ons ‘n nuwe identiteit. Hy verander ons in mense wat vir Hom leef en bereid is om Hom in die wêreld te verteenwoordig.

Maar Hy verseker ons ook dat ons nie perfek hoef te wees nie. Ons gaan foute maak en teleurstel, maar dis OK – want Hy sal nooit op ons opgee nie en nooit ophou lief wees vir ons nie.

En dis ook ‘n goeie tyd om ‘n slag weer na my lewe te kyk en te vra - wat is dit wat ek nou moet los om vir Jesus te volg? Wat is dit wat ek dalk moet opgee om vir Jesus te volg?
Wat ons mos wil doen is om vir Jesus te wil inpas by ons lewens – Hy moet tog net nie teveel van my vra nie.

Miskien word ons geroep om die onmiddelikheid van Markus ernstig te neem? Om nie verskonings te maak nie of eers dinge te wil uitsorteer nie, maar om Jesus te volg, Hom te vertrou en te doen wat Hy vra. Soos hulle mos sê: Just go with it – en sien wat gebeur.

No comments:

Post a Comment