Tuesday, March 10, 2015

Matteus 11:28-30 - Leer leef met Jesus

Ek wil net eers weer hersien waarmee ons tot dusver besig is tydens die 40 dae kursus. Week 1 het gegaan oor ons wat leer leef vanuit ‘n nuwe werklikheid. Dis om te leef met die wete dat Jesus die heerser van my lewe is – ek behoort aan Hom. En ook met die wete dat Jesus hier is. Hy is elke dag by ons teenwoordig.
Verlede week het ons geleer wat dit beteken om saam met Jesus te leef. Jesus nooi ons uit om saam met Hom te leef. In ‘n verhouding met Hom te leef. Dit beteken dat ons ons lewens anders moet inrig. Ons moet nou en dan stop, tot rus kom en spasie maak vir Hom in ons lewens. Ons moet oop en leerbaar wees vir dit wat Hy ons wil leer en ons moet moeite doen om na Hom te luister.

Hierdie week gee ons nog ‘n tree verder – om ‘n dissipel te wees is om by Jesus te leer hoe om hier en nou te leef.

Dink ‘n oomblik oor die vraag: Wie is besig om jou te leer? Wie is besig om jou te vorm? Wie se dissipel is jy? Ons almal is iemand of iets se dissipel.
As kind – my ouers, onderwysers, dominee, sporthelde, musieksterre
Soos mens ouer word is dit dosente, mentors, jou man of vrou, dalk ‘n spreker of bekende persoon.
Dalk ‘n baas, kollega, dokter of sielkundige.
Ons is almal iemand se dissipel.

Walter Breuggemann het ‘n boekie geskryf waarin hy sê dat ons na verskillende stemme luister, naamlik die stemme van ons ouers, ons vriende ons drome en die stem van tradisie. Maar dan gaan hy verder en sê dat ons ook nie die invloed van die media en TV-advertensies moet onderskat nie. “Advertensies kry ‘n greep op ons lewens en dit vorm ons lewe sonder dat ons dit agterkom. Dit is eers oor ‘n tydperk heen dat dit duidelik word watter groot mag dit op ons uitoefen. Dit vorm ons identiteit en ons lewe.” Advertensies kommunikeer 3 goed aan ons – alles gaan oor my en my behoeftes; my behoeftes moet bevredig word; en dit moet NOU bevredig word. Die punt is ons word gevorm deur ons kultuur. Ons is dissipels van ons kultuur.

Teenoor dit is daar Jesus wat sê: Ek is die weg, die waarheid en die lewe. So alhoewel ons nie kan help om deur ons kultuur beïnvloed te word nie, moet ons as Christene vra – wat is dit wat Jesus ons wil leer. Hoe wil Jesus hê moet ek lewe?

So kom ons gaan kyk gou na die week se teks waarin Jesus ons wil leer hoe om te lewe.
Lees die teks. Uit die NAV, Die Boodskap en The Message

In Jesus se tyd was jy as ‘n goeie Jood gesien as jy streng volgens die Torah geleef het. Die Torah bestaan uit honderde wette – meer as 600 van hulle wat jy moes nakom. Die fariseërs en skrifgeleerdes moes toesien dat die mense hierdie wette nakom. So ons sou kon sê dat hulle gevorm is deur die wette. Hulle was dissipels van hierdie wette en erge godsdienstigheid.

Vir die gemiddelde Israeliet was die nakoming van hierdie wette nie iets wat vreugde gebring het nie. Alles behalwe – hulle het dit ervaar as ‘n las of ‘n juk wat op jou skouers gerus het. Die Fariseërs en skrifgeleerdes was hard op die mense en het hulle mag gebruik om die wette at te dwing. Dit was harde werk om dit na te kom en het vreeslike skuldgevoel veroorsaak. En ek vermoed baie daarvan is net gedoen om die Fariseers en skrifgeleerdes tevrede te stel.

Jesus kom hierteen in opstand. Hy bied vir die mense ‘n alternatief. Hy sê – kom saam met my – ek bied vir jou genade, liefde en barmhartigheid. Jesus se manier van doen is makliker, lig en bring rus, want Jesus is sagmoedig en vol liefde. Hy help jou “to live freely and lightly”. Die Fariseers en skrifgeleerdes wil van mense slawe van die wette maak, terwyl Jesus mense vry wil maak van hierdie tipe slawerny.

Kom ek verduidelik die verskil met ‘n beeld – wat ek by Oom Herklaas gekry het toe ons in die week oor die teks gesels het.
Dis soos die verskil om vir ‘n baas te boer en saam met jou pa te boer.
Die Fariseërs en Skrifgeleerdes is soos om vir ‘n baas te boer. Die baas het streng reëls waarvolgens jy moet werk. Hy gee vir jou opdragte. Hy hou vergaderings waar hy vir jou sê wat jy moet doen. En wanneer jy foute maak dan is hy hard op jou. Jy moet die baas probeer beïndruk en tevrede hou. En wat die toekoms betref – wel daar is niks vir jou daarin nie, want jy gaan nie die plaas erf nie.

Jesus se manier van doen is soos om saam met jou pa te boer. Julle werk saam. Julle beplan saam. Daar is vryheid om kreatief te wees. Dis ‘n oop verhouding waar julle oor dinge kan gesels.Jy hoef hom nie te beïndruk of tevrede te hou nie, want hy is reeds beïndruk en tevrede met jou. En as jy foute maak, dan is daar genade en ruimte om te leer uit jou foute. Jy het ‘n toekoms, want jy is jou pa se erfgenaam.

In die woorde van The Message vertaling – by Jesus leer jy die “unforced rhythms of grace” wat jou vry maak en jou lewe lig maak.
By die Fariseërs en skrifgeleerdes leer jy die teenoorgestelde – jy leer die “forced rhythms of power” – godsdiens wat op jou afgedwing word en wat jou lewe beperk en swaarder maak en jou vasgevang laat voel.  

Wat beteken dit vir ons vandag? Mens kan op twee maniere lewe. Jy kan ‘n dissipel wees van die dinge in jou lewe of jy kan ‘n dissipel wees van Jesus.

Ons het mos baie goed wat in ons lewens aangaan. Ons lewens lyk soos hierdie diagram.



In Die Boodskap vertaling lees ons: “Ek sal jou leer dat geluk nie is om heeltyd vir jouself te leef nie”. M.a.w. om vir myself te leef gaan my nie geluk bring nie. Dit gaan maak dat ek nie freely en lightly kan leef nie. As alles oor myself gaan, dan gaan ek ‘n dissipel word van die goed waaruit my lewe bestaan.
Dan gaan ek ‘n gevangene raak van daai goed. Ek gaan al hoe meer moet probeer om ‘n sukses te maak van daai goed. En hoe harder ek probeer, hoe moeiliker gaan dit raak en hoe meer vasgevang gaan ek wees. Soos die Fariseërs dissipels is van wette en godsdienstigheid, so raak ek ‘n dissipel van die dinge in my lewe.

Wees eerder ‘n dissipel van Jesus. Soos ons lees in Die Boodskap: “ Kom ontdek watter vreugde dit bring om te leef soos God wil hê jy moet leef”.
As ons dit kan regkry dan lyk die diagram van ons lewe soos volg:


Jesus is in die middelpunt en Hy beïnvloed elke aspek van my lewe. Hy maak dit vir my moontlik om die dinge van my lewe te hanteer. Ek hoef nie so hard te probeer nie. Ek hoef niemand te beïndruk nie.
Dit beteken nie dat alles altyd sal goed gaan nie – die winde en die storms sal nog steeds daar wees, maar wanneer Jesus die middelpunt is gee dit rustigheid en dit maak dat jy anders na die goed kan kyk. Jou gesindheid is anders. Dit haal die angstigheid weg en maak dat jy ligter kan lewe.

Hoe doen ek dit? Hoe kry ek dit reg om vry en lig te lewe?

Hou vas aan jou vryheid in Christus.
Gal 5: 1 “Christus het ons vry gemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.”
Die Fariseër en skrifgeleerdes het probeer om die mense slawe van godsdiens te maak. Moenie toelaat dat enigiets van jou ‘n slaaf maak nie. Jesus het ons vrygemaak daarvan – so hou vas aan daai vryheid.  Onthou Jesus se juk is sag – dis gemaak van liefde, genade en barmhartigheid.

Walk with Me…Keep company with Me
Bly naby God. Koester jou verhouding met God. Soos ons verlede week gesê het – stop partykeer, raak stil, luister na God.


As a learning process, discipleship means living interactively with His resurrected presence (through His word, His personal presence, and through other people) as we progressively learn to lead our lives as He would if He were we”.

No comments:

Post a Comment