Tuesday, March 24, 2015

Leer doen wat Jesus se - 22 Maart 2015

Tot dusver het ons tydens die 40dae kursus geleer dat ‘n dissipel iemand is wat leef vanuit ‘n nuwe werklikheid. Dis iemand wat saam met Jesus leef en by Hom leer. Iemand wat elke dag, veral in ons werk saam met Jesus leer leef.
Vandag praat ons daaroor dat ‘n dissipel iemand is wat leer om te doen wat Jesus sê.

Ek was al in baie gesprekke met mense wat sê hulle sukkel om te weet wat Jesus se wil vir hulle lewens is. Mense wat sukkel om te weet wat dit is wat Jesus vir hulle sê. Dalk is jy ook iemand wat al daarmee gesukkel het. Hoe weet ek wat Jesus se wil is in my werk of my huwelik of vir hierdie besluit wat ek moet neem? My antwoord is altyd dieselfde – Jesus se wil is straight forward - gaan kyk net in die Bybel. In die Bybel is dit baie duidelik wat Jesus vir ons sê. Kom ek wys vir julle…
  
Julle moet julle vyande liefhê (Matt 5: 44-47)
Wees barmhartig soos julle Vader barmhartig is. Moenie oordeel nie. Moenie veroordeel nie. Spreek vry. Gee. (Luk 6: 36-38)
As iemand agter my aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis opneem en My volg…(Matt 16: 24-26)
Moet julle nie bekommer nie (Matt 6: 25)
Beywer julle allereers vir die Koninkryk en die wil van God (Matt 6: 33)
Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader verheerlik (Matt 5: 16)
Sorg dat julle ja altyd ja bly en julle nee altyd nee (Matt 5: 37)
As julle vergewe, sal julle Vader julle vergewe (Matt 6:14)
Doen vir ander wat julle wil hê hulle vir jou moet doen (Matt 7:12)
Jy moet die Here God en jou naaste liefhê (Matt 22)
Haal eers die balk uit jou eie oog (Luk 6: 41)
Seën die mense wat julle vervloek, bid vir die mense wat julle sleg behandel (Luk 6:28)

Hierdie goed geld ooral in ons lewens. Maak nie saak waar jy werk nie. Maak nie saak waarmee jy besig is nie. Maak nie saak met wie jy te doene kry elke dag nie. Of wat die groot besluit is wat jy moet neem nie. Hierdie is die goed wat Jesus sê. Dis sy wil. Dis wat Hy wil hê ons moet doen.

So – hoe ernstig moet ons dit opneem? Moet ons dit doen? Natuurlik moet ons. Hy self sê ons moet dit ernstig opneem…
“As julle in ‘n noue verbintenis aan My boodskap leef, is julle my dissipels, is julle my egte navolgers (Joh 8:31)
“As julle My liefhet sal julle my opdragte uitvoer (Joh 14:15)
“Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is Hy wat My liefhet” (Joh 14:15)
“As iemand My liefhet, sal hy My woorde ter harte neem” (Joh 14: 23)
As julle my opdragte uitvoer, sal julle in My liefde bly (Joh 15:10)
Aan die einde van die bergrede lees ons in Mat 7:24-28  “But if you just use my words in Bible studies and don’t work them into your life, you are like a stupid carpenter..” (The Message)

So, Jesus is baie ernstig daaroor dat ons moet doen wat Hy sê. Maar dis ook belangrik om op te let hoe Hy vir ons sê dat dit belangrik is. Ek onthou toe ek in die weermag was – het ons altyd ‘n Sammajoor gehad wat in beheer was. Was altyd ‘n kwaai, bombastiese ou wat op almal geskree het. En ons was bang vir hom. As hy gesê het doen 50 push ups, hardloop om die paradegrond dan het jy dit gedoen omdat jy bang is vir hom en wat hy gaan doen as jy dit nie doen nie.
Wanneer Jesus vir ons sê wat ons moet doen en hoekom ons dit moet doen, dan doen hy dit nie soos ‘n Sammajoor nie. Hy skree nie op ons nie en hy straf ons nie as ons sukkel om die goed te doen nie. Hy sê vir ons – doen die goed, want dit is goed vir jou om dit te doen. En as jy sukkel sal ek jou help en jou begelei. Want as jy dit begin doen gaan dit jou lewe makliker maak, dit gaan vir jou vrede gee, dit gaan jou vry maak en jou lewe ligter maak.

Kom ek noem gou 2 voorbeelde waarmee ons nogal sukkel.
Jesus sê ons moet vergewe. Dis vir baie van ons nogal ‘n moeilike ding, want hoe vergewe jy iemand wat jou vreeslik te na gekom het of jou dalk baie seer gemaak het. En hoe vergewe ek iemand wat nie bereid is om verskoning te vra nie?
Jesus sê ons moet vergewe, selfs al vra die ander persoon nie verskoning nie – nie omdat ons Jesus moet please nie. Nie omdat ons die ander persoon moet please nie. Maar omdat dit goed is vir onsself.  Want om te vergewe maak jou vry. Dit gee vrede. Dit maak jou lewe ligter.

Die ander ding waarmee ons sukkel, is wanneer Jesus sê “moet julle nie bekommer nie”. Ons eerste reaksie is mos – dis onrealisties. Dis gevaarlik om jou nie te bekommer nie. As ons ons nie bekommer nie, sal ons lui word. Bekommernis maak dat ons harder werk en beplan vir die toekoms. Bekommernis is goed vir ons.
Ek dink dis rasionalisering, want as dit waar was hoekom sukkel ons om te slaap? Hoekom lei ons aan depressie en vereensaming? Hoekom is ons so gevul met woede? Dit maak dat jy nie net kan fokus op vandag se goed nie, want jy is besig met more en volgende week se goed. Dit neem jou lewe oor en tap jou energie. Dis sleg vir jou. Soos Jesus sê immers – wie kan sy lewe met een uur verleng deur hom te bekommer.
Dit terwyl Jesus wil hê ons moet geniet waarmee ons nou besig is. Ons moet lig kan lewe en vrede kan hê. Ons moet vry kan wees. Ons moet vir Hom kan leef. Dis hoekom Jesus sê – moet julle nie bekommer nie. Want dis beter vir ons.

Hoe leer ons om te doen wat Jesus sê? Hoe leer ons om te vergewe, nie te bekommer nie of vyande lief te hê en so aan.

In Kolossense 1: 13 lees ons: “Ons is uit die mag van die duisternis bevry, gered en ons is oorgebring onder die koningsheerskappy van Jesus die Here.”
Dit beteken – ons is nie meer ons eie baas nie. Ons leef nou onder Jesus se heerskappy. Hy is ons baas. En sy juk is sag en lig. Dis waar ons moet begin as ons wil doen wat Jesus sê. Ons moet erken dat Hy die koning van ons lewens is en onsself oorgee aan Hom.

Kom ek gebruik “bekommernis” weer as ‘n voorbeeld. In Matteus 6 lees ons dat ons ons nie moet bekommer nie. Dan word daar 2 dinge or God gesê om ons hiermee te help. Hy is die een wat weet wat ons nodig het en Hy is die een wat vir ons sal sorg. Ons moet net leer om Hom te vertrou. Hy is die koning van ons lewens.
Dit beteken nie noodwendig dat my omstandighede ewe skielik net gaan beter gaan nie. Dat ek nou skielik niks gaan hê om my oor te bekommer nie. Maar ek gaan anders daarna kan kyk. Ek gaan ‘n rustigheid en vrede beleef. Dit gaan maak dat ek my situasie ook anders sal hanteer. Dit gaan maak dat ek minder bekommer. So dis die eerste vereiste om te doen wat Jesus sê – aanvaar dat Jesus die koning van jou lewe is.

Tweedens – ons gaan dit net regkry om te doen wat Jesus sê, as ons dit gaan begin oefen. Daar is ‘n groot verskil tussen “probeer” en “oefen”. “Probeer is om iets op jou eie te doen. Dit vat jou baie maklik in ‘n bose kringloop in. Soos om te vergewe. Jy probeer vergewe – jy misluk – dit lei tot skuldgevoelens – so jy probeer harder – wat lei tot groter skuld – en uiteindelik is jy moedeloos en gooi tou op.
Soos iemand gesê het: “Trying, is not wholly unlike trying to make an apple tree bear peaches by tying peaches to its branches”.

“Oefen” is iets heel anders – dis iets wat jy saam met Jesus doen. Hy is jou afrigter. Hy is geduldig met jou. Hy glo in jou. Hy moedig jou aan. Dis soos die keer toe Petrus op die water probeer loop het. Hy is eers huiwerig, maar dan vertrou hy vir Jesus en hy loop baie lekker op die water. Totdat hy bewus raak van die sterk wind en die golwe – dan raak hy bang en sink en roep na Jesus. Sonder om kwaad te wees vir hom, sonder om hom te veroordeel help Jesus hom op.
Om te doen wat Jesus sê is soos om op die water te loop – ons gaan dit nie maklik regkry nie, ons gaan sukkel, maar Jesus is daar om ons op te help en aan te moedig. Hy weet ons gaan dit nie sommer regkry nie, maar Hy leer ons om ons nie te bekommer nie, om nie ander mense af te skryf nie, om ander nie te veroordeel nie, om mense te vergewe, om ons vyande lief te hê. Ons moet aanhou om dit saam met Jesus te oefen.

Dan is daar ‘n derde ding wat dit vir ons moontlik maak om te doen wat Jesus sê. En dis die belangrikste ding – dis die fondasie waarop ons bou. Dis waar alles begin.
In Matteus 11 lees ons – “kom na My toe! Ja, kom wy jou lewe aan my toe”.
In Matteus 28 lees ons – “Ek is by julle al die dae…”
Johannes 14 lees ons – “as julle my liefhet…”
Ons gaan net kan doen wat Jesus sê wanneer Hy ons met sy Gees help. Daarom moet ons in ‘n verhouding met Hom leef – by Hom, saam met Hom, in Sy liefde. Vanuit hierdie verhouding leer ons om sy woorde uit te leef. Ek moet tyd met Hom spandeer. Ek moet Hom vertrou. Ek moet tyd met sy Woord spandeer. Ek moet toelaat dat Hy my vorm en my leer. En dan sal ek  ontdek wat dit beteken om te doen wat Hy sê en om “freely en lightly” te leef. AMEN.

No comments:

Post a Comment