Friday, March 20, 2015

Leer leef met Jesus in jou werk - 15 Maart 2015

Ons is steeds besig met ons reeks waarin ons gesels oor hoe n lewe saam met Jesus lyk.  Vanoggend wil ons kyk na hoe n lewe saam met Jesus lyk op die plek waar ons meeste van ons tyd spandeer: die werk.  Berekening toon dat ons 65% van ons wakker tyd by die werk spandeer.  So meeste van ons tyd is ons by die werk – en dit beteken dat ons juis hier anders moet leef.

Ek besef hier is baie mense wat dalk nie werk of alleen werk vanaf die huis – maar die gedeelte bly steeds relevant. Hoe leef ons saam met Jesus op die plekke waar ons die meeste van ons tyd spandeer? Hoe leef ons saam met Jesus waar dit soms die moeilikste is om my Christelike waardes uit te leef? 

Vir te lank het ons gekyk na hoe n lewe saam met Jesus lyk buite die werk.  Ons voorbeelde is baie keer net van dinge wat na werk gebeur of by die kerk plaasvind.  Hoe kan ons betrokke raak by ‘die en die’ aktiwiteit wat die kerk reel. As ek die boodskap van Jesus reg verstaan, dan roep Hy ons egter om Hom 24/7 te volg: wat beteken dat ons Hom by die kerk en by die werk sal volg.  En dis meestal by die werk waar dit baie moeilik raak!

Ons almal sal saamstem dat ons nie net sekere tye n dissipel van Christus kan wees nie. Ons kan dit nie in kompartemente opdeel nie.  Ons moet orals waar ons gaan ‘n dissipel wees.

Ons gaan vanoggend saamlees uit Kol3. Die gedeelte gee vir ons ‘n mooi prentjie van hoe die nuwe lewe saam met Jesus lyk.  Die gedeelte sê alles baie mooi. DIs nie noodwendig nodig dat ek nog baie daaroor sê nie. Ek gaan die gedeelte opbreek en net sekere punte uitlig. Terwyl ons die gedeelte lees, hou jou werk in gedagte en dink oor hoe ons daar saam met Jesus hierdie nuwe lewe kan leef – die nuwe lewe saam met Jesus.

Kolosense leer ons van n nuwe werklikheid waaruit ons moet lewe.  N Werklikheid waar Jesus die Here is.  Dit het sekere implikasie vir hoe ons lewe: daar is n nuwe gedrag wat ons moet aantrek, maar ook dinge wat ons moet uittrek (gedrag wat ons moet doodmaak).

Kom ons begin by vers 1 -4
Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.
Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie,
want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.
Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Dis belangrik om in vers1 die woord SAAM raak te lees. Toe Jesus uit die dood opgewek is, is ons saam met hom opgestaan. Ons het gesterf aan ons ou lewe, maar weer opgestaan as nuwe mense saam met Christus.  Hierdie nuwe mense moet nou fokus op die dinge daarbo. Dit laat my dink aan die woorde in die Onse Vader Laat u koninkryk kom, soos in die die hemel so ook op die aarde.
Alhoewel ons op aarde woon, en nie daarbo nie, moet ons steeds ons oe gefokus hou op die dinge daarbo, sodat ons iets daarvan n werklikheid nou kan maak.

Wat is hierdie dinge daarbo? Wat is die wil van God?
Die teks gedeelte praat later hiervan – dan ons al meer gevorm word na die beeld van die Skepper. Hoe meer ons begin loop in die voetspore van ons Skepper, hoe meer sal ons sy wil begin leef.

En dan eindig vers5 met die belofte wat gemaak word: ons sal deel in die heerlikheid van God wanneer Hy weer verskyn!

As ons dan hierdie toepas op ons werksomgewing moet ons vra: is ons besig om te streef na die dinge wat vir God belangrik is.  Is ons besig met die dinge van die koninkryk van God? Ek besef dat die strewe na sukses en finansiele welvaart deel is van die besigheidswereld – maar dit bly dinge van die aarde. As hierdie ons fokus geraak het, moet ons dalk weer gaan dink oor ons roeping. Waarom werk ek in die eerste plek?  Strewe ek eerder om die koninkryk van God te laat kom as om net te jaag agter geld. 

Toe die Israeliete aangehou was as slawe in Egipte, was daar een vraag aan hulle gevra: Hoeveel stene het julle vandag gemaak?  Ongelukkig leef baie van ons vandag nog as slawe en al vraag wat ons hoor is: Hoeveel geld het jy vandag gemaak? Mag ons dit regkry om ons gedagtes te fokus op die dinge daarbo.

Vers 5 – 11
Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is.
Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is.
Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het.
Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie, en moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God.
Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Nadat die teks vir ons gesê het om te strewe na die dinge daarbo, gee dit ons voorbeelde van dinge waarmee hierdie nuwe lewe saam met Christus nie moet besig wees nie.  Die woord wat gebruik word is “doodmaak”. Dit moet afsterf.  Die skrywer gebruik doelbewus n sterk woord soos dood. Maw, die ou lewe en ou dinge moet letterlik doodgaan. En gedrag wat doodgaan kan nie weer terugkom nie.  Wanneer ons saam met Jesus sterf en opstaan as nuwe mense, dan draai ons ons lewens om en weg van die dinge waarmee ons vroeer besig was.   

Ons hoor hoe God dan sterk oordeel uitspreek oor hierdie tipe van gedrag.  Die Message vertaling gebruik die woord anger.
Baie keer het ons n prentjie van God wat nooit kan kwaad word nie – maar hier lees ons dat God wel kwaad kan raak, wel hartseer kan wees! En dit gebeur wanneer ons steeds vashou aan ons ou lewens.  Dit onstel God as ons terugkeer na die gedrag van vroeer!

Wanneer ons saam met Christus leef, dan kry ons die onderskeidingsvermoe om te kan weet van reg en verkeerd is.  En ek dink dit is veral wanneer ons weet waarmee ons besig is verkeerd is, maar steeds kies om voort te gaan daarmee, dat God kwaad raak…teleurgesteld is.  Die Message vertaling sê: But now you know better! Nou saam met Jesus, weet ons beter.

Die Message vertaling se dis soos om ou klere wat nie meer pas nie uit te trek en in die vuur te gooi. Hierdie klere/gedrag word verbrand en ons kan dit nie weer aantrek as ons gekies het om die baadjie van Christus aan te trek nie.

Kol 3 gee ook vir ons voorbeelde van hoe n gemeenskap lyk waar mense hierdie nuwe klere van Christus aangetrek het? Die skrywer gee vir ons n prentjie: Daar is nie meer skeiding of oordeel nie. Christus is nou alles en in almal.  Van die grootste skeidings in daardie tyd was bv. tussen Jood en Griek.  Maar nou sê die skrywer dat selfs daardie skeiding moet nie meer sigbaar wees nie. Al wat ons nou moet raaksien in Christus. Ons mag nie onderskeid tref tussen mense nie.  Hierdie is veral ook NB vir by ons werkplek.

Van nou af, sien ons almal as iemand in die beeld van God – en almal is ingesluit deur Christus.  Tussen watter groepe of klasse sien ons die meeste skeiding by die werk?  Wat wil Kol 3 ons kom leer oor hierdie skeidings.

Vers 12 – 17
Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees.
Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.
Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind.
En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar.
Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing.
En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Hoekom doen ons hierdie dinge? Hoekom leef ons hierdie nuwe lewe saam met Christus wat soms meer uitdagend is?

Die antwoord le vir my in vers 12. God het ons gekies (ons almal, sonder onderskeid)…nog selfs voordat ons Hom gekies het.  En Hy het ons baie lief! Wanneer ons hierdie lewe leef, dan doen ons dit uit die liefde van Christus.  Ons doen dit omdat ons weet Christus het ons gekies en is mal oor ons.  Vroeer het die teks gepraat oor dinge wat ons nie mag doen nie (ons is gewoonlik swak hiermee), maar nou vertel dit wat ons mag doen. Wat ons moet doen!

Maar die belangrikste van al hierdie dinge wat ons moet doen, sê vers 14 is dat ons mekaar sal liefhê.  Dit is die band wat ons as eenheid saambind. 

Kom ons dink aan ons werksplek: waar ons beter as groep/span saamwerk, is dit altyd beter.  Hierdie is amper waar vir enige situasie: sport, die kerk, huwelik ens.  Dit is bewys! EN al hoe ons beter as eenheid gaan kan saamwerk is as ons lief is vir mekaar. 

Verder vra dit dan ons in vrede sal leef/werk met mekaar en dat ons sal dankbaar wees.  Selfs by ons werk moet ons leer om in vrede met mekaar te wees. Ons moet dankbaar wees om te kan werk.  Selfs by ons werk moet ons alles tot eer van God doen. Alles!

Vrouens, wees aan julle mans onderdanig soos dit pas by mense wat in die Here glo.
Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie.
Kinders, wees in alles aan julle ouers gehoorsaam, want die Here verlang dit van kinders wat in Hom glo.
Vaders, moenie gedurig by julle kinders fout soek dat hulle moedeloos word nie.
Slawe, wees in alles gehoorsaam aan julle eienaars hier op aarde. Moenie net werk om deur hulle raakgesien te word en so in mense se guns te kom nie, maar werk met 'n opregte hart uit eerbied vir die Here.
Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,
omdat julle weet dat julle van die Here as beloning sal kry wat Hy belowe het. Christus is die Here in wie se diens julle staan.
Wie onreg doen, sal gestraf word oor die onreg wat hy gedoen het; die Here trek niemand voor nie.
Eienaars, behandel julle slawe reg en billik in die wete dat julle ook onder iemand staan, onder die Here in die hemel

Vanoggend se gedeelte sluit af moet voorbeelde van verskillende verhoudings en hoe hierdie verhoudings lyk nadt ons die nwue baadjie aangetrek het.  Ek wil graag net 3 punte hier uitlig.
1,  Wat ons okal doen – al is die soms moeilik en sleg – moet ons vir die Here doen. 
2.  Ons belonging is by God en nie by mense nie
3.  Ons moet ander – en in hierdie geval, ons werknemers – regverdig behandelik. 
Slot
Niks wat die teks vanoggend kom sê het is vreem of snaaks nie. Ons weet hierdie dinge. Ons as gelowiges weet wat die gedrag is wat van ons verwag word.  Maar tog sien ons so min hiervan in ons werkplekke. Ons hoor hoe mense op mekaar trap, ons hoor hoe besighede onderlangs konkel vir kontrakte, ons hoor van werkgewers wat sy/ haar werkers onmenslike ure laat werk, ons hoor van korrukpsie, belastingontduiking, ens ens. 

Dit is juis daarom dat ons nie genoeg hierdie woorde kan hoor nie! Dalk is dit nodig dat hierdie nie-so-vreemde gedagtes oorgaan in nie-so-vreemde gedrag.


No comments:

Post a Comment